Volgens mnr. Willem van Heerden, Ross Berries se regsverteenwoordiger, is daar min kans om die vraghouer vol bloubessies te red waarop die Europese doeane-owerheid op 26 Oktober beslag gelê het. Dae later is daar op ’n tweede vraghouer beslag gelê. Die  waarde van die bessies in albei vraghouers is sowat R4 miljoen.

United Exports, eienaar en bestuurder van die OZblu-kultivars, het die owerheid in kennis gestel dat hierdie vraghouer vol bessies op pad is na Rotterdam en dat dit nie die vereiste lisensie het nie. Die owerheid het in Rotterdam op die vraghouer beslag gelê en daarna het die wetlike protokol begin.

Volgens mnr. Steven Yeates, ’n vennoot by Adams&Adams wat spesialiseer in vervalste goedere, bepaal die Europese doeane-owerheid se protokol dat die klaer in die geval van vervalste produkte 10 dae het om te bewys dat die goedere vervals is waarna die owerheid die goedere sal vernietig. Alternatiewelik kan die twee partye ’n skikking bereik waarin die lot van die inhoud van die vraghouer bepaal word. As nie een van hierdie twee aksies plaasvind nie, sal die owerhede die vraghouer vrystel aan die verdedigende party, waarna die inhoud dan die normale gang sal gaan soos bepaal deur die uitvoerder. Die klaer kan egter vra dat hierdie grasietydperk met 10 dae verleng word.

Volgens me. Trix Ockeloen, vennoot by Knijff-handelsmerkprokureurs in Nederland is die grasietydperk met 10 dae ongewoon. Normaalweg, in die geval van bederfbare produkte, word die tydperk tot drie dae verkort.

Van Heerden sê hulle het die owerheid gevra om die tydperk te verkort, maar die owerheid het geweier.

Volgens mnr. Jon Salters, uitvoerende hoof van United Exports, het hulle herhaaldelik aan Ross Berries skikkingsaanbiedinge gemaak. “Nog voordat in Rotterdam op die bessies beslag gelê is, het ons al skikkingsaanbiedinge gemaak. Hulle wys ons aanbiedinge van die hand en dus skend hulle ons planttelersregte.”

Van Heerden hou vol dat Ross Berries by magte is om die bessies uit te voer. “Ons erken United Exports se planttelersregte en betaal ons tantième. Daar is nou ongelukkig min kans dat die bessies in daardie eerste vraghouer nog van so ’n gehalte is dat dit verkoop kan word. Dit sal waarskynlik vernietig moet word. In ons onderhandelinge met United Exports het ons aangebied dat die bessies vrygestel word en dat die inkomste uit die verkope in ’n trustrekening geplaas word sodat dit nie ’n totale verlies vir almal is nie. United Exports het egter geweier om hierdie aanbod te aanvaar.

“Ons bring ’n dringende saak op 13 November voor die hooggeregshof in Kaapstad wat, indien suksesvol, vir ons onder meer ’n tussentydse interdik sal toestaan wat ons in staat stel om vir die res van die seisoen ons eie vrugte te bemark en verkoop soos en waar ons wil. Ons verwag dat United Export se regsverteenwoordigers vir uitstel sal vra aangesien hulle weet ons seisoen is net nog vier weke lank. Hulle sal dit dus waarskynlik so moeilik as moontlik maak vir ons om sake te doen.”