Oor die afgelope drie dekades het die droëvrugtebedryf en die Landbounavorsingsraad saamgewerk om die kultivar te ontwikkel. Die rooierige bloeisel op die druiwe, wat mens aan ’n sonsondergang laat dink, het vir die naam gesorg.

Rosyntjies verteenwoordig nagenoeg 80% van die droëvrugte wat in Suid-Afrika geproduseer word.

Mnr. Stefan Jordaan, senior landbouspesialis by Raisin SA, sê die oogmerk is ’n songedroogde rosyntjie van dieselfde gehalte as die tradisionele Sultana Seedless, maar wat vroeër ryp word en ’n beter volgehoue drag lewer. Omdat Sundowner vroeër as Sultana Seedless geoes kan word, kan die drooggeriewe beter benut word omdat al die druiwe nie gelyk ryp word nie.

Hy sê daar is reeds kommersiële blokke Sundowner aangeplant in die distrik Vanrhynsdorp waar al jare lank proewe gedoen is met hierdie kultivar. “Boere in die gebied is opgewonde oor die gehalte en drag.” Teen die Oranjerivier is nog net proefpersele van die kultivar.

Maar wat beteken dit vir die land om so ’n unieke kultivar te hê?

Jordaan sê Suid-Afrika het unieke weersomstandighede en vir ’n kultivar om in die spesifieke omstandighede gekweek te word, deur al die standaarde te gaan en suksesvol anderkant uit te kom is ongelooflik gunstig vir die land.

Gehalte-plantmateriaal, wat virusvry is en ’n goeie begin gehad het in ’n gehalte-moederblok is die kern tot die sukses van enige kultivar en die kommersialisering van ’n kultivar. Indien so ’n kultivar goeie resultate lewer, kan dit ook vermeerder en aan ander lande verkoop word. 

Culdevco, wat ’n onafhanklike bedryfstruktuur is, behartig die kommersialisering van die LNR se ontwikkelde kultivars. 

Bemagtiging 

As deel van die evaluasie van Sundowner is ’n tweede ekonomiese navorsingsprojek ingesluit om ook blootstelling te gee aan Raisin SA se opkomende produsente. Die primêre rede hiervoor was om belangrikste evaluasiebeginsels oor te dra wanneer ’n kultivar oor tyd geëvalueer word. Die kennis wat sodoende ontwikkel word, is ook ’n sleutel tot hul boerderye se toekomstige sukses om te verseker dat hulle voortdurend op die uitkyk moet wees vir karaktereienskappe soos die siektebestandheid van kultivars, hul vermoë om ongunstige klimaatstoestande te trotseer, om rosyntjies van goeie gehalte te kan lewer en ook meerdoeligheid om verskeie rosyntjieprodukte te kan produseer. Oor die afgelope dekade neem vyf produsente van die Eksteenskuil-gemeenskap deel. 

Mark

Mnr. Ferdie Botha, hoofbestuurder van Raisin SA, sê die rosyntjiebedryf dra nagenoeg R4,1 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by.

Die bedryf lewer ook ’n wesenlike bydrae tot maatskaplik-ekonomiese omstandighede in veral landelike areas waar die werkloosheidsyfer meer as 40% is. 

Suid-Afrika is die vyfde grootste produksiegebied van rosyne internasionaal. “Ons is welbekend vir die produksie van hierdie produk van topgehalte. Kultivars word spesifiek gekies en geëvalueer vir die produksie van rosyne. Kultivars is ’n sleutelfaktor om ’n goeie produk te verseker.”

Die bedryf het sedert 2014 deur ’n sterk groeifase beweeg, met drie agtereenvolgende rekordoeste. 

Die huidige seisoen het pas afgeskop en daar is nog baie wat kan gebeur wat die grootte van die oes kan beïnvloed, soos onder meer reënval, sê Botha.

“Volumes teen die Olifantsrivier in die Wes-Kaap lyk belowend, met veral goeie produksie van korinte.”

Ondanks rekordpryse wat in 2019 behaal is, het die internasionale prys gedaal, wat beteken dat die plaashekverdienste ook sal afneem in die huidige seisoen. 

Volgens die LNR word 90% van die land se rosyntjies in die Noord-Kaap geproduseer.

Van 1994 tot 2019 het die bedryf se lewering van 34 856 ton tot sowat 74 830 ton gegroei.

Die bedryf skep werk vir 30 110 opgeleide en sowat 16 079 onopgeleide werkers.