Robbie en Hannetjie van den Berg van Friemersheim, ’n gewese sendingstasie naby Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap, is baie geesdriftig oor hul plasie wat hulle in 2007 “vir hul oudag” gekoop het. Robbie, die Hollander in die vennootskap, is ’n siviele ingenieur en Hannetjie ’n oud-skoolsekretaresse.

“Ons het ’n ernstige romantiese neiging. Boonop was dit die in-ding om te doen,” vertel Hannetjie oor hul besluit om met olywe te boer terwyl ander groot boerderye in die omgewing met ander gewasse sukses behaal.

“Die praktiese sy van die besluit was om aan te plant wat natuurlik in die omgewing voorkom. En hier was wilde-olyfbome. Toe plant ons olywe aan. Dit maak ons nou die enigste olyfplaas in hierdie omgewing. Die ander naaste een is by Stilbaai. Ons het egter nie ’n groot, kommersiële bedryf nie; dis ’n boetiekboerdery wat op ons eie, unieke produk konsentreer.”

VAN TENTHUIS TOT OPSTAL

Nie een van die twee het enige boerdery-agtergrond nie, maar op ’n dag in 2007 het hulle Kleinmond, waar hulle voorheen gewoon het, vir Friemersheim verruil. Daar het hulle die plasie van 1,8 ha gekoop wat hulle self kan bewerk. Ná die eerste oes het die Van den Bergs in 2010 met die hulp van ’n goeie vriend nog 3,6 ha aangrensend aan die oorspronklike grond gekoop.

Die aanvanklike skuif na Friemersheim was nie sonder haakplekke nie. Kattekwaad het nie ’n huis gehad nie, wat meegebring het dat hulle eers ’n plaashuis in die omgewing gehuur het om in te woon. In 2014 het hulle besluit hulle wil eerder op die plaas self woon. Hulle het toe ’n tenthuis opgeslaan en daarin gewoon totdat Robbie die opstal eiehandig klaar gebou het.

Die tent is behou en dit word nou as vakansieverblyf verhuur. Dit is toegerus met ’n kombuis en badkamer met die nodige geriewe. Tot dusver was dit nog nie juis nodig vir bemarking nie. Die meeste mense wat daar kom bly, hoor mondelings daarvan.

Omdat hulle olyfolie wou maak, het Robbie en Hannetjie op twee kultivars besluit: Frantoio, met ’n sagte, grasagtige smaak, en Coratina, met ’n kenmerkende pepersmaak. Albei is tradisionele kultivars wat goeie olie lewer, en die kombinasie maak ’n goeie, smaaklike olie.

Op die nuwe deel van die plaas het hulle ook die kultivar FS17, wat plaaslik ontwikkel is, aangeplant, maar dit aard nie so goed by hulle nie. Dit vaar baie beter by Oudtshoorn en De Rust aan die ander kant van die Oute- niquaberge.

Hoewel Robbie en Hannetjie nie boerderykennis gehad het nie, het hulle die regte stappe gevolg toe die boorde gevestig is. Aartappels is voorheen op die plaas verbou, wat beteken aalwurm kon ’n probleem wees. Tydens voorbereiding is die grond dus ooreenkomstig behandel.

Grondontledings is gedoen, die rye waar die bome geplant sou word is met ’n skeurtandwerktuig bewerk, en elke boom het beenmeel gekry toe dit aangeplant is. Die eerste aanplanting in 2009 was in rye wat noord-suid loop soos die grond en helling dit toegelaat het. Dit is ook die beste praktyk vir die omgewing.

Die eerste boompies is by Willow Creek in die Nuyvallei gekoop. Die tweede en derde boord se bome kom van Morgenster by Somerset-Wes.

Die eindproduk van hul harde werk.
Vanjaar se oes lyk belowend

boom sê self wat skort

Die Van den Bergs het by twee geleenthede blaarontledings gedoen, maar vind dis die beste om die boom self te lees. “Die boom sê self vir jou wat sy behoefte of probleem is. Daarvolgens volg ons ’n jaarlikse bemestingsiklus. In Augustus en September spuit ons blaarvoeding en net voor blomtyd, so November of Desember, nog ’n blaarvoeding. Een keer elke twee maande kry die bome organiese korrelbemesting.”

Veral twee plae teister die bome op Kattekwaad. Olyfnetvlerkbesies rig groot skade aan en moet gereeld bekamp word. Mieliekewers kom ook die afgelope twee jaar voor. Die kewers oorwinter in die grond en van September af kom hulle teen skemer en vroegoggend uit die grond. Hulle vreet alles voor die voet. Hulle word voorkomend behandel deur te ploeg en met insekdoder te bespuit.

Gras en onkruid wat tussen die rye groei, word met ’n skroeimiddel bespuit. Wanneer die bome gesnoei word, word die takke opgekap en tussen die bome gestrooi vir onkruidbekamping en vogbewaring.

Tot in 2014 is die bome net lig gesnoei om hulle te manipuleer om in die verlangde rigting te groei. Waterlote word voortdurend uitgesny. Ná die eerste oes is die bome oopgesny om meer lig in te laat. Dit word steeds gedoen wanneer dit nodig is.

Die olyfboord met wilde olywe op die voorgrond en die baai van Mosselbaai ver weg.

Eie krag en water

Daar was geen infrastruktuur op die plaas nie en hulle moes self inspring en die plaas inrig. Wat Kattekwaad nog meer uitsonderlik maak, is dat dit heeltemal omgewingsvriendelik en “groen” is. Hulle is onafhanklik van Eskom-krag. Sonpanele verskaf al die elektrisiteit, behalwe wanneer van Robbie se houtwerkmasjiene te veel krag benodig. Dan moet ’n kragopwekker die nodige doen.

Hul bad- en drinkwater is reënwater uit tenks van altesaam 17 500 liter. Waswater kom uit die besproeiingsdam op hul grond. Die vrylopende water is aanvanklik met waterleibeurte met ’n voor uit ’n dam in die berg voorsien, maar ’n pypleiding is in die plek van die oop voor gelê.

Besproeiing van die bome geskied deur water met ’n Listerpomp uit die dam in tenks te pomp. Daarvandaan loop die water na die bome met drupbesproeiing. Aanvanklik het die blok van 300 bome een keer per week water uit die 6 500 liter-tenk gekry. Toe die bome groter word, het die hoeveelheid tot twee keer per blok per week verdubbel. Tans besproei hulle regstreeks uit die dam volgens ’n 24-uur-siklus wat sowat 50 liter per boom per waterbeurt verskaf.

Die besproeiingswater vir die olyfbome kom uit hierdie dam met die pragtige Outeniquaberge op die agtergrond.

Robbie en Hannetjie doen alle werk op Kattekwaad self met die hulp van een permanente werker. Net in pluktyd kry hulle ekstra werkers uit Friemersheim. Alles word met die hand gepluk.

Kattekwaad se olywe word by De Rustica-landgoed by De Rust gepers, waarna hulle self die olie op Kattekwaad botteleer. Pluktyd is normaalweg in April en Mei om by De Rustica se program in te pas. Die olywe word gepluk as hulle halfgroen of halfpers is. Verlede jaar se buitengewoon koue winter het vanjaar se pluktyd met ’n maand aangeskuif. Olywe word net vir eie gebruik ingelê.

Die opbrengs verskil van jaar tot jaar. Die droogte van die afgelope paar jaar het die oes erg benadeel. Die Van den Bergs se eerste oes in 2014, toe die 300 bome vyf jaar oud was, het 280 kg olywe opgelewer, waarvan 74 liter olie van goeie gehalte gemaak is. In 2016 is ’n oes met ’n opbrengs van 50 li- ter afgehaal en in 2018 is sowat 30 liter geproduseer. Vanjaar is die vooruitsig goed om ’n goeie oes van die 1 380 bome af te haal.

Die omgewing het ’n baie gematigder klimaat as ander streke, met grootliks ’n suidewind waarvan die bome hou. Die winter van 2020 was egter kouer as gewoonlik, wat die bome met ’n kouebehoefte goed gedoen het.

Die tenthuis wat as vakansieverblyf gehuur kan word.
Pikkie, die stuitige kat, was die inspirasie vir die plaas se naam.

Hout- en loodglaswerk

Om ’n boerdery eiehandig te behartig, beteken ’n mens sit nie baie stil nie, maar Robbie en Hannetjie hou hulle nie net met olywe besig nie. Wanneer Robbie nie met die olyfbome doenig is nie, doen hy houtwerk. Hy maak onder meer ingeboude kaste op bestelling.

Hannetjie leef haar kunstigheid uit deur loodglaswerk te doen — ook op bestelling. Hulle kan die ekstra werk egter net doen wanneer die boerdery nie soveel tyd en geld vereis nie.

Kattekwaad lê hulle baie na aan die hart en sal altyd ’n huldeblyk aan al die oulike, stuitige katte in hul lewe bly.

Navrae: Hannetjie van den Berg, 073 227 5217.