Volgens mnr. Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van die RSA Groep, was die meer as 340 palette se vars produkte wat op die eerste dag van verhandeling verkoop is, vergelykbaar met enige ander Vrydag op ’n streeksmark. “Dit was nog nie naby die verkope wat ons op die RSA Groep se vloere op Tshwane-mark op ’n Vrydag sou kon vermag nie, maar dit was ’n uitstekende begin. Ons is baie tevrede.”

Met die samewerking van Freshlinq, die maatskappy wat die verkope-administrasie op munisipale markte moontlik maak, kon RSA die deursigtigheid van die markstelsel op hierdie perseel verseker.

“Die sukses van hierdie perseel bewys die werklikheid dat die munisipale markte nie die enigste plek is wat die prysbepalingsmeganisme van die varsproduktemarkte kan vervul nie. Dit kan in enige fisieke of aanlyn omgewing gebeur. Dit is ’n uitstekende stelsel wat intydse deursigtigheid waarborg en ons in staat stel om produkte vinnig te skuif.”

Oosthuizen glo egter nie dat die opening van ’n mark, soortgelyk aan ’n streeksmark, op die voorstoep van die Tshwane-mark die einde van die munisipale markte beteken nie. “ ’n Groot argument is die onbekostigbaarheid van die kapitaaluitleg. ’n Perseel gelykstaande aan die Tshwane-mark sal van R500 miljoen tot R750 miljoen kos. Ons kan nie dit bekostig nie.”

rsa groep, vars produkte
Hoewel die mark nog nie verkoelings- of rypmaakgeriewe het nie, was ’n wye verskeidenheid vrugte en groente beskikbaar. Foto: Verskaf
rsa groep, vars produkte,
Volgens mnr. Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van die RSA Groep, bevestig hierdie splinternuwe perseel die krag van ’n goeie handelsmerk. “Verskeie onbekende kopers het opgedaag en hulle was opgewonde om die gevestigde handelsmerke te sien.” Foto: Verskaf

Tshwane en Midrand sal oop bly

Die perseel, wat RSA huur, is ’n tyd gelede deur die RSA Groep gekies as ’n moontlike alternatief as daar iets by Tshwane-mark fout gaan. Oosthuizen het egter reeds besluit dat RSA sal voortgaan om die perseel in Midrand te gebruik al heropen die Tswane-mark weer. “Ons sien ’n geleentheid hier. Die perseel is uitstekend geleë reg in die middel van ’n ontwikkelende buurt in Midrand en tussen twee groot informele nedersettings.”

Ongeag hierdie geleentheid in Midrand en die mate waartoe die aanlyn ekonomie dit toenemend geriefliker maak om sonder fisieke persele transaksies te doen en doeltreffende logistiek te reël, glo Oosthuizen nie dat dit die einde van varsproduktemarkte inlui nie. Hy het die versekering gegee dat RSA nie van plan is om weg te stap van die Tshwane-mark nie.

“In 25 jaar het die Johannesburg-varsproduktemark reeds 28 uitvoerende hoofde gehad. Dit is regtig moeilike besighede om te bestuur, maar steeds bly die markte relevant en ondersteun boere en kopers dit. Ek glo die enigste manier hoe die mark in onbruik sal verval, is as die waarde wat dit aan produsente bied, vernietig word. Hierdie waarde is die funksionele infrastruktuur wat dit beskikbaar maak en onderhou. Die huidige toestand op veral die Tshwane-mark is vir ons dus ’n groot bron van kommer.”