Die organisasie is in Oktober 2019 gestig. Suid-Afrika se Sitruskwekersvereniging en Ailimpo, Spanje se suurlemoen-en-pomelobedryfsorganisasie, het die leidende rol vervul met dié stigting. Leiers van dié twee lande is tydens die organisasie se eerste vergadering tot medevoorsitters verkies.

“Die WSO se mikpunt is om markaandeel wat deur ander georganiseerde varsproduktesektore geneem is, terug te eis – hetsy dit vars of verwerk is,” sê Chadwick.

Dit is die eerste globale platform vir sitrus. Die organisasie se mikpunt is om koördinering, dialoog en samewerking tussen sitrusproduserende lande te verbeter.Die lidlande sluit 70% van die sitrusproduserende lande in. Argentinië, Bolivia, Brasilië, Chili, Dominikaanse Republiek, Egipte, Frankryk, Israel, Italië, Marokko, Peru, Spanje, Suid-Afrika, Tunisië, Turkye, Uruguay en Amerika het reeds aangesluit.

Chadwick het ander sitrusproduserende lande genooi om by die organisasie aan te sluit, terwyl private entiteite in die markte vir vars en verwerkte produkte as geaffilieerde lede kan aansluit.

  • Die organisasie se mandaat sluit die volgende in:
  • Die bespreking van gemeenskaplike kwessies wat sitrusproduserende lande beïnvloed.
  • Die uitruil van inligting oor produksie- en markneigings ter voorbereiding op die dekade tot 2030.
  • Die bevordering van dialoog oor beleidsaangeleenthede van gemeenskaplike belang.
  • Die bevordering van navorsing en innovasieprojekte wat spesifiek die sitrusbedryf raak.
  • Skakeling met openbare en private belanghebbendes oor sitrusverwante sake om die belange van sitrusprodusente te bevorder en ’n regverdige inkomste te verseker.
  • Die bevordering van die globale verbruik van sitrus.

Freshfel Europa, die Europese varsproduktevereniging, sal verantwoordelik wees vir die koördinering en administrasie van die WSO en die Franse landbounavorsingsentrum vir internasionale ontwikkeling (Cirad) sal verantwoordelik wees vir markontleding en raad oor neigings vir die globale sitrusbedryf. Die organisasie sal die seisoen reeds begin om produksie- en bemarkingsdata van die bedryf in te samel.

’n Wêreldsitruskonferensie aan die einde van 2020 of die begin van 2021 word beoog.Suid-Afrika is tans die tweede grootste uitvoerder van sitrus. Die afgelope dekade is ’n aansienlike toename waargeneem met uitvoervolumes wat tot 2 miljoen ton verdubbel het. In 2019 is ongeveer 126 miljoen kartonhouers vrugte na meer as 100 lande uitgevoer.