Só sê dr. Vaughan Hattingh, besturende direkteur van Citrus Research International (CRI), oor die kans dat die gevreesde Asiatiese vergroening Suid-Afrika se sitrusboorde kan bereik.

Hattingh sê die bedryf moet uiters bekommerd wees, maar hy voeg by daar ís ’n aksieplan. Die bedryf is gereed indien die siekte wel Suider-Afrika se sitrusboorde bereik.

Tydens die Sitruskwekersvereniging se onlangse sitrusberaad in Port Elizabeth het Hattingh gesê die bedryf kan vir die siekte voorberei deur die verspreiding daarvan in Afrika te monitor.

“Al kan ons dit nie voorkom nie, kan ons die tyd van inval beraam.”

Daarby kan die bedryf op internasionale vlak saamwerk wat navorsing en plaagbestuur betref.

Asiatiese vergroening, oftewel huanglongbing (HLB), word deur die bakterie Candidatus liberibacter asiaticus veroorsaak, en is die eerste keer in China aangeteken. Dit het in die afgelope paar jaar groot skade in Suid- en Noord-Amerika veroorsaak en is tans die ergste sitrussiekte wêreldwyd.

Gedugte plaag

HLB word deur ’n vektor, Diaphorina citri, ook bekend as die Asiatiese sitrusbladvlooi (Asian citrus psyllid, ACP), oorgedra.

Die siekte laat vrugte onbruikbaar en veroorsaak groot oesverliese en boomvrektes.

Daar is tans geen doeltreffende manier om ACP se verspreiding te keer nie en dit is bitter moeilik om HLB in die vroëe stadium te bespeur. Daarby is daar tans geen doeltreffende oplossing of volhoubare bestuurstrategie teen HLB nie.

vergroening,
Vergroening se effek op sitrus. Foto: Verskaf

Hattingh sê een van die grootste gevare vir Suid-Afrika is oorgerustheid. Boere meen hulle weet wat vergroening is, want hulle is bekend met Afrika-vergroening.

Hoewel die bakterieë wat albei soorte vergroening veroorsaak, van dieselfde genus afkomstig is, verskil Afrika-vergroening, Candidatus liberibacter africanus, van HLB. HLB laat bome vrek, daar is tans geen doeltreffende middel daarteen nie, en ACP is hitteverdraagsaam, anders as die Afrika-bladvlooi.

Verwoesting

HLB het onder meer Florida  se sitrusbedryf lamgelê. Die hele produksiestreek se sitrusaanplantings is daardeur geraak, en 15 miljoen bome is vernietig.

Vyftien van dié Amerikaanse deelstaat se 20 versappingsaanlegte is gesluit. Die ekonomiese impak op Amerika word op $8,6 miljard (R124,15 miljard) beraam. Daar was die afgelope 10 jaar sowat 34 000 werksverliese weens die siekte.

Hattingh sê hoewel die siekte ook ’n groot impak op die Brasiliaanse sitrusbedryf gehad het, het dié land ’n aksieplan ingestel wat die totale ineenstorting van die bedryf kon keer.

Hy sê Suid-Afrika kan by Amerika en Brasilië leer hoe om sy eie aksieplan te benader en hoe om kwekerye en boere voor te berei.

Volgens Hattingh is die grondslag vir die bekamping van die siekte om ACP te bekamp, kwekerysanitasie, om besmette bome dadelik te verwyder, en vroeë opsporing van ACP.

Biosekerheid

Hattingh waarsku dat Suid-Afrika en die res van Afrika ’n groot biosekerheidsrisiko gemeen het. Albei soorte bladvlooie is reeds geografies naby aan Suider-Afrika en toegangspoorte is nie veilig genoeg om die siekte te kan stuit nie.

Candidatus liberibacter asiaticus is reeds in 2010 en 2014 in Ethiopië waargeneem. Daarby is ACP in 2015 in Tanzanië en in 2016 in Kenia gesien.

Volgens Hattingh word daar verwag dat ACP langs die ooskus van Afrika sal versprei na Suid-Afrika.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.