Suid-Korea en die Filippyne is boaan die lys van nuwe markte wat hulle vir Suid-Afrikaanse tafeldruiwe probeer open, het mnr. Willem Bestbier, uitvoerende hoof van die SA Tafeldruifbedryf (Sati), tydens die opening van Villion Farms se nuwe pakhuisgerief op De Doorns gesê.

Boonop wil die bedryf teen 2024 altesaam 10 miljoen kartonhouers tafeldruiwe na China uitvoer.

Bestbier sê Suid-Afrikaanse tafeldruifboere produseer tans sowat 65 miljoen kartonhouers per jaar. Die bedryf groei teen 3% tot 5% per jaar. “Die aanplantings is reeds gedoen of die stokke is bestel wat met verloop van tyd die produksie tot 75 miljoen kartonhouers gaan opskuif. Ons is dankbaar om in ’n bedryf te wees wat groei, maar daar is kwessies aan die markkant.” 

Moet Asië, Verre-Ooste wen

Sati streef na markgedrewe groei en hoop om binne “ ’n jaar of twee” vordering te maak met nuwe markte. “Ons sal nuwe markte moet wen en suksesvol ontwikkel. Daar is nie ’n kans dat ons die bykomende 10 miljoen kartonhouers wat op pad is, na Europa en Brittanje kan stuur nie. Ons sal van Asië en die Verre Ooste ’n sukses moet maak.”

Hy sê die nuwe markte sal “sonder uitsondering” spesiale behoeftes, soos koue-steri-behandeling, vereis.

“Suid-Korea lê naby op die horison as ’n nuwe mark. Ons het verteenwoordigers reeds genooi vir ’n verifikasiebesoek en wag tans op ’n antwoord. Ek is vol vertroue dat as Suid-Korea nie reeds hierdie seisoen aan boord kom nie, sal dit vroeg in die volgende seisoen wees. Ek sal baie teleurgesteld wees as ons in die 2019-’20-seisoen nog nie daarheen kan uitvoer nie.”

Daarna wink die Filippyne.

“Sitrus geniet tans voorrang en ons het gehoor Suid-Afrika gaan reeds dié seisoen sitrus na die Filippyne kan uitvoer. Tafeldruiwe is volgende op die lys en ons werk hard daaraan om dit reg te kry, maar dit kan drie, vyf of selfs tien jaar kos. Toe ons Thailand as ’n mark verloor het, het dit sowat agt jaar gekos om ’n bestaande mark terug te kry.”

Voorts wil die bedryf ’n spesiale poging in China aanwend. “China moenie net vir ons belangrik wees nie, maar ons moet ook belangrik raak vir China. Ons visie is om binne vyf jaar 10 miljoen kartonhouers soontoe te stuur.” 

Tegnologie gaan help

Bestbier sê in ’n uitdagende wêreld is die bedryf net seker van twee dinge: verandering en meedoënlose mededinging.

“Aan die voorkant hap Peru en agter ons hap Indië vir ons markaandeel. Ons moet dus tegnologie en innovasie aanwend om ons plek in die son te verseker.”

Volgens hom is die tegnologies gedrewe Villion-pakhuis ’n goeie voorbeeld van die “innovasie, waagmoed en leierskap” wat nodig is om die bedryf te laat vooruitgaan.

Landbouweekblad berig binnekort volledig oor Villion Farms se nuwe geriewe.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.