Waar kom jul liefde vir boerdery vandaan? My oupagrootjie het in 1874 uit Indië na Suid-Afrika gekom om as plaaswerker op die suikerrietplase te werk.

My oupa was ook ’n plaasarbeider, maar hy het ’n ooreenkoms met die wit boere aangegaan om groente vir persoonlike gebruik as wisselbougewas met die suikerriet te plant.

As daar ’n surplus was, het hulle dit oor naweke verkoop. In 1969 het my pa, Nohari Bundhoo, ’n plaas van 6 ha begin huur waarop hy gemengde groente verbou het.

Ons vier broers het van jongs af saam met hom daar gewerk en alles oor boerdery by hom geleer. Ek is nou 63, maar jy kan sê ek het al 50 jaar boerdery-ervaring!

In 1977 het my pa ’n plaas (7 ha) gekoop en ook grond by bure begin huur. Ek en my broers het in 1988, ná my pa se beroerte, oorgeneem en Nohari Farms begin.

Ons het stelselmatig klein plasies gekoop en huur ook grond. Ons boer nou op sowat 200 ha. Ons het ons ses seuns aangemoedig om ook te boer. Boerdery is die een bedryf wat nie sommer sal verdwyn nie, want almal moet eet.

Die Covid-19-pandemie het ons oë daarvoor oopgemaak.

Hoekom is borrie vir julle ’n belangrike gewas? Borrie word in die meeste Indiese geregte gebruik en dit het baie gesondheidsvoordele, daarom groei die vraag daarna.

Covid-19 het ook gehelp, want mense drink dit saam met gemmer en suurlemoen. Ons plant sowat 5 ha borrie, wat ons in wortelvorm aan Freshmark en op verskeie markte verkoop.

Ons oes sowat 10 ton borrie per hektaar. Is daar ’n sterk borriebedryf in Suid-Afrika? Borrie is nie ’n kosproduk waarvan groot hoeveelhede verbruik word nie.

Dit is ’n spesery, dus gebruik ’n mens ’n klein bietjie daarvan as jy kos maak. Die gewildheid van vars borrie het onlangs in Suid-Afrika begin toeneem.

Ons weet egter nie of die vraag ná Covid-19 steeds daar gaan wees nie. Hoe verbou ’n mens borrie? Borrie hou van ons subtropiese klimaat en aard goed in ons leem-kleigrond (beter as in sanderige grond). Ons plant in September in oop velde en kan van Junie tot Desember oes, na gelang van die vraag.

ie plant se blare dien as bemesting. Ons pas hoofsaaklik droëlandproduksie toe en ons gewone reënval van sowat 1 000 mm per jaar blyk genoeg te wees. Wisselbou is vir ons belangrik, daarom plant ons slegs een keer elke vyf jaar borrie op dieselfde grond.

Dit is ’n arbeidsintensiewe gewas, want ons gebruik geen onkruid- of plaagdoders nie en doen alles met die hand. Die plant het ook ’n taai wortelstelsel wat met die hand skoongemaak moet word voor ons dit verkoop.