Burger het tydens ’n inligtingsdag wat deur die SA Wingerd- en Wynvereniging (SAWWV) op Stellenbosch aangebied is, gesê die eerste tafeldruifteelprogram het in 1952 begin en in 1965 is die eerste swarttafeldruifkultivar beskikbaar gestel. Dit het pitte gehad. Die doelwit met tafeldruiwe is om pitlose kultivars te teel. In 1986 is die eerste pitlose tafeldruifkultivar kommersieel beskikbaar gestel.

Pitlose tafeldruifkultivars maak tans sowat 71% van alle druiwe op die vars mark uit. Die jongste teelprogramme, wat grootliks deur die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf (Sati) bedryf word, lê groot klem op siekteweerstand.

Mnr. Andries Daniëls, ook van die LNR, het gesê die teling van droogdruiwekultivars het in 1987 ernstig begin en daar is veral gekonsentreer op die kultivar SultanaH5. Die kultivar het egter tekortkominge, waaronder onvrugbaarheid, wisselvallige produksie, los korrels en korrels wat ná reën bars. Daarom word gesoek na droogkultivars wat nie dié tekortkominge het nie. Deesdae word veral ook gekyk na die wingerd se gedrag op verskillende onderstokke.

Een van die kultivars onder evaluasie waaroor veral opgewondenheid bestaan, is Sundowner, wat mooi ronde, mediumgroot, pitlose korrels produseer. Ander belowende kultivars is G4-4040 en G4-220.

Me. Elleunorah Allsopp van die LNR het gesê van die grootste kwessies vandag is dat die tafeldruiwe met die minste moontlike chemikalieë geproduseer moet word. Ten spyte van groter druk van siektes en plae weens veranderende klimaatsomstandighede dring die mark aan op minder chemiese ingryping. Biologiese beheer is daarom noodsaaklik.

Verbruikers sal ook moet begin om tegnieke soos genetiese modifikasie te aanvaar sodat natuurlike weerstand teen plae en siektes ingeteel kan word.

Boerderypraktyke sal moet aanpas en opgeskerp word in die natuurlike stryd teen siektes. Meer navorsing is nodig en daarvoor is vennootskappe tussen alle belanghebbendes nodig.