Dít kan die rand met sowat R2 teenoor die dollar laat verswak.

“Moody’s het reeds gewaarsku as dinge nie beter lyk nie, sal ’n afgradering plaasvind,” het mnr. Isaac Matshego, ekonoom van Nedbank, tydens die Vinpro-inligtingsdag in Kaapstad gesê.

Volgens hom het die markte reeds begin gereed maak vir die afgradering en dit in hul berekeninge ingereken.

“Ons skat ons sal uitvloei van tussen $750 miljoen en $2 miljard sien. Dis nie so hoog as wat aanvanklik gevrees is nie, want internasionale fondsbestuurders het hulself reeds daarvoor geposisioneer.”

Hy het gesê die afgradering sal die rand onder druk plaas.

“Ons verwag ’n verswakking van miskien R2 teenoor die dollar, wat die wisselkoers op sowat R16 teenoor die dollar te staan sal bring. Dit sal dan stadig terugtrek. Dis ons verwagting, maar ons hoop dit gaan nie erger wees nie.”

Hy het beklemtoon dat Suid-Afrika goeie beleid oor veral grondbesit, die mynhandves en die Reserwebank dringend nodig het.

“Daar was optimisme nadat (pres. Cyril) Ramaphosa aan bewind gekom het, maar die spoed van verandering was nie waarvoor ons gehoop het nie. Die werklikheid is dat massiewe probleme die land in die gesig staar. Ramaforia het vinnig in ramarealiteit verander.”

Ekonomie krimp

Matshego het gesê die ekonomie het sedert 2014 teen 2% of minder per jaar gegroei. Dít terwyl die bevolking jaarliks met 3% gegroei het. Die ekonomie het dus eintlik gekrimp.

“Die lae vlak van beleggersvertroue het gelei tot geen beleggings deur die private sektor nie en dit het ’n ekonomiese verlangsaming veroorsaak. Ons beleef waarskynlik die langste verlangsaming in die geskiedenis van Suid-Afrika – al amper 72 maande. Dit bring stadige pyn en verwoesting.”

Verbruikers sal waarskynlik nie die ommekeer aandryf nie, want skuldvlakke én werkloosheid is te hoog. Die sakesektor is ook nie baie optimisties oor die land nie.

“Sakevertroue is terug op die vlakke van 1985, toe die land deur ernstige politieke onstabiliteit gegaan het.”

Regte beleid nodig

Matshego het Ramaphosa se beleggingskonferensies verwelkom, maar gemaan dat heelwat van die projekte wat daar aangekondig is, lank reeds beoog word en nie nuwe besteding is nie. Nuwe inisiatiewe vir kapitaalbesteding moet die lig sien.

“Net die regte beleid sal die private sektor aanmoedig om meer te belê. Die openbare sektore moet besteding besnoei weens die regering se swak finansiële posisie. Dis hoofsaaklik te wyte aan die toestand van ondernemings in staatsbesit, soos Eskom, die SAA, die SAUK en Denel.”

Matshego sê die omvang van korrupsie is nog nie heeltemal bekend nie.

“Die Zondo-kommisie lig ons in, maar ek het ’n slegte gevoel dat dit baie erger is as wat ons tot dusver uitgevind het. Op kort termyn is ons groeivooruitsigte hoogstens sywaarts. Ek sê dit met die hoop dat ons nie van nog skokkende plunderary uitvind nie.”

Hy voorspel dat ’n belastingverhoging Suid-Afrikaners se voorland is. Sy groeivooruitsig vir die ekonomie is 0,7% vir die jaar. Met beter beleid en die stabilisering van Eskom kan dit bo 1% wees.