Die varsprodukteprodusent is al hoe minder ’n boer en al hoe meer ’n herder, ’n storieverteller en diensteverskaffer. Die verbruiker wil hê die produsent moet sy werksmag en die aarde soos goud oppas en terselfdertyd uitstekende waarde aan die verbruiker bied met die produkte wat heerlik smaak en selfs die vermoë het om te genees.

Boonop bly dit die produsent se verantwoordelikheid om aan die verbruiker te bewys dat van die plaas tot op die verbruiker se bord aan hierdie vereistes voldoen word.

Dit klink dalk na ’n hoë hekkie, maar wêreldwyd is hierdie wisselwerking tussen die verbruiker en die produsent nog in sy kinderskoene en die geleenthede wat hieruit kom, wink vir die pioniers-produsente, groot en klein.

Die varsproduktebemarkingsvereniging, die PMA, het onlangs vyf neigings vir die wêreldwye varsproduktebedryf, asook vyf neigings vir Suider-Afrika uitgelig. Dis hierin dat die bogenoemde geleenthede duideliker raak.

Vyf neigings vir Suider-Afrika

Me. Lindie Stroebel, hoofbestuurder vir die PMA in Suider-Afrika, meen die suksesvolle produsente van die toekoms is die produsente wat hul vingers op die pols van nuutste neigings hou en dan hulself inspan om individueel en gesamentlik die verloop van hierdie neigings te help vorm. 

Hier is die vyf vernaamste neigings vir die varsproduktebedryf wat sy geïdentifiseer het.

Tegnologie. Natuurlike hulpbronne, kapitaal en arbeid is lank nie meer die bepalende faktore van produksie nie, maar eerder tegnologie. Van saad, kunsmis en masjinerie wat volgehou ontwikkel en verbeter word, tot die aanwending en toepassing van hommeltuie, kunsmatige intelligensie, outomatisering en blokketting in boerderye word nou eerder beskou as ’n voorvereiste en noodsaaklik as ’n weelderige opsie. Vir die onmiddellike toekoms sal die klem op inligting bly.

Dit is belangrik hoe jy data invorder en watter data jy invorder, maar wat jou besigheid lewenskragtig gaan maak, is hoe jy hierdie data interpreteer en watter insigte jy daarmee ontwikkel. Hoe jy hierdie insigte uitruil en gebruik tot voordeel van die ganse waardeketting waarvan jy deel is, gaan jou volhoubaarheid verseker.

Suider-Afrika gaan vinnig moet spring, want as hy hierdie neigings mis, gaan hy verseker op internasionale markte gemarginaliseer word. Hy gaan irrelevant wees en moontlik uit hierdie markte geskuif word.

’n Slimmer werksmag. Hoewel werkskepping in Afrika noodsaaklik is om maatskaplike stabiliteit te verseker, kan die koste van arbeid en arbeidadministrasie, asook die behoefte aan geskoolde, selfs gespesialiseerde arbeid nie geïgnoreer word nie. Namate tegnologie – veral outomatisering – aangewend word, vervang dit nie noodwendig die behoefte aan arbeid nie, maar dit verander die vaardigheidsvereistes van die arbeidsmag.

Die arbeidsmag moet tegnologie kan hanteer en gebruik, verstaan hoe en hoekom data ingevorder word en watter invloed dit op die individu het. Vir Afrika gaan die belangrikste neigings in die nabye toekoms wees om die arbeidsmag reg op te lei en te bemagtig in gebiede wat hulle van hul werk sal verseker, maar hulle ook kan ophef, en te gelyke tyd jou besigheid te laat groei.

Sagte vaardighede, die vermoë om besluite te neem en onderhandelingsvermoë sal nooit deur masjiene oorgeneem kan word nie. Dit moet gekoester en ontwikkel word.

‘Opspoorbaarheid’ voeg naspeurbaarheid en deursigtigheid bymekaar. Die verbruik van data en inligting deur die hele waardeketting is ’n dinamiese, noodsaaklike aspek waarvan produsente bewus moet wees en spoedig by betrokke moet raak. Onlangs is die impak van listeriose gesien op produsente van verwerkte vleis.

Die Regering en bedryfsorganisasies kon die probleem opspoor en bestuur. Wat as die probleem by groente voorgekom het? Hoe sou die bron opgespoor word en hoe sou die produkvloei bestuur word om die siekte hok te slaan?

Dit het die groentebedryf se oë oopgemaak vir die behoefte aan deursigtigheid en voldoende databestuur. Of jy jou produk deur die plaaslike mark verkoop, ’n supermarkkontrak het of uitvoer, blokketting bied in hierdie geval die geleentheid vir die bedryf om saam te werk, inligting uit te ruil en die bedryf te posisioneer om toegang te verkry tot internasionale (en binnekort plaaslike) kopers wat dit gaan vereis.

Die Afrikaverbruiker is digitaal verbind met die wêreld. Die Afrikaverbruiker het mobiele en slimtegnologie ongelooflik vinnig in ’n betreklik kort tydperk aangegryp. Dit het veral deure oopgemaak tot inligting en die geleentheid geskep vir veral die Afrika-millenniërs om deel te wees van ’n globale netwerk. Die plaaslike bedryf gaan in die nabye toekoms ervaar hoe honger die Afrikaverbruiker is vir inligting oor produkte en hoe graag hulle sê hoe hulle die produkte ervaar het.

Hierdie golf kan ’n besigheid oornag maak of breek. Die bedryf gaan fyner moet let op die neigings wat geskep word deur die globale, geïntegreerde verbruiker en sy tropgedrag. En, onthou, deesdae is elke verbruiker ’n spesialis in sy eie oë. Die frase “die klant is altyd reg” is nou meer waar as ooit tevore.

Daar is net een planeet aarde. Vanuit die fokuspunte op die onlangse Wêreld- Ekonomiese Forum tot die stappe wat mense doen om ’n plastiekvrye wêreld te bewerkstellig, is dit onbetwisbaar duidelik dat die natuurvriendelike neiging gaan seëvier – ook in Afrika. Hoewel verbruikers tans die meeste druk uitoefen, word die landboubedryf meer bewus van die impak wat die landbou as geheel op die natuur het. Die nuutste neiging is om meer as net volhoubaar te wees.

Daar word van veral die produsent en die res van die waardeketting verwag om herlewingstappe toe te pas. Die landbou moet dus meer in die natuur terugplaas as wat hy uitneem. Dit gaan aanvanklik moeilik en duur wees, maar produsente gaan binnekort geen keuse hê nie. Die risiko om nie natuurvriendelik op te tree nie, gaan groter raak as die koste om dit wel te doen. Sulke stappe word sodoende winsgewende praktyke. 

Vyf neigings vir die wêreld Me. Cathy Burns, uitvoerende hoof van die PMA Internasionaal, het in November 2018 haar siening van die stand van die wêreldwye bedryf in vyf neigings en geleenthede opgesom.

Aanlyn geleenthede. In 2018 was daar meer as 297 miljard Instagram-plasings met die #Food-hitsmerk. Daarmee saam word voorspel dat die wêreldwye kosafleweringsbedryf $24,5 miljard (R338 miljard) teen 2022 sal bereik. Toepassings soos Instagram voeg dus nou ’n “neem aksie”-knoppie by sodat verbruikers met hul slimfone kos kan bestel. Van die aanlyn kopers in Amerika het slegs 28% gesê dat hulle vars vrugte en groente aanlyn koop, omdat die varsheid en gehalte nie aan die meeste se verwagtinge voldoen nie.

Robotika en outomatisering. Robotte en masjiene sal steeds meer en meer funksies verrig in alle fasette van die waardeketting. Produsente gaan produksietake al hoe meer outomatiseer en kleinhandelaars het reeds mobiele robot-winkels begin beproef. Terwyl hierdie gevorderde tegnologie beslis die verbruiker kan bekoor, sal die mense-werksmag wat die warm, persoonlike en pasgemaakte ervaring moet verskaf, steeds baie belangrik bly.

Talent in die bedryf. Om talentvolle werknemers te behou, sal werkgewers moet seker maak dat hulle betekenisvolle werk, loopbaanterugvoer en ondersteuning vir groei, diversiteit, buigsaamheid en inklusiwiteit kan bied.

Besighede gaan al hoe meer beoordeel word volgens hul verhouding met hul werkers, kliënte, gemeenskappe en hul impak op die samelewing. Die milleniërs en generasie Z-werknemers gaan al hoe meer van werkgewers verwag om opleiding beskikbaar te maak om tred te hou met tegnologiese ontwikkelinge.

Volhoubaarheid. ’n Etiket op ’n bottel wyn, pakkie wortels of bakkie vleis het skaars ’n 10%-doeltreffendheidsyfer by verbruikers. Om jou besigheid se volhoubaarheidstorie beter te vertel, is geïntegreerde bemarking en opleiding, waar regstreekse wisselwerking met die verbruiker uitgesoek word, die pad wat sukses voortaan sal bepaal. Die beweging vir plantgebaseerde voedsel is ook besig om momentum op te tel.

Kulturele konneksies. Jou produk-veiligheid is nie net ’n aksie nie, dis ’n ingesteldheid. Jou voedselveiligheidprogram moet jou en jou besigheid se kernoortuigings weerspieël. As mense ’n gesonder wêreld wil kweek, sal voortdurend hard gewerk moet word om kulturele invloed te help vorm en uit te bou.

Daar is groot geleenthede om die verbruik van vrugte en groente uit te brei tot voordeel van die gesondheid van die wêreld en landboubesighede. Hierdie kultuur begin egter op die plaas en produsente moet doeltreffende maniere kry om outentieke stories op doeltreffende maniere te vertel.

Vir nog inligting, besoek Burns se volledige omskrywing van die vyf neigings op die PMA se webwerf by https://goo.gl/rC4kgr

Navrae: Me. Lindie Stroebel, e-pos: Lstroebel@pma.com.