Die agentskap het die prestasie bereik onder die leiding van mnr. Luan Wentzel, besturende direkteur van die RSA Tshwane-markagentskap. Wentzel het die moeite gedoen om hierdie sertifisering te verdien met die produsent én die koper in gedagte.

“Produsente moet aan baie hoë standaarde voldoen soos Global GAP en vele ander minimum-vereiste-oudits. Ons sien onsself as ’n verlengstuk van die harde werk en moeite wat die produsente doen om gehalteprodukte te lewer. Hierdie oudits is dus vir ons ’n goeie maatstaf om seker te wees ons komplementeer die moeite wat die boere doen, en skep kontinuïteit in die gehalte van produkte wat hulle by ons lewer.

“Terselfdertyd wil ons die kopers gerusstel dat ons hul veiligheid en gesondheid respekteer.”

Higiëne is noodsaaklik

Wentzel sê die Covid-19-pandemie het almal hiperbewus gemaak van die noodsaaklikheid van goeie higiëne, hoe vinnig dinge kan skeefloop as dit nie gerespekteer word nie en hoe omvangryk die gevolge kan wees. “Met hierdie oudit en akkreditasie kan ons dus ons kopers gerusstel.”

Dié sertifisering is geldig tot Januarie 2022 wanneer die markagentskap weer geoudit sal word. Die akkreditasie wat aan RSA Tshwane toegeken is, is gegrond op ’n voedselveiligheidbestuurstelsel. Hierdie stelsel het meer as 20 kriteria waaraan die aansoeker moet voldoen.

Die aansoeker moet onder meer ’n voedselveiligheidbeleid hê met doelwitte vir die verbetering van die huidige voedselveiligheidstatus. Dit vereis ook dat die beleid deurgevoer word van topbestuur tot by algemene werkers en alle stappe en vordering in ooreenstemming met hierdie beleid moet gedokumenteer word.

Wentzel erken dat dit baie toewyding verg om aan hierdie vereistes te voldoen, maar hy glo die waarde is vanselfsprekend. “Buiten die waarde wat ons aan ons produsente en kopers kan toevoeg, skep ons ook ’n bewustheid en kultuur van respek in ons eie besigheid.”