Die nuwe kelder, wat altesaam 44 000 ton druiwe pars, sal een van die grootstes in die land wees.

“Om volhoubaar met wyndruiwe te boer moet ons, as die nuwe Roodezandt, die geleenthede aangryp wat ’n groter en meer gediversifiseerde wynmaatskappy bring,” sê mnr. Ben Kriel, voorsitter van die tussentydse Roodezandt-direksie.

Die nuwe eenheid se produksiemetodes sal meer vaartbelyn wees. Die samesmelting stel Roodesandt ook in staat om die kelder se portefeulje uit te brei om in wyer markbehoeftes te voldoen.

Verskeie wingerde in die gebied moes die afgelope paar jaar plek maak vir hoë-inkomstegewasse, soos sitrus. Volgens Kriel behoort die groter kelder sy boerelede te help om hoë insetkoste te stabiliseer. 

Roodezandt verwerk sowat 33 000 ton druiwe wat van 29 ledeprodusente af kom. Altesaam 19 lede lewer sowat 11 000 ton druiwe aan McGregor-kelder.

Mnr. Francois Naudé, voorsitter van die “ou” McGregorkelder se direksie, sê die kelders verskaf gehaltewyn in groot maat aan plaaslike en internasionale markte. “ ’n Mikro-kelder, soos die McGregor-perseel, sal binne hierdie groter opset gewis help met produkontwikkeling.”

Hy glo nuwe wynprojekte, bestuurservaring en blootstelling aan plaaslike en oorsese markte sal Roodezandt ’n dinamiese rol in die wynbedryf laat speel. Die grootste volume sal steeds as grootmaatwyn verkoop word. Bestaande handelsmerke sal uitgebrei word as dit waarde tot die besigheid toevoeg.

Die maatskappy sal in die tweede helfte van die jaar geregistreer word, maar die samesmelting is reeds op dreef. Vanjaar se druiwe sal gesamentlik gepars word. Daarna sal ’n nuwe direksie verkies word.

Mnr. Abé Rossouw, uitvoerende hoof en keldermeester van Roodezandt, sê die kelders sal sorg dat hul eie poele vir 2019 afgehandel en uitbetaal word. Gesamentlike poelreëlings sal van vanjaar af geld. 

Roodezandt is in 1953 gestig en McGregor se geskiedenis strek terug tot 1948.