Tog meen mnr. Ferdie Botha, hoofbestuurder van die Rosyne Suid-Afrika, dat ’n sterk uitvoermark en ’n groei in geprojekteerde produksie dit steeds ’n aanloklike bedryf maak.

Botha het tydens ’n voorlegging van Rosyne Suid-Afrika gesê die land is die wêreld se vyfde grootste produsent van rosyntjies en produseer rosyne in alle droëdruif-produkkategorieë, insluitend Thomson, Golden, Flame en Sultana-kultivars, asook korente. “Trouens, Suid-Afrika is naas Griekeland die grootste produsent van korente ter wêreld.”

Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika normaalweg rondom 85 000 ton rosyne, oftewel 6% van die wêreld se produksie lewer. Die huidige seisoen, wat ’n allegaartjie van bykans perfekte weersomstandighede tesame met skade-veroorsakende koue en reën gelewer het, het egter daartoe gelei dat huidige oesskattings op rondom 65 000 ton tot 70 000 ton staan.

“Ons het goeie koue gedurende die winter gehad, maar ook rypskok in September 2020, wat nie gewens was nie, gevolg deur ’n bykans perfekte lenteseisoen met die druiwe wat teen Oktober en November begin afspeen het. Die eerste reën het reeds in Desember voorgekom, maar skade was beperk. Januarie se langer reënweke het egter meer skade veroorsaak, veral aan Sultana-druiwe. Dit het ook meegebring dat produsente nie toegang tot eilande in die Oranjerivier, wat in vloed was, gehad het om druiwe op die regte tyd te pluk nie. Intussen het die groot Amerikaanse mark gesteier onder ’n vermindering in oes vanaf 230 000 ton tot 180 000 ton, terwyl Chili soortgelyke skade as Suid-Afrika gesien het, met 20% tot 25% skade – alles faktore wat die prys van rosyne natuurlik kan opstoot,” het Botha gesê.

Uitvoer bly blink

Die plaaslike rosynbedryf het oor die afgelope eeu naam gemaak as produsent van gehalte en 90% van die droëdruiweprodukte wat in Suid-Afrika geproduseer word, word uitgevoer. “Die Europese mark neem sowat 50% van die uitvoer op, gevolg deur Amerika (16%) en Brittanje (9%). Die ronsynbedryf is ’n uiters lewensvatbare een en skep rondom 30 000 heeltydse werksgeleenthede. Boonop groei die bedryf baie mooi met produksie wat vanaf agt jaar gelede se 40 000 ton tot rondom 70 000 ton gegroei het. Die Suid-Afrikaanse bedryf groei sterk en met nuwe uitbreidings en herkapitalisasie om die verskaffingsbasis verder te vergroot, word produksie oor die komende paar jaar op 100 000 ton geprojekteer.”