Wynboere is ontevrede dat hulle oor dieselfde kam as ander alkoholprodusente geskeer word, sê mnr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Daar is ’n goeie rede waarom wyn ook in supermarkte verkoop mag word, en nie net in drankwinkels nie: Dit is ’n landbouproduk. Daarom voel ons dit behoort nie saam met die res van die alkoholbedryf onder een sambreel hanteer te word nie.”

Volgens De Jager is ’n groot gros wynboere in geldelike moeilikheid omdat hul produk nie verkoop kan word nie. Drankverkope op die plaaslike mark is aanvanklik tydens die Covid-19-inperking vir tien weke verbied. Drank mag sedert 1 Junie verkoop word, maar nie waar dit op die perseel verbruik word nie. Op 12 Julie het Ramaphosa dit weer “met onmiddellike effek” verbied. Uitvoer mag wel voortgaan.

“Die wynboere kan nie aangaan onder dié regulasies nie. Ons moet iets doen om hulle te help om hul besighede aan die gang te hou,” sê De Jager.

“Wyn is in baie opsigte anders as ander alkoholprodukte. Dis nie wyn wat die hospitaalbeddens volmaak nie.”

Volgens De Jager is Saai deur ’n aantal familieboerderye in die wynbedryf genader om hulp. Hulle verteenwoordig tans sowat 120 boere. Dit sluit nie koöperatiewe of korporatiewe kelders in nie, maar slegs familieplase.

“Ons advokate kyk wat ons kan doen om vir die mense oorlewingskans te gee. Die hofstukke behoort teen Vrydag gereed te wees.”

Sluitings

Mnr. Charles Back, eienaar van Fairview, sê die wynbedryf beywer hom al jare lank om verantwoordelike wynverbruik aan te moedig.

“Ons produk bevat toevallig 12-14% alkohol, maar dis nie ’n alkoholproduk nie, dis ’n landbouproduk. Ek kan nie insien waarom ons nie toegelaat kan word om van die kelders af of aanlyn wyn te verkoop nie.”

Hy sê die wynbedryf verskaf werk aan sowat 300 000 mense.

“Die landbou is een van die min bedrywe wat ongeskoolde arbeid in diens kan neem. Dis die plaaswerkers wat eerste gaan ly, want seisoenale of kontrakwerkers sit moontlik reeds sonder werk en die kans op loonverhogings vir plaaswerkers is skraal. Die kleiner besighede is werklik weerloos en daar sál ’n aantal sluitings wees. Kelders het ook oorhoofse koste wat betaal moet word, of daar verkope is of nie.”

De Jager sê die “eerste prys” sal wees dat die regering wynhandel weer toelaat, selfs al bly drankwinkels toe. Hulle ondersoek ook die opsie om slegs regstreekse verkope vanaf kelderdeure moontlik te maak.

“Ons soek enige kanaal waardeur ons die wynboere kan help oorleef.”

Saai het onder meer voëlboere suksesvol in die hof verteenwoordig om uitvoer tydens die grendelstaat toe te laat. In Augustus tree hy ook namens tabakboere in die hofkryt.