Dit is dus moeilik om te voorspel hoe dit die plaaslike landboubedryf gaan raak.

Só sê prof. Francois Roets van Universiteit Stellenbosch se departement bewaringsekologie en entomologie. Roets was deel van die span wat onlangs in ’n verslag bevestig het dat die kewer wat in Somerset-Wes opgemerk is, wel die stompkopkewer is.

Roets sê die avokadobedryf in Kalifornië is in die verlede al hard getref deur die stompkopkewer, maar kommersiële avokadobome in Suid-Afrika het nog nie skade as gevolg daarvan gely nie. Die enigste avokadobome waarin stompkopkewer al in Suid-Afrika aangetref is, was in private tuine.

Hoewel die kewer in Mei 2017 by pekanneutbome by Jan Kempdorp opgemerk is, lyk dit of dié bome en makadamianeutbome nie-reproduktiewe gashere is, omdat die bome ’n natuurlike weerstand teen die kewer en sy simbiotiese swam het.

Roets sê stompkopkewers is ook al by appel- en kersiebome, asook wingerde gevind, maar daar is nog geen navorsing gedoen oor die invloed wat die kewer op hierdie gewasse kan hê nie. Dit is moontlik dat die kewer byvoorbeeld in Stellenbosch se akkerbome, ’n reproduktiewe gasheer, kan uitbroei en dan na wingerde kan versprei. 

Elke provinsie

Hy sê navorsing oor hoe die kewer gewasse in die plaaslike landboubedryf kan beïnvloed, is dringend nodig, veral aangesien die kewer al in elke provinsie in die land voorgekom het. “Om navorsing daaroor te kan doen, het ons geld en mense nodig sodat ons kan bepaal hoe die kewer en die swam wat hy vrystel, plaaslike gewasse kan beïnvloed.”

Hy sê dat die kewer aangetref kan word binne enige gewas met ’n stamdikte van 3 cm of meer. Enige boom met ’n dik genoeg stam kan dus in teorie ’n gasheer wees. Hoewel die kewer nie in alle bome kan broei nie, kan die teenwoordigheid van die kewer en die swam in ’n plant steeds ’n effek op die opbrengs hê.

Roets sê daar word vermoed dat die kewer selfs fynbos soos proteas as gasheer kan gebruik en dat dié kewer al in botaniese tuine aangetref is. “Dit is egter nog te vroeg om te sê of dit ’n groot probleem kan wees.”

Hy sê die grootste rede waarom navorsing dringend gedoen moet word, is omdat daar geen geregistreerde gifstof teen die kewer nie. Die enigste opsie wat tans doeltreffend is, is om bome te verwyder en die hout te vernietig as die kewer daarin begin broei het. “As ’n gifstof gevind word, sal verdere navorsing nodig wees om te bepaal of die toksiese effek van die gifstof ’n nadelige effek op boere se opbrengs sal hê.”

Hy sê die enigste manier om die verspreiding van die kewer te voorkom, is om die beweging van hout tussen verskillende gebiede te beperk.

Die stompkopkewer kom oorspronklik van Suidoos-Asië waar dit nie as ’n ernstige plaag bekend staan nie. Dit het eers navorsers en boere se aandag getrek nadat dit 15 jaar gelede bome in Israel en Kalifornië begin doodmaak het. Luidens ’n verslag deur die instituut vir bosbou- en landbou­biotegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria het navorsers eers in Februarie 2017 van die kewer se teenwoordigheid in Suid-Afrika bewus geword. 

Hoe gaan die kewer te werk?

Die stompkopkewer boor tonnels in ’n boom om tonnels te skep waarin eiers gelê kan word. Aangesien die kewer nie hout kan verteer nie, word ’n swam in die tonnels vrygestel waarop die kewers kan voed as hulle uitgebroei het. Die swam beskadig bome se hout. Elke vroulike kewer lê gemiddeld 34 eiers. Een manlike kewer broei uit vir elke tien vroulike kewers.

Luidens die verslag is dit belangrik om daarop te let dat nie alle bome waarin die kewer broei, sal vrek nie. Hoewel die kewer dié skadelike swam in bome kan vrystel, sal dit net in ’n klein aantal bome broei. Reproduktiewe gashere kry die meeste aandag wat die bekamping van die kewer betref. In Suid-Afrika is kewers reeds by 80 verskillende boomspesies gevind, onder meer 35 inheemse boomspesies. Sowat 20 van hierdie spesies is reproduktiewe gashere. Luidens die verslag is kewers al by makadamianeut-, perske-, sitrus-, koejawel- en pruimbome, asook wingerde aangetref.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.