Só sê mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) se gesant vir markaangeleenthede in die Europese Unie (EU).

Altesaam 27 Spaanse munisipaliteite het onlangs protes aangeteken teen vrye handelsooreenkomste met sitrusuitvoerders in Suider-Afrika. Volgens mnr. Charles Peres, algemene sekretaris van die Spaanse produsente-organisasie La Unio, maak die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse sitrus in die Europese mark Spanje se sitrusbedryf seer. Spanje se sitrusuitvoer het verlede jaar met 14% gedaal.

Joubert sê Spanje se klagtes spruit uit ’n toegewing wat die EU gemaak het deur ’n heffing op Suid-Afrikaanse Valencias vanaf 15 Oktober verlede jaar te verlig. “Dit is nie iets waarvoor ons gevra het nie, dit is maar deel van ’n groter handelsooreenkoms en het eintlik weinig impak op ons bedryf,” sê hy.

Joubert en mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV, wys ook daarop dat nie ’n enkele Valencia ná 15 Oktober na die EU uitgevoer is nie. Die enigste Valencias wat teen daardie tyd nog in Europa beskikbaar was, was vrugte wat opgeberg word vir versapping. Dit is egter nie deur die tariefverlaging geraak nie.

Taai mededinging

Joubert gee toe dat Spanje in die vroeë seisoen taai mededinging van Suid-Afrika kry met sagtesitrus. “Omdat dit vroeg in die seisoen is, is die gehalte van die Spaanse vrugte nie watwonders nie en dan moet dit op die rak met laat Mandaryne uit Suid-Afrika meeding. Dieselfde geld egter weer aan die begin van ons seisoen, wanneer ons sagtesitrus met hul laat Mandaryne moet meeding. Dis nou maar internasionale handel. ’n Mens bestuur dit net.”

Volgens Joubert is Spanje soek net ’n sondebok om vir die land se landbouprobleme te blameer. “Dit gaan nie goed met die Spaanse ekonomie nie, groot hoeveelhede immigrante bring talle maatskaplike en ekonomiese probleme, kleinboere sukkel om winsgewend te bly en boonop is werkloosheid in sekere distrikte ’n probleem.”

Hy sê die land se sitrusbedryf kry baie stywer mededinging van produsente in die Noordelike Halfrond soos in Marokko, Egipte en Amerika. Die EU se tariefverlaging op Suid-Afrikaanse sitrus in Oktober was vir die Spaanse ’n strooihalm om na te gryp.

Joubert is nie bekommerd dat die bohaai tot markbeskerming teen Suid-Afrikaanse sitrus in Europa sal lei nie. “Suid-Afrika is in ’n goeie posisie. Die land lewer goeie vrugte en kry dit reg om swartvlek en besmetting met valskodlingmot suksesvol te bestuur. Daar is heelwat ander uitvoerlande wat voor Suid-Afrika staan om slae te kry as die EU druk op uitvoer uit die Suidelike Halfrond wil toepas.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.