Die sitrusbedryf het by ’n spesiale vergadering van die sitrusprodusente-organisasie (CGA) se swartvlekrampbestuurskomitee besluit om ’n verbod op alle uitvoere van lemoene, suurlemoene en pomelo’s na die Europese Unie (EU) vanuit alle provinsies, behalwe die Noord- en Wes-Kaap, in te stel. 

Die besluit dien as voorsorg om te verhoed dat swartvlek laat in die uitvoerseisoen, wanneer die risiko hoër is, in Europa op Suid-Afrika se vrugte gekry word. Die seisoen is basies verby en uitvoervolumes het reeds die vorige seisoen s’n oorskry. Die verbod, wat ook in die vorige twee seisoene op dieselfde tyd ingestel is, geld slegs vir die 2017-seisoen en sal nie die komende seisoen beïnvloed nie.

Die CGA het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye versoek om geen verdere inspeksies uit te voer of fitosanitêre permitte aan die verbode vrugte vir uitvoer na die EU uit te dien nie. Sagte sitrus en alle sitrus van die Wes-Kaap en die Noord-Kaap kan steeds uitgevoer word na die EU, mits dit tydens inspeksies goedgekeur word.