Wat wil sy vorentoe bereik? “Baie! Ek wil nog graag wingerde hoog bo seevlak in Suid-Afrika plant, ek wil nuwe kultivars plant, ek wil nog baie oorsee gaan en meer leer. En ek wil baie graag betrokke wees by die opleiding van werkers. Ek wil doen wat ek nou doen, maar ek wil dit beter doen.”

Só gesels me. Rosa Kruger, selfopgeleide wingerdboukundige wat in haar twintig jaar in die bedryf vir groot omwentelings verantwoordelik was, oor ’n koppie tee by ’n Stellenbosse restaurant. Vir ’n rukkie sit nog ’n wynbedryf-kollega by ons. Hy het ook ’n afspraak met Rosa vir dieselfde tyd.

“Almal wil hulle altyd doodlag, maar ek doen altyd vyf dinge op dieselfde tyd,” sê sy vrolik, en gaan voort om my vrae in rekordtyd te antwoord. Sy is bekend in die bedryf vir haar bykans intuïtiewe aanvoeling vir die wingerdstok se behoeftes, maar ook as dryfkrag agter die Ou Wingerd-projek.

Sy konsulteer as wingerdboukundige vir bykans ál die rockster-wynmakers en is vroeër vanjaar welverdiend as Wynpersoonlikheid van die Jaar aangewys op die Internasionale Wyn- en Spiritualieë-kompetisie (IWSK) in Londen, Engeland.

Rosa (middel) met mnr. André Morgenthal van die Ou Wingerd-projek en me. Jo Wehring van Wosa. Rosa het die trofee ontvang vir Wynpersoonlikheid van die Jaar op die Internasionale Wyn- en Spiritualieë-kompetisie in Londen, Engeland.

“Ek dink nie noodwendig ek is so suksesvol nie. Glad nie. Ek het baie, baie foute gemaak en duur lesse geleer. Een ding wat ek jou wel kan sê, is dat ek die vermoë het om hard te werk en te konsentreer. Ek is ook nie getroud nie. Dit help natuurlik! Ek het een seun, maar hy het saam met my in die wingerde grootgeword en in die bakkie rondgery.

“Ek was ook baie bevoorreg. Ek het hulp gekry van almal. Almal was goed vir my,” vertel dié nasaat van oudpres. Paul Kruger. Haar grootwordjare was ver van enige wingerd af in die destydse Noord-Transvaal, langs die Krugerwildtuin, en ook later by die Hartbeespoortdam.

“Ek het op plase grootgeword, maar dit was baie afgeleë. My familie is óf boere óf prokureurs. Ek het eers joernalistiek studeer en daarna ’n LL.B. behaal. Toe het ek besluit ek wil nie in die stad woon nie. Ek het Kaap toe gekom, waar iemand wat ek geken het my gevra het om ’n appelplaas by Elgin te bestuur,” onthou sy. Op ’n dag in 1997, ná ’n misoes, hou ’n buurman by haar stil.

“Hy was so ’n swanky ou, met lang hare. Toe vra hy my hoekom ek nie wingerd plant nie? Ek het onmiddellik begin navorsing doen, want ek was nog altyd gek na wyn.” Daardie dag is ’n ster vir die wynbedryf gebore.

“Ek het (prof.) Eben Archer en Dawid Saayman by die universiteit (in Stellenbosch) gaan sien. Hulle sê toe hulle wag al jare dat iemand aan daai kant van Elgin (regs van die N2 as ’n mens in Caledon se rigting ry) wingerd plant. Ek het Sauvignon blanc geplant, en dit was toevallig ’n sukses. Almal het daarvan te hore gekom en toe hulle die wyn proe, was hulle dol daaroor. Ons het ’n klomp pryse daarmee gewen,” vertel Rosa, wat ook ’n tyd lank op ’n familielid se plaas in die Vrystaat met turksvye geboer het.

“Ek het mal goed gedoen. Mal, mal, mal! Ek was op my dag ook verpleegster omdat ek my studie self moes betaal. Hulle het my weggejaag, want ek het heeltyd gehuil. Elke keer as iemand doodgaan of sê hy kry seer, het ek gehuil. Ek was ’n swak verpleegster. Ek het nét so ’n klein hartjie, maar in wingerdbou het dit vir my gewerk. Ook omdat ek hulp gekry het van so baie mense.

“Ek was baie bevoorreg om met die beste mense in die bedryf te werk. Eben en Dawid het my eerste geleer, toe ek níks geweet het nie.

“Oor die jare was mense soos Francois Viljoen, Neil Rossouw, Piet Fourie, Piet van der Merwe, Nico Spreeth, Johan Viljoen, Eddie Buxman en my swaer Hennie Saayman ontsettend goeie leermeesters . . . ’n klomp mense wat net gesien het ek weet niks en my jammer gekry het.”

Haar akademiese agtergrond in die joernalistiek en regte het Rosa geleer dat ’n mens nooit alles kan weet nie. “Jy is maar net ’n nederige student, veral as jy met die natuur werk.” Hier is sy saam met wynmaker mnr. Eben Sadie en die wynboer mnr. Jozua Visser in ’n ou wingerd wat teen die Skurfberg groei.

HAAR GROOTSTE LEERMEESTER

Nadat Rosa verskeie wingerde by Elgin gevestig het, het sy die Stellenbosse wynplaas Uva Mira bestuur en toe by Cape Point Vineyards gaan werk. Daarna het sewe jaar op L’Ormarins gevolg. Tussendeur het sy die wêreld platgereis om topwingerde te besoek.

“Ek het baie kere sommer letterlik net duimgegooi. Ek het met treine gery en deur wingerde geloop, honderde kilometer net geloop en geloop. Reis was my grootste leermeester. Ek het die héle, héle wêreld deur gereis om te sien hoe ’n wingerd wat goeie wyn maak, moet lyk. Die grootste les wat ek geleer het? Jy moet in die wingerd wees. Jy kan nie agter ’n lessenaar sit nie. Dis spore in die wingerd. Ek leef dit elke dag.”

Telkens het sy ná haar omswerwinge teruggekeer na Suid-Afrika met sy uiteenlopende wynstreke. “Ons wingerde is baie opwindender. Van Stellenbosch tot die Swartland is twee verskillende terroirs. En daar is so ’n groot gaping om dinge hier te verbeter. In Bordeaux is alles al gedoen; hulle kan hier en daar miskien ’n bietjie tweak.

“In Suid-Afrika het ons egter in die verlede vir volume geboer, en nou maak ons skielik wyne wat op dieselfde verhoog kan staan as die bestes ter wêreld. Daar is dus verskriklik baie geleenthede hier vir wingerdbouers. Maar ongelukkig is van ons beste wingerdbouers landuit, want wingerdbouers word nie betaal in hierdie land nie.”

LEI WINGERDBOUERS BETER OP

Die gebrek aan opleiding vir wingerdwerkers en plaasbestuurders pla haar oneindig baie. “Onthou, voor 1994 het werkers op die plase gebly, en daar was ’n plaaskultuur. Daarna het baie plaaswerkers op dorpe en stede gaan bly. Daarmee saam is die wingerdkultuur vernietig. Baie van die ou wingerdbouers het op die dorpe gaan woon, en hul kinders het ander dinge begin doen.

“Hulle het totaal vervreemd geraak van die landbou. Dit is ’n enorme probleem. Baie plase word vandag bedryf deur kontrakteurs; mense wat nie opgelei is nie. Ek dink daar is ’n reuse-behoefte aan die opleiding van plaaswerkers in die land. Daar word baie gedoen, maar nog nie genoeg nie.”

Is daar spesifieke leemtes wat sy wil uitlig?

“Alles wat wingerdbou betref. Ek werk met mense wat nog nóóit ’n snoeiskêr in hul hand vasgehou het nie. Nou moet hulle ’n wingerd snoei waarvan die wyn R700 per bottel werd is. Dis tog onmoontlik! Ons het ’n fantastiese bedryf. As gevolg van ’n klomp redes is ons nou op die hoogste punt wat ons nóg was. En al hoe ons gaan vorder, is as ons ons wingerdbou verbeter.”

Sy beklemtoon hoe belangrik dit is om die basiese dinge reg te kry. “Mense besef stadig maar seker – maar nog te min – dat ons virusvry moet wees. Ons móét. Dis ook belangrik vir die toekoms dat ons baie meer omgewingsbewus moet boer. Ons kan nie aanhou met onkruiddoders, plaagdoders en insekdoders soos tans nie. Klimaatsverandering is met ons. Ons sal slimmer moet boer en die grond baie beter moet oppas. Grond is nie net die medium nie; die grond gee die siel van die wyn.”

Sy dink ook die Suid-Afrikaanse bedryf het nog baie te leer oor die begrip terroir. “Ons het baie verskillende terroirs en geleenthede, maar ons plant nog steeds Cabernet Sauvignon, Merlot, Shiraz en Riesling op dieselfde plaas! Dit kan mos nie werk nie!” Tog is Suid-Afrikaanse wyn tans die beste wat dit nóg was?

“Daar het die afgelope tien, twintig jaar ’n paar dinge gebeur. Ons wynmakers het begin oorsee gaan en tegnieke gaan leer. Die feit dat Suid-Afrika in 1994 ’n nuwe regering gekry het, het baie gehelp om die land se wyn oorsee te versprei. Die Ou Wingerd-projek het ook baie gehelp. Dit het wyn van ongelooflike gehalte op die tafel gesit. Dit het mense se aandag getrek, en mense soos Jancis Robinson en Tim Atkin het hierheen gekom. Nog iets belangriks is die moeite wat mense doen om virusse uit te roei.”

NUWE KULTIVARS EN METODES

Rosa was ook een van die eerstes om met onbekende kultivars soos Roussanne, Marsanne en Macabeo te begin eksperimenteer.

“Ek het jare gelede met Vititec begin saamwerk om nuwe kultivars en klone in te voer. Ek dink daar is hoër geleë plekke wat baie winderig is waar ons nie nou kan plant nie, maar dalk kan ons Assyrtiko daar plant, wat in Santorini (Griekeland) groei teen die hellings van die berge waar die wind hulle uit hul nate waai.

“Ook nuwe klone, soos die Grenache-klone wat ons nou invoer, dra by tot die kompleksiteit van hierdie kultivar. Iets soos Macabeo (Viura) is in Rioja (Spanje) ’n massadraer. Dit kan fantasties wees in ’n versnit saam met byvoorbeeld Chenin blanc, én dit kan vir die boere geld in die sak bring. Wat is uiteindelik die belangrikste ding? Die plaas moet geld maak. As die somme klop, gaan dit ons wingerdboere op die plaas hou.”

Sy kan nie ’n gunsteling-wynstreek in Suid-Afrika uitsonder nie. Daarvoor is sy te lief vir Cabernet Sauvignon en Merlot van Stellenbosch of Syrah en Chenin blanc van die Swartland. Wat haar hart wel vinniger laat klop, is die nuwe plekke en baanbrekerstegnieke waarmee hulle wingerd plant.

“Ons plant met aardverwarming in gedagte. Aardverwarming gaan vir ons pakslae gee in die toekoms. Ons moet dus daarvoor beplan. Ons plant nou só dat die grond meer water vashou, dat daar meer plek vir insekte en klein diertjies in die wingerd is (sonder om die wingerd te benadeel) en dat elke druppel water wat op daai plaas val in ’n dam kom. Dit moenie wegvloei nie.

“Ek dink erosie en grondverdigting is groot probleme in Suid-Afrikaanse wingerde omdat party wingerde nie reg ontwerp is nie. Ons kan baie nader aan die natuur lewe, ontwerp en boer. En dit tot groot voordeel, want as die grond gesond is en jy gee uitdrukking daaraan, sal jy beter wyn maak. Ons kan nie meer volgens ’n resep met wingerd boer nie. Ek dink oor twintig, dertig jaar gaan ons wingerde baie natuurliker wees.”

Nuwe tegnologie, soos hommeltuie en NDVI-beelde, het ’n belangrike rol in die bedryf se toekoms, maar Rosa glo ’n mens kan nie daarmee boer en glo dis jou finale antwoord nie. “Al hierdie dinge is nét instrumente. Die belangrikste instrument wat jy steeds het, is jou oë. Lóóp in die wingerd. Ons almal belê deesdae in tegnologie, maar ons mense is nie opgelei om te snoei nie. Wat help dit? Wat is die goue reël in wingerdbou? Doen net eers die basiese dinge perfek, en jy is 99% daar.”

Rosa het al sowat 3 000 ha wingerde ouer as 35 jaar in die Suid-Afrikaanse wynbedryf geïdentifiseer. Druiwe uit hierdie wingerde verkoop teen goeie pryse, wat gunstig is vir die bedryf. Die wyne trek egter ook internasionaal aandag. Boonop leer die bedryf baie oor wingerdbou deur die ou wingerde te bestudeer.

BEKORING MET OU WINGERDE

Haar bekoring met ou wingerde het gelei tot die Ou Wingerd-projek, een van die belangrikste inisiatiewe in die onlangse geskiedenis van die bedryf.

“Ek was in Alsace (Frankryk) by Domaine Paul Blanck en hulle het sulke ou Riesling-wingerde gehad wat vir my so mooi was. Daarna het ek na Château de Beaucastel in die suide van Frankryk gegaan en hulle ouwingerd-Roussanne geproe. Toe kom ek agter die ou wingerde maak beter wyn.

“In Europa is dit alombekend, maar in Suid- Afrika het ons toe nie eens geweet waar al ons ou wingerde was nie.” Sy het teruggekom en naarstigtelik die ou wingerde (die Suid-Afrikaanse definisie is 35 jaar of ouer) begin dokumenteer.

Mettertyd kon sy by die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) ’n lys in die hande kry waarop die grootjies van die bedryf verskyn. Deesdae weet hulle al van sowat 3 000 ha van dié spesiale wingerde.

“Dit was so lekker. Dis regtig ’n projek uit die grond uit. Ek het destyds vir L’Ormarins en vir Eben Sadie druiwe gegee van een ou wingerd wat op die Skurfberg groei. En toe is die wyn verstommend goed. Ek het dit oorsee gaan wys. Die internasionale wyn- skrywers, soos Jancis, was heeltemal verstom toe hulle dit proe.”

Buiten dat hierdie wyne aan die res van die wêreld wys dat Suid-Afrika meer as net cheap and cheerfuls kan maak, het dit ook ’n merkbare verskil aan die wynbedryf se inkomste gemaak.

“Wat my baie trots maak, is dat van daardie boere hul plase sou verloor, maar vandag nog daar is omdat hulle ou wingerde het waarvan hulle die druiwe teen hoë pryse kan verkoop. Een boer het vir my gesê danksy die ou wingerde kan hy sy kinders universiteit toe stuur.

“As ek eendag hoor dat ’n boer vanweë die projek sy mense beter kan betaal of vir hulle beter huise kan gee, sal dit vir my die beste wees. Die Ou Wingerd-projek het ’n enorme uitwerking gehad, want almal het skielik besef ‘My hemel, ons word te min betaal vir ons druiwe. Ons kan nie meer boer op die plaas nie.’ Die projek het baie beter gevaar as wat ek voorsien het.”

Nog waarde wat die projek bied, is insig oor die verouderingsproses van wingerd.

“Hoekom het ’n wingerd oud geword? En hoe? Watter faktore het daartoe bygedra dat hy oud geword het? Hoe lyk ’n wingerd van 20 jaar, 40 jaar, 50 jaar? Almal sê grondvoorbereiding is so belangrik, en ek glo dit, maar die meeste van die ou wingerde is met ’n perd en ’n ploeg geplant. Wat is dit dan wat hulle so suksesvol maak? Ons weet nie!

“Ek het nou ’n 118-jarige Cinsault-wingerd wat verlede jaar 4 t/ha gelewer het, en ek het ’n wingerd van 80 jaar oud wat 10 t/ha lewer. Ons behaal groot sukses met die wingerde deur sekere snoei- en boerderytegnieke, maar dit leer ons ook wat om te doen met jong wingerde. Die Ou Wingerd-projek gaan nie net oor wingerdstokke van die verlede nie, maar ook oor wingerde van die toekoms. As ons wingerde se lewensduur kan verleng, gaan dit meer lewensvatbaar raak en gaan ons die gehalte verdubbel.”

Sy benadruk dat die projek, met mnr. André Morgenthal aan die stuur, nooit so ver sou vorder as dit nie vir dr. Johann Rupert se finansiële bystand was nie. Haar vermoë om oplossings te vind, is een van haar sterk punte.

“Die feit dat ek regte studeer het, help my elke dag. Dit leer jou op ’n sekere manier dink; om vinnig by ’n antwoord uit te kom. Jy sien ’n probleem en kan ’n denkproses volg om by die antwoord te kom.” Toe sy by die IWSK vereer is, het sy nie eintlik geweet waaroor dit gaan nie.

“Natuurlik was dit ’n voorreg, maar dit sal vir my baie beteken as die prys Suid-Afrika se wingerdbou en die mense in die wingerd kan help. “Dit gaan nie oor my nie. Ek is mos ryk genoeg. Ek het my gesondheid, ek bly in ’n lekker huis, ek het genoeg kos om te eet, en elke wingerd waarmee ek al geboer het, het ek in my kop besit.”


© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.