Fresh Talks is ’n inisiatief van die PMA om die varsproduktesektor te help om die moeilike tye waarin die wêreld hom tans bevind die hoof te bied. Kenners word genooi om hul ervaring en insig met lede te bespreek.

Die RSA Groep het verlede maand ’n private mark in Midrand op die been gebring nadat die Tshwane-mark vir drie dae gesluit was toe iemand daar positief getoets het vir Covid-19. Oosthuizen het verduidelik dat die RSA Groep die sluiting van ’n munisipale mark as ’n ondenkbare scenario geïdentifiseer het en as groep het hy besluit om hom solank voor te berei op so ’n ondenkbare gebeurtenis.

“Ons het dit gedoen omdat ons so baie by ons produsente geleer het oor hoe hulle hul produksie-eenhede bestuur het deur dit in silo’s te plaas.” Toe die onwaarskynlike wel gebeur, was die RSA Groep voorbereid en was die perseel vir voortgesette handel reeds geïdentifiseer.

Oosthuizen glo die nuwe private mark het potensiaal op lang termyn. Soortgelyke markte word reeds suksesvol in Mooketsi en Polokwane bedryf.

Oosthuizen het die skerm gedeel met mnr. Hendrik Eksteen van Grow-markagente, wat op sy beurt gesê het die Covid-19-pandemie het beslis die krake in die bestuur van munisipale markte uitgewys.

Die pandemie het egter ook geleenthede vir die varsproduktesektor meegebring. “Ons sien deesdae baie meer informele kopers op ons markte,” het hy gesê en skryf dit toe aan die feit dat baie mense hul werk weens die staat van inperking verloor het. “Baie van hierdie mense sien die mark as ’n geleentheid om ’n klein besigheid te begin.”

Omdat baie mense skielik sonder kos is, het voedingskemas ’n belangrike koper op markte geword. In die verlede het sulke skemas sporadies op varsproduktemarkte kom koop, nou is hulle gereelde kopers, het Eksteen gesê en bygevoeg dat selfs buurlande se regerings deesdae baie produkte op Suid-Afrikaanse markte aankoop.

Met restaurante wat toe was, het Suid-Afrikaners weer leer kook en hulle skep aansienlik groter porsies groente op as restaurante. Dit, glo Eksteen, het bygedra tot ’n groter vraag na groente op markte.

Hy glo hierdie nuwe toetreders tot varsproduktemarkte sal op die markte aanhou koop selfs nadat die pandemie ten einde geloop het. “Hierdie kopers het nou die voordeel van die markte ervaar en ek glo hulle sal hier bly.”