Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse wingerd-en-wynkundevereniging (Sasev) die bod gewen het om die toonaangewende simposium aan te bied.

Dis ’n geleentheid om Suid-Afrika se uitstekende boere, goeie navorsing en gevestige bedryf aan die wêreld te wys, sê mnr. Schalk Reynolds, voorsitter van Sasev se tafeldruifkomitee.

“Ons wil graag ook die plaaslike bedryf aan nuwe navorsing, oor byvoorbeeld kultivars, produksiepraktyke, na-oestegnologie en klimaatverandering, blootstel. Dis ‘n goeie kans om inligting uit te ruil met byvoorbeeld Chili, Amerika, Peru, Egipte, Italië, Israel of Spanje.”

Volgens hom sal die simposium einde November of vroeg in Desember in die Wes-Kaap plaasvind.

“Daar sal minstens drie wetenskaplike dae en ’n velddag in die Bergrivier- en Hexriviervalleistreek wees. Ons sal ook ’n post-simposiumtoer na die Noord-Kaap onderneem,” sê Reynolds.

Die simposium vind elke derde jaar plaas. Dit is pas in Chili aangebied, waar sowat 600 mense van reg oor die wêreld dit bygewoon het. Suid-Afrika het dit in 2007 ook aangebied.

Vir meer inligting, kontak Melinda van der Ryst (021 889 6311) of hou www.sasev.org dop.