Ongeveer 90% van Suid-Afrikaanse rosyne word in die Noord-Kaap geproduseer. Om hierdie rede het die bedryfsliggaam, Raisin South Africa (Raisin SA), wat hierdie produsente verteenwoordig, besluit om nader aan produsente te beweeg. Die organisasie, wat voorheen bekend was as Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD), se kantoor is sedert verlede November in Upington.

Suid-Afrikaanse se rosynproduksie verteenwoordig minder as 5% van die wêreldwye produksie, maar verteenwoordig bykans 40% van die Suidelike Halfrond se produksie. Suid-Afrika voer ’n derde van alle goue rosyne ter wêreld uit. Die plaaslike bedryf ding mee in ’n hoëwaardemark en produseer ’n produk van goeie gehalte wat internasionaal in aanvraag is.

Mnr. Ferdie Botha, hoofbestuurder van Raisin SA, is een van die voorrangsake wat die organisasie geïdentifiseer het, om die aansien van plaaslike rosyne wêreldwyd selfs verder te verbeter. “As ons kyk na die totale uitvoer van alle produksielande, het ons ’n markaandeel van ongeveer 10% van die wêreldwye uitvoer. Ten opsigte van goue rosyntjies het ons ’n 30%-markaandeel. Gegewe die verwagte groei in volume vir die toekoms, ondersoek ons tans ’n geleentheid vir ’n generiese promosieveldtog internasionaal.

Goeie gehalte is goud werd

“Die gehalte van ons produk is uiters belangrik om ons te onderskei van ander groot produksielande, veral Turkye. Voedselveiligheid is ononderhandelbaar in enige hoëwaardemark, soos die een waarin ons meeding. Om hierdie redes is daar tans ’n sterk veldtog, met die samewerking van die raad van toesig op die uitvoer van bederfbare produkte (PPECB), om te verseker dat ons droogbaangeriewe voldoen aan die internasionale vereistes. Daar is altyd toenemende druk om hierop te verbeter. Soos in ander vrugtebedrywe is aspekte soos etiese handel en die sosiale verantwoordelikheid van uitvoerders en produsente iets wat belangriker sal word in die toekoms.”

Die bedryf ervaar bestendige groei oor die afgelope dekade en die vooruitsigte is dat die bedryf met tot 15% oor die volgende drie jaar kan groei. Botha verwag dat die bedryf teen 2022 sowat 80 000 ton rosyne sal kan produseer. Dit is 13 000 ton, oftewel 19,4%, meer as die 67 000 ton wat Raisins SA verwag om vanjaar te oes.

Bou voort op huidige fondasie

DTD is in 1997 gestig. Die proses om DTD te herstruktureer tot Raisin SA het twee jaar geduur. “Ons bou dus voort op die grondslag wat oor die afgelope 20 jaar gelê is, met die samewerking van ander bedryfsorganisasies soos Hortgro.

Inligting en kommunikasie bly ’n sleutelaksie en daar word probeer om tegnologie- en inligtingsoordrag so doeltreffend moontlik te doen. As voorbeeld bemiddel ons ’n gesprek oor plantmateriaal op 5 Junie 2019, waar verskeie belanghebbendes inligting kom oordra aan ons produsentelede en ook om van die probleme aan verskeie partye te bespreek,” sê Botha.

Navorsing van kultivars en onderstamme, produksiemetodes en kostestrukture van produksie is ook voorrangsake vir die organisasie.

Die transformasie van die bedryf is ook belangrik. Met die samewerking van die Jobs Funds was die organisasie betrokke by ’n ontwikkeling van 200 ha by Eksteenskuil in die Noord-Kaap, waar ongeveer 50 opkomende produsente ondersteun is. Raisin SA is ’n produsent-ondersteunde liggaam en word gefinansier deur statutêre heffings wat deur produsente betaal word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.