Mnr. Ferdie Botha, uitvoerende hoof van Raisins SA, sê vanjaar is net meer as 85 000 ton rosyne gelewer ná vier agtereenvolgende goeie produksiejare. Sowat 90% van die land se rosyne is uit die Oranjeriviergebied van die Noord-Kaap afkomstig, met die bykomende produksie uit die Olifantsriviergebied.

“Die bedryf het oor die verloop van ’n dekade sy produksie verdubbel ná die nederige 45 000 ton in 2010-’11-seisoen,” sê hy. “Dit kan toegeskryf word aan die toename van die verskepingsvolume wat jaar op jaar na die grootste markte toegeneem. Sowat 85% van die Suid-Afrikaanse produksie word hoofsaaklik na Duitsland, Nederland en Frankryk uitgevoer.”

Raisins SA het onlangs die verbruik daarvan in Brittanje bevorder. Brittanje is die land wat as die grootste invoerder van droëvrugte bekend staan.

Suid-Afrikaanse goue rosyntjies is veral gesog in Noord-Afrika, asook Noord-Amerika.

Volgens Botha keer verbruikers terug na noodsaakliker produkte soos rosyne in hulle dieet, ’n nie-bederfbare produk wat oor ’n langer rakleeftyd beskik, waarde vir geld bied en terselfdertyd ’n gesonde produk is.

“Die produksie by die plaashek eindig gewoonlik in Maart en April, wat beteken dat die produk voor die inperkingstyd vanjaar ingelewer is, wat die verpakkers 10 tot 12 maande gee om die verwerking af te handel voordat dit oor die wêreld heen verskeep word,” sê hy.

Verpakkings van 12,5 kg word vir die uitvoermark bestem teen die huidige internasionaal gekoppelde prys van $1 800/ton.