Marlo Farms se boeredag het oor die afgelope paar jaar stil-stil een van die grootste geleenthede op Limpopo se landboukalender geword.

Op vanjaar se boeredag kon boere die produkte van 600 kultivars van onder meer tabak, kool, botterskorsies, boerpampoene, tamaties en slaai regstreeks met mekaar vergelyk. Die produkte is uitgestal in die rye waar die aanvanklike proewe geplant is.

“Ons het met die samewerking van die saadmaatskappye die behoefte geïdentifiseer om boere aan ’n wye reeks produkte bloot te stel,” sê mnr. Louis de Wet van Marlo Farms.

Omdat dit nie altyd moontlik is vir boere om proewe van al die saadmaatskappye se saad op hul plase te plant nie, het Marlo die proewe onder skadunet geplant sodat die geoeste produkte op die dag van sy jaarlikse boeredag gereed sou wees vir boere om te vergelyk. Alle produkte van spesifieke kategorieë is in dieselfde omgewing geplant en is in dieselfde toestande getoets.

Marlo Farms, ’n gediversifiseerde boerdery met ’n vee-, vrugte- en groente-afdeling, het in 1986 met ’n saailingkwekery begin toe me. Annette de Wet besef daar is ’n behoefte aan goeie saailinge vir Limpopo se groente- en vrugteboere.

Die De Wet-familie het reeds in die beginjare ’n jaarlikse boeredag aangebied, maar toe was dit niks meer as ’n handjie vol boere wat sommer in die woonhuis se tuin bymekaargekom het om oor die landbou en hul gewasse te gesels nie.

groente, varsprodukte, pampoene,
Op die jaarlikse Marlo-boeredag kon boere verskillende saadmaatskappye se groente- en tabakkultivars met mekaar vergelyk in ’n proewe wat spesifiek vir die boeredag aangeplant is. Foto: Jasper Raats
groente, varsprodukte, slaai,
Op die jaarlikse Marlo-boeredag kon boere verskillende saadmaatskappye se groente- en tabakkultivars met mekaar vergelyk in ’n proewe wat spesifiek vir die boeredag aangeplant is.Foto: Jasper Raats


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.