Van wanneer af verbou julle bloubessies?

Roslé se eerste aanplanting is in 2016 gevestig, en ons verbou tans 100 ha bloubessies.

Waarom het julle daarop besluit?

Groblersdal lê in ’n somerreënstreek. Die reën veroorsaak probleme met die verbouing van tafeldruiwe. Ons het besluit om ons hele tafeldruifproduksie te staak en met bloubessies te vervang.

Watter kultivars verbou julle?

Ons het die lisensieregte bekom om United Exports se OZblu-kultivars aan te plant. Ons verbou sewe kultivars, Oz Magica, Oz Julieta, Oz Bonita, Oz Bella, Oz Magnifica, OZblu Ariana en OZblu Amelia. Die kultivars is afkomstig van Australië en het lae koue-eenhede nodig om te groei. Groblersdal se ligging is ideaal vir dié kultivars. Ons is veral beïndruk deur Oz Magica en Oz Julieta wat by ons goed presteer.

Is jul streek geskik vir bloubessies of omseil julle die produksieprobleme?

Die kultivars wat ons verbou, is geskik vir ’n somerreënstreek, en dus vaar dit goed in ons omgewing. Die Loskop-besproeiingskema lê in ’n haelgebied en alle bloubessies is onder haelnet in die grond gevestig. Bloubessies in Suid-Afrika word grootliks in potte verbou, maar ons grond is geskik vir die verbouing van bessies regstreeks in die grond.

Watter groot produksieprobleem moes julle al oorkom?

Die bloubessiekultivars is nog nuut in Suid-Afrika en die verbouing is ’n daaglikse leerskool. Tans is die grootste probleem om sover moontlik ’n biologiese benadering te handhaaf om aan die minimum vereiste vir residuvlakke vir uitvoer te voldoen.

Waar steek julle kers op vir produksieraad?

Ons kry baie van ons raad by die maatskappy United Exports. Hy het in elke streek tegniese adviseurs wat die plase besoek.

Moes julle spesiale werktuie ontwerp of gebruik julle handearbeid?

Ál ons bessies word met die hand gepluk.

Kenners voorspel ’n bloeityd vir die gewas. Brei julle ook uit?

Ons het in drie jaar 100 ha gevestig en beoog om volgende jaar nog uit te brei. Deur hoë volumes te produseer, word jou produksiekoste verminder. Ons is gemaklik daarmee om met die verbouing van bloubessies voort te gaan.

Waarheen voer julle uit?

United Exports behartig al ons uitvoer. Europa, die Midde- Ooste, die Verre-Ooste, Engeland en Amerika is maar ’n paar plekke waarheen ons bloubessies uitgevoer word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.