Die pypleiding (met ’n deursnee van 800 mm) pomp water van die Oranjerivier by Aussenkehr oor ’n afstand van 6 km na die wingerde. Die 3 400 m3 water is genoeg om 540 ha druiwe te besproei.

Die Aussenkehrvallei lewer sewe miljoen kartonhouers tafeldruiwe per jaar.

Mnr. Kobus Bothma, die direkteur van Capespan Namibia, sê die maatskappy het die afgelope drie jaar ook nuwe koelkamergeriewe en pakstelsels gebou, asook 14 nuwe kultivars aangeplant, wat die IFG-, SNFL- en Arra-kultivarreeks insluit. Verder evalueer die maatskappy ’n bykomende 60 nuwe kultivars.

Vir die Capespan-groep is Capespan Namibië strategies geleë om volgehoue toegang tot wêreldmarkte te verseker. Dit bied die groep die geleentheid om klante in verskeie oorsese markte met tafeldruiwe van hoë gehalte in die tyd voor Kersfees te voorsien wanneer die vraag baie hoër is as normaalweg.