Gemmer was onlangs byna onbekostigbaar duur. Hoekom?

Daar het skielik ’n groot vraag na gemmer ontstaan weens die Covid-19-pandemie. Gemmer het baie medisinale waarde en mense wat nie voorheen gemmer geëet het nie, het dit ook begin gebruik. En as daar ’n goeie vraag is, klim die prys! Ek hoop mense het nou geleer oor gemmer en dat hulle sal aanhou om daarmee te kook.

Waar in Suid-Afrika word gemmer oral verbou?

Hier is heelwat gemmerboere in ons omgewing, asook by Levubu (Limpopo), waar die klimaat soortgelyk as by ons is. Daar is ook kleiner boere in KwaZulu-Natal.

Om met gemmer te boer, moet jy diep, goed gedreineerde grond hê, asook genoeg water. Die gewas hou ook van baie lugvog. Gemmer kom uit Suidoos-Asië en ek vermoed dit is ’n skaduplant, want dit brand maklik in die son. Om dit te voorkom, pas ons verdampingsverkoeling toe.

Julle is al amper 40 jaar in die bedryf. Hoe het dinge verander sedert julle begin gemmer produseer het?

Gemmer het beslis meer bekend geraak onder verbruikers. Destyds was dit net die Indiërs wat gemmer gebruik het, en die meeste Suid-Afrikaners het net aan gemmer gedink as hulle gemmerkoekies bak, en dan het hulle poeier gebruik. Nou gebruik mense dit meer algemeen in die kombuis en ook medisinaal.

Die ander ding wat verander het, is die invoer uit China. Dit het die hele bedryfsdinamika verander. Aangesien gemmer op kort kennisgewing uit China ingevoer kan word, behaal ons nie meer sulke hoë pryse nie.

Hoe werk die produksieproses?

Ons plant gewoonlik in September die saad (wat basies net gemmer is wat ons teruggehou het). Wanneer die grondtemperature tot onder 15-16 °C daal, val die loof af en groei die gemmer nie meer nie, maar hiberneer.

In Suid-Afrika laat ons die gemmer in die grond lê tot die pryse begin styg, gewoonlik rondom middel Maart, en dan haal ons uit soos nodig is. Sommige mense laat lê die gemmer tot die volgende seisoen, want in Januarie is die pryse gewoonlik baie hoog. Die gehalte begin natuurlik mettertyd agteruitgaan.

Waar verkoop julle jul gemmer?

Varsproduktemarkte is een van ons bemarkingsbene, en die ander is vaste kontrakte met kettingwinkels. Ons het baie jare gelede ook uitgevoer na Europa, maar die kool was die sous nie werd nie.

Kook jy graag met gemmer?

Ek hou daarvan om kerries met vars speserye te maak. Gewoonlik gebruik ek drie dele gemmer, twee dele knoffel en een deel rissies, dan gooi ek komyn, koljander en ’n bietjie borrie by.