As iemand vir jou vertel dat ’n pionierboer ’n mangoplaas in die Kaap staangemaak het, sal jy nie sleg vaar om te dink hierdie boer kom uit die noorde nie – dalk Tzaneen of Hoedspruit.

Mnr. Bernie van den Heever, wat die afgelope 16 jaar die Tamarak Mango-landgoed naby Clanwilliam in die Kaap opgebou het, kom egter uit die dorre Springbok. Buiten dat hy bewys het dat mango’s suksesvol in die Kaap geproduseer kan word, het hy nou ook ’n belowende nuwe kultivar gekommersialiseer, genaamd Tropika.

In ’n goeie jaar kan hy ’n inkomste van van R300 000 tot R450 000 per hektaar met hierdie mango’s verdien. Die pad na hierdie sukses was egter nie maklik of kort nie. Van den Heever se pa is ’n skaapboer en hy self het ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer.

Met sy pendelary as student op die N7-snelweg tussen Springbok en Stellenbosch het die magdom water in die Clanwilliamdam en Olifantsrivier altyd sy asem weggeslaan. “As jong laaitie was die dammetjies water wat om die bloekoms op die werf gestaan het as hulle maandeliks natgelei word, die meeste staande water wat ek geken het. Die enorme dam en magdom water het my laat glo dat hier geleentheid is in hierdie streek en ek het begin droom van ’n plaas hier.”

Mnr. Bernie van den Heever het 16 jaar gelede ’n geloofsbesluit geneem om met R500 000 in sy sak en ’n vennoot met grond en water aan sy kant, ’n boerdery van niks af op te bou. Vandag oes hy die vrugte van sy geloof en harde werk met die 66 ha mango’s, pakhuis en verwerkingsaanlegte wat hy opgebou het.

Onderhandel drie jaar lank

Ná ’n tien jaar lange skof op mango- en druiwe-plase in Tzaneen, Upington en die Paarl, het Bernie sy geleentheid gesien toe die stuk grond wat nou Tamarak is, in 2001 op die mark gekom het. Die plaas, wat aan mnr. Dirk Visser van Hexrivier Sitrus van Citrusdal behoort, is toe nie in 2001 verkoop nie. Ná drie jaar se onderhandelinge het Van den Heever en Visser in 2004 ’n vennootskap begin. Visser het die grond en water gegee en Van den Heever die kapitaal vir uitbreiding en die kundigheid.

Ná 16 jaar het Van den Heever reeds 66 ha mango’s op Tamarak, ongeveer 10 km suid van Clanwilliam op die Olifantsrivier se oewer aangeplant. Die visie vir ’n mango-plaas in die Clanwilliam-omgewing het egter begin lank voordat Tamarak ter sprake was. In 1999, nadat Van den Heever kundigheid oor mango-produksie in die noorde aangeleer en toe hierdie kundigheid by die Olifantsrivier-droom gevoeg het, het hy vir mnr. Danie Smit van Klawervlei Boerdery genader met ’n versoek om ’n mango-proefblok op sy plaas te vestig.

“Daar was reeds ’n mango-boord op Klawervlei. Ek wou ’n kwart hektaar met twee herhalings van 24 verskillende bostam-onderstam-kombinasies beproef. Hulle het ingestem en ek het die plantmateriaal verskaf en ons het die blokkie in 1999 aangeplant. Ek het twee maal per jaar die blokkie besoek om die data in te samel. Dit was baie waardevolle inligting wat vir my ’n aanduiding gegee het wat hier sal werk, watter oestye verwag kan word en watter struikelblokke daar is.”

Tropika dra baie uniforme vrugte (REGS) teenoor Heidi of Sensa­tion (HEEL REGS). Die meeste Tropika-vrugte pak tussen ’n telling 9 en 12 per 4 kg uit, met ’n telling-verspreiding van 9 tot 16. Die vrug-tot- pit-verhouding van 70-30 is ook soos dié van Heidi.

Die voordeel van mango’s in die Kaap is die tydgleuf waarin dit geoes kan word. Goeie gehalte mango’s het vir tot R80/4 kg-boks (R20/kg) op varsproduktemarkte verkoop vir die ses weke van einde Februarie tot middel Mei. Dit is ’n tydgleuf waarin die produsente van die noorde nie mango’s kan produseer nie en die vraag na mango’s hoog is en ook die tyd waarin Van den Heever mango’s kan oes. “Ons oes tans ’n gemiddeld van ongeveer 25 ton/ha op net meer as 50 ha draende bome. ’n Gemiddeld van 30 ton/ha is ons mikpunt.”

Indien die 30 ton/ha gerealiseer kan word en Van den Heever ’n gemiddelde prys van R15/kg vir sy oes kan verdien, kan hy tot R450 000 per hektaar verdien. Dit is ’n goeie gemiddelde opbrengs, maar dit is nie sonder onsekerhede nie en buitendien is opbrengs nie die enigste maatstaf waarmee Van den Heever homself wil uitsonder nie. Die oesproses van mango’s is duur. Om dus bloot te konsentreer op opbrengs en nie die waarde van die vrug te verbeter nie, gaan nie verhoogde winsgewendheid meebring nie.

Om ’n premie met die regte kultivar op die regte tyd te verdien, is Van den Heever se doelwit. Aanvanklik was hierdie struikelblokke groot, want kultivars soos Heidi lewer uitstekende gehalte, maar is moeilik om vrugbaar te hou ná die boom 10 jaar oud geword het.

Kultivars soos Sensation is baie vrugbaar, maar dit verg ewe veel kundigheid en geluk om te verseker dat die interne gehalte van Sensation goed is. Met ’n nuwe kultivar, wat hy Tropika noem, het hy heel moontlik die troefkaart om die goeie eienskappe van Heidi én Sensation in een vrug vas te vang.

Só lyk ’n Tropika-mango as dit op die per­fekte tyd geoes word. Die groen deel van die vrug word ’n heldergeel kleur en die dieppers kleur aan die bokant van die vrug word ’n helderrooi soos die vrug ryp raak. Dié vrug het ’n rakleeftyd van minstens twee weke.

Oes van Februarie tot Maart

“Tropika word van Februarie tot Maart geoes. Dit het uitstekende interne gehalte, toon goeie set en opbrengs en vaar selfs onder nette baie goed. Dit het ’n pragtige geel-oranje-rooi kleur as dit ryp is. Die bome dra boonop baie uniforme vrugte. Die meeste vrugte pak tussen ’n telling 9 en 12 per 4 kg uit, met ’n telling-verspreiding van 9 tot 16. Die vrug is heeltemal veselloos, maar steeds ferm en het daarom goeie droog-eienskappe en ’n goeie rakleeftyd.”

Van den Heever het toevallig op die kultivar afgekom toe die balju van Clanwilliam, mnr. Piekie Slabber, een jaar begin Junie by hom ingeloer en ’n mango op sy tafel neergesit het wat herinner het aan ’n Heidi-mango, maar mooier gekleur was. Die mango het uit ’n tuin naby Lutzville gekom.

Van den Heever het vir die eienaar van die huis gaan kuier, die potensiaal verduidelik en hulle het ’n ooreenkoms aangegaan waarin hy die kultivar kon ontwikkel. In daardie stadium was Van den Heever seker van net twee belowende eienskappe – dit het in die streek geaard en dit was op die regte tyd van die jaar ryp.

Die Tamarak Mango-landgoed voorsien al hul eerste­graad-Tropika-mango’s aan Wool­worths, maar lewer steeds die grootste gedeelte van hul produk aan varsproduktemarkte. Van den Heever het al ’n paar maal mango’s per vliegtuig uitgevoer na Europa en die Midde-Ooste.

Van den Heever het in 2012 die nuwe kultivar ontdek en onmiddellik ’n paar bome oorgewerk. Teen 2014 het hy besef dit is ’n belowende kultivar en teen 2015 is die planttelersregte geregistreer. Hy het ’n driekwart hektaar se Sensation-bome in 2016 oorgewerk na Tropika en in 2018 ’n verdere driekwart hektaar. In 2018 het hy ook 8 ha se jong bome aangeplant, wat die totale hektaar Tropika op 9,5ha te staan bring.

“Tropika het die set-eienskappe van ’n Sensation, maar die interne gehalte van ’n Heidi. Heidi neig egter om ná ’n paar jaar produksie te verloor, die vrugte is baie gevoelig vir sonbrand en set is gevoelig vir temperatuurskommelinge. Dit is dus ’n baie moeilike kultivar om mee te boer. Sensation het uitstekende set, maar die interne gehalte is ’n kwessie. Daar is dus min boere wat met hierdie kultivar sukses bereik.

“Tropika is die baster tussen hierdie twee wat die goeie van albei ouers geërf het en niks anders nie. Die enigste probleem is dat die vrugte soos ’n tsoenami op die plaas ryp word, maar dit is maar hoe mango’s werk.”

Daar is ’n gulde uitvoergeleentheid vir hierdie vrugte na Europa en die Ooste, maar omdat mango’s vinnig ryp word en dus vinnig oorryp kan wees, is die risiko om uit te voer baie hoog. “Citrogold, die bemarkers wat die ClemenGold-handelsmerk bestuur, behartig tans die onderhandelinge met Woolworths om Tropika as ’n eksklusiewe Woolworths-produk aan te bied. Dit sal aanvanklik as ’n ‘New Discovery’ op Woolworths se rakke beskikbaar wees, maar hopelik van 2021 af sal dit as deel van die ‘FlavourBurst’-reeks aangebied word.”

Dit is egter nie net vir sy eie boerdery wat Van den Heever hierdie kultivar geregistreer het nie. Die kultivar is beskikbaar vir enige produsent om aan te plant. “Ek dink die kultivar sal ook goed vaar in die omgewing van Hoedspruit en Malelane, asook waar dit effens koeler is, maar daar nie ’n ryprisiko is nie. Ons het ook reeds proefblokke in Spanje en Amerika (Florida) aangeplant om te sien of die kultivar daar kan aard.” 

Vegetatiewe groei onder nette is uitstekend, maar nie vrugbaarheid nie. “Die bye is baie traag om onder die nette te werk en dus is daar ’n verlaging in vrugset. Die nette is oorspronklik primêr vir sonbrand en sekondêr vir windskade opgerig. ’n Bykomende bonus van die nette is dat ons apikale terugsterwing, wat deur bakteriese infeksie veroorsaak word, so te sê heeltemal uitgewis het. Ek glo dit lei tot verminderde windskade, en gevolglik ook ’n gebrek aan kneusplekke waar bakterieë die boom kan besmet.”

LBW vra . . .

Mnr. Bernie van den Heever

Wat die beste boerderybesluit wat jy al geneem het?

Om nette oor my mango’s op te sit. Dit het meegebring dat tot 25% meer van my vrugte as eerste graad gepak kan word weens minder sonbrand. Dit het die plaas omgekeer.

Het jy ’n mantra in die lewe?

Winston Churchill se woorde tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe hy op 29 Oktober 1941 aan sy alma mater gesê het: Moet nooit ingee nie, nooit, nooit, nooit, maar nooit nie. Nie weens omvangryke of weens geringe omstandighede nie. Jy moet nooit ingee nie, tensy jou eer, oortuiging of goeie sin jou daarheen lei.

Wat is die grootste boerderyfout wat jy gemaak het?

Ek het op papier ’n kultivar gekies. Teoreties sou die Prinses-kultivar baie goed hier by ons inpas. Ek het 10% van my aanplantings daaraan afgestaan en moes ná net vyf jaar die bome afsaag en oorwerk. Dit het glad nie hier geaard nie. Van toe af berus ’n kultivar-keuse hier in ons klimaat op ’n proeftydperk van minstens vyf jaar.

Watter tegnologie is onmisbaar in jou boerdery?

Daar is twee: 1. Selfoon. Ek ontvang daagliks tot 100 oproepe, 50 e-posse en neem aan tot 80 WhatsApp-gesprekke deel. Sonder my selfoon sal dit chaos wees. 2. DFM se grondvogmeters, want as jy ’n besproeiingsboer wil wees, is water en die akkurate bestuur daarvan, van uiterste belang.

Navrae: Mnr. Bernie van den Heever: e-pos: bernie@capemango.co.za; 082 807 5882.
“Ek strewe daarna om volgens die vier beginsels van Grant Dryden se Farming God’s Way te boer. Die beginsels lui soos volg: Doen al jou boerdery-aktiwiteite betyds, doen dit tot die hoogste standaard, sonder vermorsing en doen dit met jolyt. Die pulp- en droogaanlegte stel my in staat om vermorsing op die plaas uit te skakel en om die maksimum waarde te put uit die produk wat ons produseer,” sê Van den Heever. Die ryp mango’s wat gedroog word, word met die hand geskil (foto A) en van die pit gesny en dan deur ’n masjien in stukke gesny (foto B), waar dit in ’n bak val met ’n sulfaat-oplossing wat as ’n preserveermiddel dien. Die stukke word dan op laaie wat van skadu­net gemaak is, gepak en in ’n pasgemaakte oond teen 55 °C vir 16 uur gedroog. Bernie verkoop die finale produk in groot maat aan verpakkers en verpak dit ook in sy eie verpakking vir plaaslike padstalle (foto C).

Só BOER JY MET MANGO’S IN DIE KAAP

Die mees gewenste tyd om ’n mangoboom te plant, is in die lente of vroeë somer. Indien jy Tropika wil aanplant, moet jy die Mohlatsi-kwekery in Hoedspruit kontak.

“Ons gebruik mikro- en drupbesproeiing. Jonger bome gebruik van 4 000 m3 tot 8 000 m3 water per hektaar, terwyl ’n volwasse boom tot 12 000 m3 water per hektaar benodig. Ons plant ons bome op nou-aanplanting teen 2 m x 5 m en ons verseker dat die grond se pH van 5,5 tot 6,5 is. Vir jong bome moet daar ongeveer 100 kg stikstof, 30 kg fosfaat en 120 kg kalium per hektaar vir die bome beskikbaar wees. Ons strooi dié kunsmis sommer in die plantvoor tydens plant.

“Ons beweeg egter weg van hierdie denkwyse en strewe daarna om ’n gesonde, lewende grond te vestig.

“Ons neem jaarliks ’n blaarontleding en grondontleding van elke besproeiingsblok, want een 25 kg-sakkie oplosbare kunsmis wat verkeerd toegedien word, is reeds duurder as ’n ontlening se koste. Dit is dus belangrik om so akkuraat as moontlik te werk te gaan.

“Ek probeer eerder die lewe in die grond só kry dat dit die grondvrugbaarheid so doeltreffend moontlik opstoot. Ek voed die grond om die boom te kan voed.

“Daarom probeer ons so min as moontlik chemiese middels gebruik en so veel as moontlik kompos en organiese bemestingstoedienings. Ons gebruik ook dekgewasse, kompos-ekstrakte en verskillende biologiese produkte om sekere doelwitte te bereik.

“Ek probeer om die elektriese geleidingsvermoë van die kunsmis-oplossing onder 2 mS/cm (millisiemens per sentimeter) te hou wanneer bemes word.

“Ek gee dus twee keer per week kunsmis deur die water. Een keer die kalsium-magnesium-oplossing en een keer die kalium-magnesium-fosfaat-sulfaat-oplossing. In die proses maak ek ook van melasse, fulvien- en humiensuur gebruik om die minerale te cheleer, wat meer stabiliteit in die molekule bring en ook te neutraliseer vir beter opname. Dit versag die uitwerking van die chemiese middels op die lewe in die grond.

Tamarak verwerk, vries en verskeep ook jaarliks meer as 100 ton mangopulp na sapvervaardigers. Die verpulpingsaanleg kan tot 7 ton mango’s per dag verwerk om ’n opbrengs van 5 ton pulp te verkry. Die pulp word op die perseel gepasteuriseer, verkoel, in 200 liter-dromme getap en dan gevries voordat dit na klante landwyd verskeep word.

“Ons gee op ons sanderige grond op volwasse bome 100 kg stikstof, 20 kg fosfaat en 140 kg kalium per hektaar. Ek gee ook blaarvoeding met makro- en mikro-elemente op ’n maandelikse grondslag. Ons spuit nog net een sagte chemiese middel op blaaspootjies en verder bekamp ons blomsiektes indien nodig met chemiese middels, maar vir enige ander plaag of kwaal gebruik ons slegs biologiese produkte.

“Ek bestee eerder R1 aan bemesting om produksie te verbeter as R1 aan gif of chemiese middels om iets doodgespuit te kry. Indien daar heeltyd op chemiese middels staatgemaak word om boorde plaagvry te hou, versteur jy net die ewewig en raak jy al hoe meer afhanklik van chemiese insette. In die proses vernietig jy so baie van die gevoelige voordelige organismes in die grond en die boorde.”

Tans is daar twee verpakkingsaanlegte wat mango’s in die Kaap verpak en albei van hulle is in die Clanwilliam-omgewing. “Die een is Cape Mango’s op Tamarak wat ons self bestuur, en die ander is Silwerpak, wat me. Annelie de Beer bestuur. Ons bemark by Woolworths, Freshmark, Pick n Pay, asook die munisipale markte in die Kaap, Johannesburg en Pretoria.”