Die naam Charl Senekal is sinoniem met suiker. Hierdie boer van Mkuze in die noorde van KwaZulu-Natal tel onder die grootste private suikerrietboere in die Suidelike Halfrond, met 4 200 ha landerye onder besproeiing.

Hy is ook aan die voorpunt van die benutting van tegnologie met sy suikerrietboerdery en het opbrengste danksy ondergrondse drupbesproeiing drasties verhoog.

Verskeie faktore het egter die afgelope tyd teen suiker getel, waaronder Suid-Afrika se sukkelende ekonomie met gevolglik swakker besteding deur veral die middelklas en armer deel van die bevolking, die Covid-19-pandemie wat die bestedingskrag verder ingekort het, invoer van goedkoop suiker deur groot maatskappye en veldtogte teen die gebruik van suiker in kos en koeldrank.

Senekal en sy seuns Dreyer en André verbou suikerriet en boer met vleisbeeste. Sy ander seun, Charl jr., bedryf ’n wildplaas wat op ekotoerisme en natuur- en wildfotografie gerig is, en sy dogter, Mari, en skoondogters, Colette en Daniela, bestuur herberge wat gewilde bestemmings vir vakansiegangers is.

Die Senekal-boerdery verbou ook brandrissies, is ’n aandeelhouer in ’n suikeraanleg, besit ondernemings wat werktuie en landboumiddele verkoop, en doen chemiese bespuiting met hommeltuie vir ander boere.

Reusedruk

Charl sr. beskryf die druk op die suikerbedryf as reusagtig – in Suid-Afrika én in die buiteland – omdat die gebruik van suiker afneem.

Die situasie in Suid-Afrika het vererger toe 512 000 ton suiker, ’n derde van die jaarlikse plaaslike verbruik, twee jaar gelede deur sakelui goedkoop in groot maat vanaf Brasilië via die Verenigde Arabiese Emirate ingevoer is. Dit was in stryd met bestaande ooreenkomste met ondernemings en het gebeur net nadat die tarief wat plaaslike boere beskerm, verval het.

Die Senekal-boerdery het 4 200 ha suikerrietlande onder besproeiing en lewer 350 000 ton tot 380 000 ton suikerriet per jaar, wat oor ’n jaar tot 400 000 ton sal toeneem. Hy is besig om van sy ou suikerrietlande te hervestig pleks van om bykomende, nuwe lande te maak wat baie duur is omdat veld ontbos en die grond voorberei moet word. Nuwe lande se produksie is egter hoër.

Mnr. Charl en me. Elize Senekal met tien van hul elf kleinkinders. Van links by ouma en oupa is Delanie, Dia, Elize, Victor, Ruan, Charl, Duney, Cerise, Mine en Lienke. Danica was afwesig. Foto: Charl Senekal jr.

Nuwe bedrywe

Pleks daarvan om sy suikerrietproduksie te verminder, diversifiseer die Senekals eerder na nuwe boerderyvertakkings.

“Ek besef ons het té veel op die suikerbedryf staatgemaak. Ons kan nie met invoer vanaf gesubsidieerde lande meeding nie. Hulle kan suiker goedkoper as ons produseer.

“Die plaaslike prys van suiker het intussen verstewig, die verkope het weer toegeneem en die Suid-Afrikaanse Suikervereniging het met kettingwinkels en groot verbruikers van suiker, soos voedselvervaardigers, onderhandel om eerder plaaslike suiker te gebruik. Ons het nogtans besluit om te diversifiseer deur ook makadamianeute en sitrus te plant,” sê Charl sr.

Daarvoor het hulle ’n aangrensende plaas gekoop wat op die mark was. Met die staat se goedkeuring is die grond ontbos, boorde is voorberei en besproeiingpype is vanaf hul bestaande waternetwerk aangelê.

Die water kom uit die Jozinidam (Pongolapoortdam) en die standhoudende Mkuzirivier, wat vir 13 km deur die boerdery se plase vloei. Die water word deur Senekal se eie pypleiding vanaf die Jozinidam na sy plaasdamme gepomp, vanwaar dit met swaartekrag en elektriese pompe na die landerye en boorde gaan.

Die boompies is deur die bemiddeling van Dole in Bellville vanaf uitgesoekte kwekerye in Citrusdal en Tzaneen bekom. Die eerste neutbome is drie jaar gelede aangeplant. Dole gaan die Senekals ook met uitvoer help.

Eerste neute

Hulle het reeds 60 ha makadamias geplant en die bome het al begin dra, en in 2021 behoort die boerdery ’n redelike oes te hê. Senekal sê hy is egter nog nie seker hoe geskik sy klimaat vir makadamianeute is nie. Daarom vestig hulle eers nie nóg neutbome nie sodat hulle eers kan kyk hoeveel die bome dra.

Mkuzi is ’n nuwe neutgebied en van die eerste boere oes net sowat 2 t/ha, dalk omdat die temperatuur vanweë die baie warm somers (tot 45 ºC) en matige winters (nie laer as 10 ºC) nie so geskik vir hierdie bome is soos die hoofproduksiegebiede by Witrivier en Nelspruit nie. Senekal dink nietemin die potensiaal is ongeveer 5 t/ha.

“ ’n Opbrengs van 2 t/ha is al lewensvat- baar en 5 t/ha behoort ’n fantastiese boerdery te wees.”

Hulle het reeds ’n aanbod van ’n Nederlandse maatskappy gekry om 1 000 ha makadamiaboorde te plant en die hele oes te koop. Die Senekals moet die grond verskaf en die Nederlanders sal die vestigingskoste dra.

Houtbrokke word teen sowat 25 t/ha op die riwwe tussen die lemoenbome uitgestrooi om vog te bewaar, onkruid te onderdruk en die grond te verryk. Foto: Charl van Rooyen

Pak sitrus aan

Intussen vestig die Senekals ook sitrus nadat hulle mega-sitrusboere en ’n onafhanklike sitrusraadgewer, dr. Graham Barry van Gauteng, geraadpleeg het.

Hulle plant hoofsaaklik pomelo’s (Star Ruby), die hele reeks Valencia-lemoene en die reeks Kobus du Toit-lemoene. Die verskillende tipes en kultivars word op verskillende tye ryp en versprei die druk op die oes en verpakking oor ’n langer tydperk om opeenhopings te vermy. Veral Star Ruby pas uitstekend in die noorde van KwaZulu-Natal aan waar die klimaat uitgeknip is daarvoor. Dit is oesgereed in ’n stadium wanneer die aanbod en gehalte op die markte reeds begin daal.

Die neut- en sitrusbome word nes 2 000 ha van die boerdery se suikerrietlande met drupbesproeiing natgemaak. Tensiometers meet die hoeveelheid vog in die grond sodat die besproeiing doeltreffend geskeduleer en verseker kan word die bome ly nooit droogte nie.

Die jong bome word een keer per week ongeveer 12 uur lank diep natgemaak. Dan word die toediening gestaak totdat die vogmeters aandui die boorde moet weer besproei word. Die toedieningstempo is ’n liter per uur. Sodra die bome groter is, sal hulle ’n bykomende drupperlyn by elke boom installeer.

Senekal sê hulle wil 200 ha sitrus per jaar plant en hul aanvanklike mikpunt is 800 ha boorde.

Beoog uitvoer

Die eerste klein oeste sal plaaslik verkoop word, maar wanneer die boorde waarskynlik in die vyfde jaar in volle produksie sal wees, gaan hulle ál die sitrus (en neute) uitvoer, danksy die rand-dollar-wisselkoers wat baie gunstig vir uitvoer vanaf Suid-Afrika is.

“Ons het ’n kontrak met Dole vir 250 ha sitrus en sal vir verdere aanplantings moet onderhandel. Ek gesels met ander mega- boere in die sitrusbedryf sodat ons dalk ook saam met hulle kan uitvoer.

“Ek vind groot baat by my samesprekings met groot boere, want hulle het reeds baie ervaring en kennis van sitrus. Hulle laat my tuis voel in ’n vreemde omgewing.”

Vir die eerste drie of vier jaar gaan die Senekals hul sitrus in ’n pakhuis op Pongola laat verpak. In die vyfde produksiejaar behoort hul eie, nuwe pakhuis gereed te wees. Dit sal ’n aparte afdeling vir neute hê. Die boerdery oorweeg ook sy eie kartonfabriek omdat ’n oes vanaf 800 ha sowat R15 miljoen se kartonhouers per jaar sal verg.

Senekal sê hul mikpunt is ’n opbrengs van 65 t/ha lemoene en 85 t/ha pomelo’s. Ander plaaslike boere en Australiese boere met ’n soortgelyke klimaat beskou dit as realisties. ’n Opbrengs van 60 t/ha (4 000 kartonhouers van 15 kg elk) is reeds goed.

Suikerriet bly koning

“Ek is ’n suikerrietman en staan by my produk. Wat ek vandag is, het suiker moontlik gemaak,” sê Senekal, wat ook 25% aandele in die Umfolozi-suikermeule by Mtubatuba het. Hy laat verwerk die helfte van sy eie suikerrietoes daar en stuur die ander helfte per trein en met vragmotors na die Felixton-suikermeule buite Empangeni wat aan die Tongaat Hulett-groep behoort en as een van die bestes in die bedryf beskou word. Die treinvervoer is in sy vyfde jaar. Een treinvrag per dag word na die meule gestuur. Dit is ’n beter manier van vervoer omdat die paaie baie besig raak. “Ondanks die druk op suiker gaan ek nie my produksie verminder nie. Ek is besig om ál die lande wat reeds geoes is, weer met suikerriet te beplant met die oogmerk om die maksimum oeste te behaal.” In ’n opvolgartikel kom die Senekals se toerisme, wildboerdery en natuurfotografie aan die beurt.

Navrae: Mnr. Charl Senekal, e-pos: charl@sensugar.com

Van werktuie tot bemagtiging

’n Agentskap vir die verkoop van ’n reeks Koreaanse trekkers en Nederlandse plaaswerktuie wat albei in Brasilië vervaardig word, tel onder die bykomende vertakkings van die Senekal-boerdery.

Mnr. Charl Senekal sr. se oudste seun, Dreyer, sê hy het die eksklusiewe agentskap bekom om trekkers van Leading Solutions (LS) te verkoop. Hierdie trekkers is in Suid-Korea ontwerp, maar word in Brasilië gebou, vanwaar hy dit gaan invoer sodra hy finale goedkeuring van die staat ontvang het. Vir dié doel is ’n nuwe filiaal van Senekal-boerdery, naamlik Senagri, gestig.

Mnr. Dreyer Senekal by een van die trekkers wat hy invoer. Hierdie model is die H 145 en het ’n Perkins- enjin wat 108 kW lewer. Foto: Senekal- boerdery

LS-trekkers het reeds agentskappe in 41 lande, waarvan Duitsland en Suid-Afrika die mees onlangse toevoegings is. Die Brasiliaanse fabriek kan 50 000 trekkers per jaar vervaardig. Die hele reeks word met vlak 3-enjins toegerus om aan die streng reëls vir uitlaatgasse te voldoen. Die enjins wissel van 19 kW tot 119 kW. Die modelle van 19 kW tot 59 kW is met LS-enjins toegerus, terwyl die groter modelle met Perkins-enjins spog. Almal het ZS-ewenaars en die ratkaste wissel van ’n 12- tot 40-gangratkas. Die brandstofverbruik beloop ongeveer 3,9 liter/h as die trekker ’n boordspuit met ’n tenk van 3 500 liter sleep.

Dreyer sê hy gaan aanvanklik agt tot tien modelle invoer, wat boordtrekkers insluit. Pryse moet nog bepaal word, want dit hang van die wisselkoers af. Pryse behoort egter van R400 000 tot R1,2 miljoen te wissel. Alle onderdele sal plaaslik verskaf kan word.

Hy beoog om geakkrediteerde agente aan te stel en ’n bestuurder en werktuigkundige in Brasilië te laat oplei. Die trekkers sal by enige werkwinkel gediens kan word. Hy het ook die agentskap vir die bekende JAN-werktuie bekom, wat onder meer kunsmisstrooiers, selfaangedrewe gewasspuite, stropertafels, kunsmis-, kalk- en misstrooiers en tapkarre insluit. Hierdie werktuie word in Nederland ontwerp en in Brasilië vervaardig in ’n fabriek wat slegs 10 km vanaf die LS-trekkerfabriek geleë is.

Hy is ook ’n agentskap vir die Indiese Eicher-trekker aangebied. Dit is ’n goedkoop trekker waarvan reeds meer as ’n miljoen wêreldwyd verkoop is.

Beesboerdery

Dreyer bedryf ’n kommersiële Bonsmara- boerdery wat uit 220 koeie bestaan. Sowat 15-20% van die versies word vir die vervanging van ou koeie teruggehou. Al die bulletjies word met speentyd gekastreer en as speenkalwers verkoop of as osse grootgemaak. ’n Groot voordeel is dat die Senekal- boerdery baie natuurlike veld het en dus ’n osboerdery kan bedryf.

Hulle het ook 30 ha Brasiliaanse gras wat met ’n spilpunt besproei word. In die somer word die gras elke drie weke afgesny en gebaal en in die winter elke ses weke. Die beeste wei heeljaar op die veld en kry saans Brasiliaanse gras in hooivorm om hulle kraal toe te lok, waar hulle uit roofdiere en veediewe se kloue kan bly.

Hulle kry min lek. “Ek het baie lekke beproef, maar het gevind dit is in ons toestande nie nodig vir die beeste nie. Ons koop melasse goedkoop en gee dit saam met mielies vir die beeste vir ekstra energie.”

Die kalfsyfer is sowat 75%. Hy volg nie ’n dek- en kalftyd nie, en hou die bulle permanent by die koeie omdat hy die aanteel deur die jaar alles van die plaas af verkoop, meestal aan klein aankopers wat net drie tot vier beeste op ’n keer soek.

Projekte vir bemagtiging

Dreyer bestuur ook ’n bemagtigingsprojek om swart gemeenskappe in die omgewing te help om finansiering van die Land Bank te verkry sodat hulle kommersiële boerderye op die been kan bring.

“Indien dit ’n werklikheid word en ons finansiering bekom, sal ons ’n vennootskap met boere van die nabygeleë Ngonyama-trust aangaan ingevolge waarvan die Senekal-boerdery 60% van die aandele in die boerdery besit en die boere 40%. Hulle gee dan die grond en ons verskaf die kundigheid om die boerdery te bestuur. Daarvoor sal ’n maatskappy gestig word.”

’n Boerdery met brandrissies is ook aangepak om werk aan die plaaslike gemeenskap te verskaf. In die oestyd gebruik Dreyer tot 140 werkers. Die rissies beslaan 25 ha en is onder drupbesproeiing. Die opbrengs bedra sowat 25 t/ha. Die pryse is nie watwonders nie omdat baie boere hierdie gewas verbou. Hy het vanjaar ’n nuwe kultivar, Fury, van Sakata geplant wat later in die winter oesgereed is wanneer die markprys hoër is. 

Navrae: Mnr. Dreyer Senekal, e-pos: dreyer@sensugar.com, 082 447 2128.

Hommeltuigvertakking

Die bespuiting van gewasse, plantasies en vrugtebome met hommeltuie is ’n nuwe onderneming wat mnr. André Senekal aangepak het.

Die bespuiting van gewasse, plantasies en vrugtebome met hommeltuie is ’n nuwe besigheid wat deur mnr. André Senekal aangepak is. Foto: Senekal- boerdery

Die hommeltuie doen met afstandbeheer chemiese toediening van onder meer rypmakers by suikerriet en blaarvoeding en plaagbestrydingsmiddels by bome en gewasse. Senekal het ’n maatskappy, Agripoint Drone Services, gestig en nege hommeltuie aangeskaf. Die hommeltuie word in lisensie van DC Geomatics bedryf, wat die kundigheid en infrastruktuur het om sulke werk wettig uit te voer.

Lugvaartreëls word streng gevolg en ’n vlugplan word voor elke bespuiting ingedien. Agripoint Drone Services is ’n lugdiensverskaffer vir DC Geomatics, wat die lisensiehouer by die burgerlike lugvaartowerheid (CAA) is. Al die beplande hommeltuigvlugte word dus deur DC Geomatics behartig en vlugplanne en toestemming word van die CAA verkry. Hommeltuie het registrasienommers soos vliegtuie en alles word 100% volgens wet gedoen.

Voordat die bespuiting gedoen word, laat doen Senekal eers ’n lugopname om op die hoogte van die terrein te kom, asook van die ligging van hoë bome en ander versperrings, soos kragdrade. Dan word ’n elektroniese kaart van die terrein geskep wat op die hommeltuig se geheuekaart afgelaai word.

Met satellietwaarneming kan die hommeltuig dan sy diens met behulp van die basisstasie veilig en doeltreffend verrig. Die rekenaar “gesels” met die basis-stasie en doen die spuitwerk outomaties sonder die hommeltuigoperateur.

Mnr. André Senekal Foto: Senekal- boerdery

’n Hommeltuig kan geprogrammeer word om individuele bome of breedwerpig te bespuit. Dit kan met 10-16 liter spuitstof aan boord opstyg. “Die akkuraatheid van die bespuitings teen-oor ander metodes is ongelooflik.”

’n Mobiele basisstasie is aangeskaf om die hommeltuie te beheer. Sodoende kan hulle enige bespuiting doen wat die boer wil hê. Dit strek vanaf voorplant-onkruiddoders op ’n land of om ’n vrugteboom tot opvolg-bespuitings om onkruid te bekamp.

Senekal sê die koste van die hommeltuigdiens moenie met dié van die toediening van chemiese middels met selfaangedrewe gewasspuite, trekker-en-spuitkombinasies, vliegtuig of helikopter vergelyk word nie omdat eersgenoemde baie akkurater en dus doeltreffender is.

Die koste is nietemin soortgelyk aan toediening met ’n helikopter, terwyl toediening met ’n vliegtuig dalk goedkoper as met die hommeltuie is. Die koste kan egter net bepaal word op grond van die betrokke diens wat aangevra word, asook die situasie op die plaas.

Hommeltuie kan ook van termiese toerusting voorsien word wanneer boere voorbrande maak. Dan hou die hommeltuig die situasie vanuit die lug dop en kan “sien” wanneer ’n voorbrand weer opvlam. 

Navrae: Mnr. André Senekal, e-pos: andre@sensugar.com, 082 771 3040.