Luidens ’n verklaring skat die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) die uitvoer vir 2021 op 258,7 miljoen kartonhouers. Dit verteenwoordig groei van 22% in uitvoervolumes oor die afgelope twee jaar met 146 miljoen kartonhouers wat verlede jaar uitgevoer is, terwyl 130 miljoen kartonhouers in 2019 uitgevoer is.

Die grootste groei in die sitrusbedryf kom uit die sagtesitrussektor wat ’n geskatte 30,5 miljoen kartonhouers uitvoervrugte in 2021 sal lewer. Dit is 29% meer as in 2020. Veral laat mandaryne staan uit met 42% groei in produksie.

Die SKV waarsku dat droogtetoestande in die Oos-Kaapse produksiegebiede en uitsonderlike nat toestande in die land se noordelike produksiegebiede kan verhinder dat die skatting vir sagtesitrus-produksie realiseer.

Dit lyk wel of die sitrusbedryf op koers is om sy produksie met 300 000 ton te vergroot oor die volgende drie jaar. Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die vereniging, sê hiervan word die toename in uitvoer van slegs Suid-Afrikaanse sagtesitrus, suurlemoene en valencias geskat op R6,8 miljard in buitelandse valuta. Dit sal 22 250 werksgeleenthede oor die volgende drie jaar skep.

“Die vraag na ons produkte op oorsese markte is ’n wonderlike getuigskrif van die gehalte van Suid-Afrikaanse sitrus,” sê hy en voeg by dat boere deur hul heffings alleen meer as R1 miljard oor die volgende vier jaar gaan belê in navorsing om marktoegang en transformasie te bevorder.

“Om ons volle potensiaal te bereik gaan die regering en ander belanghebbendes hul kant moet bring,” sê Chadwick. “Ons sal byvoorbeeld swaar op ons hawens steun, net om die ekstra 13 miljoen kartonhouers wat vir vanjaar geskat word, te verskeep. Ons sal ook met die regering moet saamwerk om toegang tot soveel as moontlik uitvoermarkte te beding, te onderhou en te behou. Optimale toegang is noodsaaklik vir die volgehoue groei van die bedryf.”