Mnr. Piet Smit van die Komati-groep sê dit is die enigste geleentheid waar ’n mens al jou kliënte van reg oor die wêreld onder een dak bymekaar het.

Vanjaar het die skou van 6 tot 8 Februarie plaasgevind. Sowat 78 000 besoekers uit 130 lande het die meer as 3 200 uitstallers van 90 lande besoek. Die hele vars vrugte- en groentewaardeketting is op dié reuseagtige skou verteenwoordig.

Die Landbounavorsingsraad het ’n reeks sitrus- en sagtevrugtekultivars wat plaaslik gekweek is, by die Suid-Afrikaanse paviljoen bekend gestel. Die land se voorlopers in boordbestuur met hommeltuie, Aerobotics, moes bontstaan om vrae van boere van reg oor die wêreld te beantwoord. “Die belangstelling in ons boord- en landerybestuurstelsels is oorweldigend,” sê me. Leah Wicks, wat die uitstalling behartig het.

Handelsmerke van Suid-Afrika se grootste avokadokwekers en kultivars, soos Westfalia, ZZ2 en Maluma, was ook daar te sien. “Dit is ’n baie goeie geleentheid vir ons om met ons kwekers en kliënte kontak te maak,” sê mnr. Donovan Lewis van Allesbeste, die boerdery agter die Maluma-kultivar en -handelsmerk.

Daar was vanjaar ’n sterk klem op digitalisasie en die vereistes en geleenthede wat dit vir die landbouwaardeketting meebring. Verskeie nuwe maatskappye het die geleentheid gebruik om hul tegnologie en produkte aan die sektor bekend te stel. Hou Landbouweekblad en Landbou.com oor die volgende paar weke dop vir nog oor die nuutste tegnologie en ontwikkelinge in veral die verskaffingswaardeketting.

Fruit Logistica,
Suid-Afrikaanse handelsmerke was oral op die Fruit Logistica-handelskou te sien. Van die groot Suid-Afrikaanse uitstallers was Capespan, die Departement van Handel en Nywerheid se Suid-Afrikaanse paviljoen, Aerobotics, The Grape Company, Tru-Cape Fruit Marketing, Stems Fruit, Southern Cross Marketing, The Packaging Network, Mpact Operations, Futura SA, Foodinvest, Core Fruit, Blue North Sustainability, die Landbounavorsingsraad en Westfalia. Foto: Jasper Raats
Fruit Logistica,
Dr. Mary Lu Arpia van die Universiteit van Kalifornië, mnre. Daniel Bamaji van Banai Farming in Israel, Donovan Lewis van Maluma Avokado en Joseph Mark Buhl van Avotopia het so lekker saamgekuier in Berlyn dat almal onderneem het om vanjaar se Malumadag in Suid-Afrika by te woon. Foto: Jasper Raats

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.