Hoekom is Klein-Drakenstein so gesog vir koejawelverbouing?

Ons kry lekker reën in die winter en ons grond is goed. Ons somers is wel droog, maar as jy genoeg water het, is dit nie ’n probleem nie. Dis ’n vrugbare omgewing en boonop kan die boere gou op die mark wees met hul produkte. Ek verbou koejawels vir die vars-, inmaak- en sap- (puree) mark.

Waar is die koejawelbedryf in Suid-Afrika gesetel?

Ons is maar ’n klein bedryf, wat net sowat 25 000 ton vrugte verbou. Die hart van die bedryf is in die Wes-Kaap, veral rondom Wellington, die Paarl, Kraaifontein en Porterville. Daar word ook nog in die noorde van Suid-Afrika (Mpumalanga, Noordwes en Limpopo) met koejawels geboer, maar verwelksiekte keil hulle op.

Jou pa, Cornel, was ook ’n groot gees in die koejawelbedryf.

Hy was jare lank voorsitter van die koejawelprodusentevereniging kort nadat dit gestig is. In die 1940’s het die koejawelboere ’n rugbyspan in die Klein-Drakenstein gestig om koejawels te bemark. Hulle het ook een jaar ’n koejawelkoningin gekies en haar op ’n optog deur die Kaapse strate geneem.

Hoekom is dit nodig om nuwe koejawelkultivars te ontwikkel?

Fan Retief is steeds die gewildste kultivar, maar ons is baie opgewonde oor nuwe kultivars wat ontwikkel word. Dit sal baie goed vir die bedryf wees as ons ’n groter vrug met ’n lekker soet smaak en ’n beter houvermoë aan die vars mark kan lewer.

Hoe lyk die pryse vir koejawels?

Die pryse was baie goed, maar vanjaar het die pureemark se pryse skielik gedaal. Aangesien so ’n groot persentasie van ons vrugte na die puree- of sapmark gaan (bykans 75%), het dit ’n groot invloed op jou gemiddelde opbrengs per hektaar. Hoe groter die deel van jou oes is wat jy vir die vars- of inmaakmark kan lewer, hoe beter gaan dit met die boer se sak, maar dit het te doen met die gehalte wat jy kan lewer.

Watter probleme staar ’n koejawelboer in die gesig?

Dit is om vrugte van beter gehalte te produseer sodat ons meer vrugte na die vars- of inmaakmark kan stuur. Om ’n koejawel van goeie gehalte te verbou, moet die klimaat saamspeel. Ons gebied is nogal gevoelig vir die suidoostewind; ná so ’n wind deurgekom het, is merke op die vrugte altyd ’n struikelblok. Water bly ook altyd ’n probleem, veral in die somer, want die bome het baie water nodig tussen blom- en settyd

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.