Om na organiese boerderypraktyke oor te skakel, moet ’n produsent eintlik strenger bestuur as vantevore toepas. “Dit is ’n proses. Jy kan nie net ophou spuit en verwag jou druiwe gaan meer geld verdien nie,” het dr. Edo Heyns, strategiese ontwikkelings-en-bemarkingsbestuurder vir Advini in Suid-Afrika, op Vinpro se streeksinligtingsdag vir die Wellington- en Paarlstreek, gesê.

Volgens hom wen organiese en biodinamiese wyne oorsee veld. Verbruik groei sedert 2012 met dubbelsyfers, veral in Europa, wat Suid-Afrika se belangrikste wynmark is. Dié wyne is ook toenemend in die duurder pryskategorieë. In Amerika is die prys vir ’n bottel organiese wyn gemiddeld 48% duurder as konvensioneles.

Heyns het gemaan Suid-Afrikaanse produsente moet aandag gee hieraan terwyl dit nog nie deur die mark voorgeskryf word nie. “ ’n Weglaatbare klein deeltjie van Suid-Afrikaanse wingerd is organies of biodinamies. Dis kommerwekkend, veral indien die markte hierdie produksiepraktyke gaan begin voorskryf, want dan gaan die bedryf diep in die moeilikheid wees.”

Volgens hom is Italië die wêreldleier wat organiese en biodinamiese wynproduksie betref, gevolg deur Spanje en Frankryk. Die doelwit van die Nieu-Seelandse wynbedryf is om teen 2022 sowat 20% van sy wingerde as organies te verklaar.

“Suid-Afrika is dus ver agter sowel die Ou as die Nuwe Wêreld. As Suid-Afrika waardegroei in sy grootste mark verwag, behoort organiese produksie voorop in almal se gedagtes te wees. Ons moet waak daarteen dat ons nie die kans verspeel en dan skielik moet aanpassings maak wanneer dit voorgeskryf word nie.”

Dr. Edo Heyns, strategiese ontwikkelings- en-bemarkingsbestuurder vir Advini in Suid-Afrika, saam met sy seuntjie, Eben (2), op Oudeberg. Dis sy ouers se kleinhoewe buite Stellenbosch, waar hulle 5 ha bio­dinamiese wingerd verbou.

’n Unieke verkoopspunt

Advini is die derde grootste wynprodusent in Frankryk. Heelwat van sy wingerde groei in die suide van Frankryk, waar die wynstreke minder internasionale aanhang as Boergondië of Bordeaux geniet.

“Die maatskappy moes ’n manier vind om in Lanquedoc en Rousillon waarde te skep. Hy moes iets spesiaals doen, en een van die maniere was deur organiese produksie. Die moedermaatskappy verwag van ons om dieselfde model in Suid-Afrika te dupliseer, want in Suid-Afrika is die bedryf in dieselfde posisie: Ons moet waarde skep, daarom is organiese en biodinamiese produksie belangrik.”

Die Covid-19-pandemie kan waarskynlik ook die belangrikheid van groener wyne in die kalklig plaas. “Organiese wyn verdien oor die algemeen hoër pryse, en die gesofistikeerde verbruiker wat dit koop, sal waarskynlik minder geraak word deur kostedruk. Verbruikers se neiging om nader aan boere en die oorsprong van hul kos te kom, spoel ook na wyn toe oor – iets wat in organiese wyn se guns tel. Die pandemie sal waarskynlik sterker klem op die omgewingsvriendelike, gesonder wyn plaas.”

Prepa­rate is ’n belang­rike deel van biodinamika. Foto: ADVINI

SA die agteros

Heyns meen die Suid-Afrikaanse bedryf is ’n agteros wanneer dit by groener produksiepraktyke kom weens finansiële druk en ’n oormaat oudits. “Produsente lei aan ouditoordosis en sien nie kans om nog deur ’n organiese oudit ook te gaan nie. Die subsidies wat produsente in die Europese Unie ontvang, is ook ’n sterk oorweging om die groen roete in te slaan.

“As jy die besluit neem om organies te boer, moet jy ’n risiko-oorweging doen, want daar is ’n groter kans dat jy aanvanklik laer oeste, of selfs misoeste, kan hê. Siektes kan ’n sterker rol speel, dus is daar ’n koste-oorweging. Enige buffer, soos ’n subsidie, speel daarom ’n rol om die oorskakeling te versag.”

Die argument dat die plaaslike klimaat en grond – veral weens minder organiese materiaal in die grond – nie juis geskik is vir organiese produksie nie, aanvaar Heyns nie. “Dit is haalbaar en klimaat en grond is nie ’n onoorkombare oorweging nie.”

Advini se Domaine Cazes is Frankryk se grootste biodinamiese wynplaas. Foto: ADVINI

Ervaring aan eie bas

Heyns se ouers woon op Oudeberg, ’n kleinhoewe buite Stellenbosch, waar hulle sewe jaar gelede 5 ha wingerd na biodinamiese praktyke oorgeskakel het. Hy was nou betrokke by die proses, gelei deur sy buurman mnr. Johan Reyneke, eienaar van Reyneke Wines. Een van die waardevolste wenke wat Heyns geleer het, was om by plaaslike kenners kers op te steek.

“Moenie dink jy kan die internasionale praktyke net so in Suid-Afrika toepas en jy gaan dieselfde resultate kry nie. Ons omstandighede, onkruid en grond is anders, veral die koolstofkomponent in die grond. Dis waarom daar ’n tydperk was wat mense hul vingers verbrand het met organiese produksie, want iemand moes voorloop om die lesse te leer. Gaan kyk dus na wat wêreldwyd gedoen word, maar leer ook by wat mense op eie bodem doen, want hulle ken ons omstandighede beter,” was sy raad.

Organiese en biodinamiese wingerde as persentasies van totale aanplantings (2016)

Voorts moet produsente in gedagte hou dis ’n proses, en nie iets wat oornag gebeur nie. “Jy moet streng bestuur toepas as jy nie oesverliese wil sien nie. Belê in jou wingerd, lê klem op organiese materiaal en gee jou wingerd die nodige hupstoot.”

Hy glo dit het hulle baie gehelp dat hulle vyf jaar voor die amptelinge oorskakeling begin het, opgehou het om vir onkruid te spuit. “Die mikrobes en lewe in die grond het begin terugkom en sterker geword. Daarna het ons begin bale pak op die bankies, hoendermis toegedien en gemengde dekgewasse geplant om die grond op te bou en die plante sterk te maak."

Johan sê graag wingerd is soos ’n verslaafde wat oorleef weens die plaagdoders wat ons toedien. Maak dus jou wingerd onafhanklik en sterk, en doen dit stelselmatig sodat die skok nie so groot is wanneer jy oorskakel nie.”

As die oorskakeling gladder is, is die produksie- en finansiële risiko ook laer. “Die laaste ding wat organiese produsente moet doen, is om konvensionele metodes af te skiet. Dis ’n geleidelike oorskakelingsproses, pleks van ’n ‘ons-en-hulle’-situasie.”