Me. Zola Nene, sjef en aanbieder van vanjaar se virtuele Absa Top 10-olyfolieprysuitdeling, sê vanjaar se olyfoes was 30% groter as verlede jaar.

“Plaaslike produsente het baie probleme, soos droogtes, en hulle moet meeding met goedkoop, ingevoerde olyfolies.”

Mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, sê vanjaar se olyfoes het met die aanvang van die grendelstaat saamgeval.

“Die gehalte is egter uitsonderlik. ’n Rekordgetal medaljes (altesaam 34) is tydens die SA Olive-prysuitdeling aangekondig en verskeie van ons produsente het ook internasionaal medaljes gewen. Dít in ’n land waar baie min ondersteuning aan die bedryf gebied word, ondanks die werkgeleenthede wat geskep word.”

Die SA Olive-proepaneel het vanjaar altesaam 197 olyfolies as ekstrasuiwer gesertifiseer.

Volgens mnr. John Tshabalala, hoof van Absa se verhoudingsbankdienste, het die bank vyf jaar gelede by die Absa Top 10-eerbewyse betrokke geraak.

“Die doel was om die olyfoliebedryf te help om uitnemendheid en groei te bewerkstellig. As ’n groeiende bedryf speel die produsente ’n belangrike rol om werk te skep en ’n bydrae tot die ekonomie te lewer. Suid-Afrikaanse olyfolie is boonop ’n ambassadeur vir die land.”

Wenners

Die toptien-olyfolies word aangewys uit die gouemedaljewenners by die SA Olive-prysuitdeling. In die kategorie vir delikate olyfolies is Cederberg Olives Frantoio, Rio Largo Gold en Kleinbergskloof Frantoio bekroon. In die kategorie vir medium-olyfolies is Zoetigheyd Frantoio, Morgenster EVOO, Wildekrans Endless EVOO, Chaloner The Peregrine Limited Edition en PG Fruit Olives Pai Parakore EVOO as wenners aangewys. In die kategorie vir intense olyfolies is Porterville Olives se Andante Intenso en Mardouw XXV Intense vereer.