Groot dele van die Wes-Kaap het op Woensdag, 10 Maart gebuk gegaan onder sterk wind, goeie reën en koue.

Volgens mnr. Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige dienste, het wynboere bontgestaan om veral wit druifkultivars te oes voor die reën uitgesak het. In die Paarl het dit sowat 63 mm gereën, terwyl Stellenbosch gemiddeld 50 mm gehad het.

“Mense het parsmasjiene bymekaar geleen en kontrakspanne ingekry om die druiwe betyds te oes.”

Parstyd is al sowat twee derdes voltooi.

Me. Annelie Viljoen, wingerdboukundige by Kanonkop, sê ná die reën is dit ’n kwessie van tyd voor die res van die oes deurloop onder botritis, suurvrot en selfs swartvrot. Veral kultivars met kompakte trosse, soos Pinotage en Merlot, loop gevaar. Idealgesproke sou hulle wind en sonnige weer wou hê om die wingerd af te droog, maar voorspellings dui op nóg reën in die komende dae.

“Reën laat gewoonlik ook die druiwe se suikervlakke met 2  ?B tot 3  ?B sak. Omdat die nagte koud is en die seisoen al gedraai het, twyfel ek of die suikers gaan herstel.”

Haar raad aan boere is om blokke waar die druiwe reeds ryp geure toon, te pars. Sy moedig boere ook aan om trossones oop te breek en middels teen vrot te spuit waar hulle kan.

Schutte sê die middels het minimum ’n sewe dae onthoudingsperiode, so is slegs geskik vir wingerdblokke wat nog minstens ’n week kan hang. Sy advies is dat boere hul hoër-waarde wingerde prioritiseer en die produkte gebruik waar hulle kan.

Hy het bygevoeg dat reën altyd ook voordele bring. 

“In wingerde waar boere reeds klaar geoes is, sal die reën die druk van die na-oesbesproeiingskedulering afhaal. Dis ook positief vir areas soos die Swartland waar dit begin droog raak het tydens die groeiseisoen.”

Rekordvrugte-oes nie erg geknou

Foto’s van pere wat in ’n boord op ‘n onbekende plaas in Grabouw afgewaai het, het die rondte gedoen op sosiale media, maar kenners het gewaarsku dat dit nie die verkeerde boodskap moet uitstuur nie.

Volgens mnr. Daan Brink, tegniese adviseur by Two-A-Day, het Forelle-pere, Golden Delicious-appels en vroeë Granny Smith-appels waarskynlik ’n bietjie windskade opgedoen in die EGVV-gebied (dit sluit Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom in).

Mnr. Keith Bradley, algemene bestuurder van Fruitways Agri Services, sê egter selfs op die plase waar daar baie skade was, sal verliese nie meer as 2% beloop nie.

“Ja, die Forelle-pere het pak gekry, maar dis ’n klein persentasie van die aanplantings in ons gebied en net ’n paar boorde was aan die wind blootgestel. Ten spyte van die ernstige windstorm het ons steeds meer as genoeg vrugte om topgehalte vrugte aan die markte te voorsien vir die res van die seisoen.”

grabouw vrugteskade
Volgens mnr. Daan Brink, tegniese adviseur by Two-A-Day, het Forelle-pere, Golden Delicious-appels en vroeë Granny Smith-appels waarskynlik ’n bietjie windskade opgedoen in die EGVV-gebied (dit sluit Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom in). Foto: Hortgro/Facebook
grabouw vrugteskade
Volgens mnr. Daan Brink, tegniese adviseur by Two-A-Day, het Forelle-pere, Golden Delicious-appels en vroeë Granny Smith-appels waarskynlik ’n bietjie windskade opgedoen in die EGVV-gebied (dit sluit Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom in). Foto: Hortgro/Facebook

In die EGVV-gebied het dit tussen 17 mm en 90 mm tussen Dinsdag- en Woensdagaand gereën. Dit het gepaard gegaan met sterk noordwestewinde.

Mnr. Jacques du Preez van Hortgro, het ook bevestig die skade sal nie ’n duik maak aan die rekord-vrugte-oes wat tans ingesamel word nie. Vrugte se gehalte, uitpakke, kleur en volumes is “uitstekend”.

“’n Mens moet nooit ondankbaar wees vir reën nie. Die voordele van die koue en die reën weeg swaarder as die nadele, want die vrugte sal nou beter kleur en die damme word ook aangevul.”

Ook in die Ceres-, Witzenberg- en Koue-Bokkeveldareas het goeie reën geval. Mnr. Heinie du Toit van Remhoogte Boerdery en voorsitter van die Koue-Bokkeveld Boerevereniging, sê dit het tussen 70 mm en 100 mm binne 24 uur gereën. Hy het reënvalsyfers van die afgelope 54 jaar. Die meeste reën wat nog in Maart aangeteken is, was in 1984, toe 108 mm gemeet is vir die maand.

“Ek dink nie daar was regtig skade nie. Die Golden Delicious-appels, wat sensitief is, loop die risiko om te kneus, so ons sal die volgende twee weke versigtig moet oes.”