Suurlemoene word glo vir meer as R200 per 15 kg in Europa verkoop.

“Die suurlemoenprys is baie hoog. Daar is tekorte in Europa, want Spanje het ’n swak en laat oes wat ’n gaping op die mark los,” sê mnr. Gerrit van der Merwe van ALG-Boerdery op Citrusdal.

Volgens die webwerf Freshplaza het Turkye ook probleme ervaar. Sy suurlemoenseisoen het boonop vroeg geëindig.

Verbruikers koop meer bewustelik produkte om gesondheidsredes. Sitrus het twee groot voordele: Dit is ’n goeie bron van vitamien C en dit het ’n goeie houvermoë.

Dit bring geleenthede vir Suid-Afrikaanse sitrusprodusente, vir wie ’n goeie suurlemoenoes voorspel word. Die huidige wisselkoers is ook gunstig vir uitvoerboere.

“Daar is ’n goeie, gemiddelde sitrusoes. Ons voorsien meer klas 1-vrugte as verlede jaar, wat ’n moeilike jaar was. Daar is egter baie, baie groot kwessies vanjaar, van produksie tot verpakking en verskeping,” sê Van der Merwe, met verwysing na die Covid-19-pandemie.

Oestyd

Mnr. Justin Chadwick van die Sitruskwekersvereniging sê die sitrusbedryf sal ná die Paasnaweek in alle erns begin oes. Hy verwag dat die verskaffingsketting die druk sal voel namate oestyd en pakskure op dreef kom.

“Transnet se huidige 30%-werkskoers veroorsaak aansienlike probleme in die hawens.”

Ongeveer 90% van die Suid-Afrikaanse sitrusoes word uitgevoer, sê mnr. Hannes Joubert van Habata-boerdery by Kirkwood. Hy is egter versigtig oor berigte oor die hoë suurlemoenpryse.

“Alles is gehul in onsekerheid en ons is in oorlewingsmodus. Dis alles duister hoe ons die vrugte gepluk en gepak gaan kry, en tot hoe ’n mate jy dit deur die hawens gaan kry, hoe dit ontvang en afgelaai gaan word, asook hoeveel houers daar beskikbaar is. Wêreldwyd is die hawens vertraag en oral gaan dit stadiger. Ons het met maksimum kwessies aan alle fronte te doen.”

Joubert sê hulle doen hul bes om hulself en hul werkers gesond te hou in die pakhuise en op vervoermiddels.

“Alles gaan met koste, risiko en verskriklike onsekerheid gepaard. Ons grootste prioriteit is egter om die vrugte te oes en op die markte te kry, asook om ons mense van kos te voorsien. Daarom plant ons ook gewasse soos kool en botterskorsies om in mense se basiese voedselbehoeftes te voorsien.”