Nagenoeg die helfte van die uitvoervrugte in Suid-Afrika word tans ingevolge intellektuele-eiendomlisensies (IE-lisensies) verbou. Dit is luidens ’n studie wat in 2019 deur die nywerheidsontwikkelings-dinkskrum van die Universiteit van Johannesburg gedoen is.

In ag genome dat ’n goeie, gelisensieerde kultivar van byvoorbeeld satsumas tot drie keer die verdienste van ’n oop, ongelisensieerde kultivar kan verdien, is die bevindinge van die studie dat vrugteproduksie toenemend aan lisensies onderhewig gaan wees, geen verrassing nie. Geskille tussen IE-eienaars en gekontrakteerde produsente is ook te wagte, juis omdat kontrakte dikwels baie ingewikkeld kan wees, meen mnr. Albert Coetzee, ’n landbou-ekonoom met ervaring van planttelersregte.

Einde 2020 het ’n geskil oor IE-lisensies tussen die bloubessieprodusent Ross Berries en ’n IE-eienaar, United Exports, meegebring dat die doeane-owerhede in die Rotterdamhawe in Nederland beslag gelê het op vraghouers met bloubessies, en dit kon nie na die klante verskeep word nie. Dit het finansiële verliese vir Ross Berries meegebring en gelei tot ’n regsproses wat na raming tot laat in 2022 sal voortduur, en waarskynlik vir albei partye groot regskoste sal meebring.

Coetzee meen produsente moet heelwat voorbereiding doen om te verseker die regte geleenthede word benut en slaggate word vermy voordat produksiekontrakte met IE-eienaars geteken word.

Kontrakte bindend

Die eerste en belangrikste aspek van produksiekontrakte met planttelersregte en IE-lisensies is dat dit bindend is, sê Coetzee.

“Sodra kontrakte gesluit en geteken is, is dit baie moeilik en duur om dit te verander of daaruit te kom. Ek weet van geen uitsondering waar dit nie sonder groot koste opgehef is nie. In gevalle waar kontrakte wel opgehef is, is die plantmateriaal op die produsent se perseel uitgetrek. Die produsent kan dus nie die teelmateriaal gebruik om deur iemand anders te bemark of selfs onder ’n ander handelsmerk te bemark nie. ’n Reg om die vrugte te produseer, is nie gelykstaande aan die eienaarskap van die teelmateriaal nie.”

Die beginpunt van so ’n ooreenkoms is wedersydse vertroue en deursigtigheid om begrip vir albei partye se situasie te verseker. “ ’n IE-eienaar doen ’n groot belegging om slegs een nuwe, gesogte, winsgewende kultivar te ontwikkel. Dit kos ’n span wetenskaplikes, bemarkers, produksiekundiges en ekonome tot 15 jaar om ’n enkele, bemarkbare kultivar met ’n werkbare sakemodel bekend te stel. Afgesien van die finansiële belegging is daar ’n strategiese visie wat oor 10-15 jaar ontwikkel word. Dit lei daartoe dat die IE-eienaar dikwels beheer oor die teelmateriaal wil neem. Hy wil meer betrokke in die waardeketting wees om sy belegging en visie te beskerm, en dit bring dikwels mee dat IE-eienaar voorskriftelik is oor waar en deur watter agentskappe vrugte verpak, verskeep en bemark mag word.”

Eienaars van IE-lisensies hou nie altyd in gedagte dat namate produksievolumes in elke bedryf toeneem, die winsmarges op kultivars met hoë waarde ook onder druk kom nie.

“Dit lei vinnig tot onenigheid wanneer ’n produsent sukkel om wins te toon, terwyl die IE-eienaar aandring op die aanvanklik ooreengekome tantième, ongeag die feit dat dit die produsent tot ’n verlies dryf. ’n Deursigtige kontrak, sterk vertroue in mekaar se besighede en die vermoë om voortdurend met mekaar te kan kommunikeer, is die geheim tot sukses met ingewikkelde ooreenkomste.

“Enige voorwaarde met betrekking tot enige aktiwiteit regdeur die waardeketting, van die kwekery tot die voorkoms van die finale produk op die winkelrak, kan in so ’n ooreenkoms vervat word. Soos met enige ander kontrak, dui ’n handtekening aan dat albei partye instem tot die inhoud en voorwaardes,” sê Coetzee.

Namate produsente toenemend blootgestel word aan kontrakte met verskeie planttelersregte- eienaars, is dit belangrik om te verseker die kontrakte stel die produsent nie bloot aan onnodige risiko en onredelike bepalings en voorwaardes nie.

Drie modelle

Tantième kan bepaal word met betrekking tot plantmateriaal, produksievolume en verdienste, of ’n kombinasie van die drie. Die uiteindelike model moet duidelik in die kontrak uiteengesit word.

Plantmateriaalmodel. Dit is geskoei op die volume plantmateriaal wat aangeplant word. ’n Sekere bedrag word gehef vir elke eenheid wat die produsent plant.

’n Produsent betaal byvoorbeeld R5 per boom vir die reg om die boom te kan plant. In hierdie model kan ’n koste per hektaar ook gehef word, en moet die produsent byvoorbeeld R1 000 per hektaar betaal vir die reg om ’n sekere kultivar te verbou.

“In die plantmateriaalmodel kan tantième ’n eenmalige bedrag wees wat betaal word wanneer die materiaal geplant word, of dit kan ’n jaarlikse lisensietarief wees.

“Die nadeel van hierdie model vir ’n boer is dat die produsent ’n vaste koste het om die produk te verbou, ongeag die produksievolume, gehalte van die vrugte of die prys wat die kultivar behaal,” sê Coetzee.

Volumemodel. Dit is geskoei op die produksie van ’n betrokke kultivar. ’n Produsent sal byvoorbeeld R2 per uitvoerhouer aan tantième moet opdok. Hoe hoër die kultivar se produksie is, hoe groter is die tantièmebedrag. “Die voordeel van die model is dat die produsent slegs tantième betaal op produkte waarvoor hy geld verdien.”

Die nadeel is volgens hom dat IE-eienaars ’n kultivar aan die produsent verkoop met ’n beraamde produksievolume per hektaar wat hoër is as die kultivar se natuurlike produksievermoë.

Die produsent, wat ’n sakemodel geskoei het op die hoë produksievolume, dwing dan die kultivar kunsmatig om daardie hoë produksie te behaal. Dit veroorsaak dikwels gehalteprobleme en lei in die meeste gevalle tot eise in die uitvoermark.

Dit bring mee dat die produsent se verdienste benadeel word weens die swak produk. “In hierdie geval moet die produsent steeds die normale tantième aan die IE-eienaar oorbetaal vir die volume vrugte wat uitgevoer is, al het die produsent ’n swak inkomste verdien."

Plaashek-inkomstemodel. Coetzee meen dié model is die deursigtigste vir die boer. Daarvolgens word tantième bepaal op grond van die inkomste wat die vrugte per hektaar verdien. Hierdie model vereis dat die IE-eienaar vertroue het in die kultivar se vermoë om goeie gehalte en oeste te lewer.

Die nadeel is egter dat dit nie werklike produksiekoste in ag neem nie. “Dit kan wees dat die kultivar meer arbeid verg vanweë die natuurlike vermoë om hoër opbrengste te lewer, of die produk is dalk moeiliker om te verpak as gevolg van kleurvereistes.”

’n Kontrak met ’n IE-eienaar kan ook uit ’n kombinasie van die drie modelle bestaan. Tantième kan geëis word op die hoeveelheid kartonhouers wat produseer is, en terselfdertyd is daar ’n jaarlikse rand-per-hektaar-tantième wat geëis word.

Al dié besonderhede behoort duidelik uiteengesit te word in ’n kontrak, hoewel die tantième as sodanig nie onderhandelbaar is nie.

Verskillende tantième-modelle stel verskillende vereistes aan produsente. “Produsente moet hul somme deeglik maak om te bepaal of die ekstra inkomste uit die gelisensieerde kultivar moontlike hoër produksiekoste voldoende sal dek. Sommige kultivars noodsaak drie of vier keer se oes in dieselfde boord weens kleurvereistes. Daardie ekstra arbeid kan die bykomende wins uitwis,” sê mnr. Albert Coetzee, landbou-ekonoom.

Die magte van ’n IE-eienaar

Die meeste IE-eienaars verkies dat hul kultivars slegs deur een of twee bemarkers bemark word om gehaltebeheer so eenvormig moontlik te hou en die beste aansien van die kultivar op die mark te verseker.

IE-eienaars reik dus lisensies uit aan bemarkers en produsente wat hulle vertrou omdat die bedryf hoogs mededingend is en honderde goeie kultivars beskikbaar is.

’n Besending vrugte wat nie aan gehaltestandaarde voldoen nie, kan die kopers na ’n ander kultivar laat gryp. Só word ’n gesogte kultivar se aansien en aanvraag in ’n enkele seisoen vernietig. Dit is die risiko wat IE-eienaars loop, want hul bate is nie noodwendig die teelmateriaal wat hulle ontwikkel het nie, maar die aansien wat daardie teelmateriaal in die mark het.

“In hoogs winsgewende markte, soos die bloubessiemark waar daar weinig ander keuses as gelisensieerde kultivars is, kan IE-eienaars die gretigheid van produsente om betrokke te raak, tot hul eie voordeel aanwend. Produsente moet dus op hul hoede wees voor hulle kontrakte onderteken.”

Volgens Coetzee is daar vier aspekte van kontrakte waar daar slaggate kan wees.

Vergelykende winsgewendheid. “Dit help nie ’n produsent plant ’n kultivar met hoë waarde wat R100 verdien, met R20 tantième wat betaal moet word, terwyl ’n ongelisensieerde kultivar R90 kan verdien sonder enige tantième nie. Hierdie vergelykende somme moet vooraf baie noukeurig gemaak word.”

Bemarkingsbeperkinge. “In die geval waar produsente slegs deur een bemarker mag bemark, en daardie bemarker presteer nie optimaal nie en die tantième-model is byvoorbeeld net op ’n plantmateriaalmodel geskoei, kan die produsent finansieel skade ly as die bemarker nie goeie verdienste kan verseker nie.”

Deursigtigheid is dus altyd beter as daar twee of meer bemarkers is wat dieselfde kultivar bemark. Hierdie deursigtigheid kan egter deur die tantièmemodel en die prestasie van die bemarkers beïnvloed word, sê Coetzee.

Tydsduur van die kontrak. “Net omdat die produsent ’n betrokke kultivar uitgetrek het vyf jaar voordat die kontrak verval het, beteken nie die kontrak sal vyf jaar vroeër verval nie. Maak seker hoe lank en volgens watter voorwaardes die kontrak geldig is. Die meeste kontrakte sal verval as jy die plantmateriaal uittrek, maar by uitsondering kan dit wees dat jy vir ’n spesifieke tydperk vir tantième aanspreeklik gehou sal word.”

Die fynskrif. Daar is dikwels besonderhede in die fynskrif wat nie noodwendig duidelik in die ooreenkoms uiteengesit is nie.

Die IE-eienaar kan voorwaardes in die kontrak stel dat slegs spesifieke kundiges raad oor sy kultivar mag gee, maar hierdie aspek is nooit met die produsent bespreek nie.

“Daar is baie detail in so ’n kontrak ter sprake. Produsente moet dit nie net teken sodra die mondelingse onderhandelinge afgehandel is nie. IE-lisensies is nie die tipe ooreenkomste wat sommer met ’n handdruk beklink word nie.

“Gesels met ingeligtes wat ervaring het en die slaggate en gevaarligte kan uitwys.”

Die koste van tantième

Die onderhandeling van tantième met die eienaars van intellektuele eiendom is nie moontlik nie, sê mnr. Albert Coetzee.

“Ons weet vooraf presies hoeveel die tantième per eenheid gaan wees. ’n Produsent sal weet dit is byvoorbeeld R80 per hektaar of R5 per kartonhouer, of 2% van jou plaashek inkomste. Die hoeveelheid kartonhouers wat jy per ha produseer en jou plaashekinkomste is die onbekende faktore. Sommige eienaars van intellektuele eiendom sal dalk tien jaar ná die kontrak gesluit is en die winsgewendheid van die kultivar aansienlik begin daal, die tantième heronderhandel, maar nie vooraf nie.

“Elke kultivar in elke bedryf wat privaat gekweek word, het sy eie tantième-bedrag. Die koste van verskillende kultivars kan byvoorbeeld van 22 c/kg tot R2/kg wissel.”