Uit: Landbouweekblad, 11 September 1981

Ná eie proewe met lugenting van splinterogies kan mnr. Hennie Vlok, wingerdboer van die plaas Helderberg, Riebeek-Kasteel, baie tyd en arbeid bespaar en sy entwerk egaliger deur die jaar versprei.

Terloops, hy is ook die mees ervare marathon-loper in die Westelike Provinsie en Boland. Deur hout in dieselfde groeistadium bymekaar te voeg, ent Vlok nou sy wilde stokke net ná die parsery in Maart.

Vroeër is gemeen dat sulke enting in die betrokke klimaat net tot in Februarie gedoen kan word. Die ogies verhard namate die loot ryp word, en geen bedekkingsmiddel is nodig nie. Hegting word net met plastieklint bewerkstelling. In Augustus word die wilde lote afgesny en die stok is klaar geënt.

Die wilde loot wat aan die draad geheg word. ’n Mens kan sien hoe welig die mak stok uit die gesonde, geënte ogies groei.

Vlok het die eerste wilde stokke vir so ’n entproef in Augustus 1979 geplant en in Maart vanjaar geënt. Hulle sal in die komende seisoen hul eerste oes dra. Hoewel die luggeënte stok dus aanvanklik ’n agterstand het, dra dit net so gou as stokke wat vooraf geënt is.

Lugenting is boonop baie goedkoper, en baie arbeid word bespaar deurdat mak wortels nie afgemaak hoef te word nie, sê hy. Grondswamme dring nie ’n lugent maklik binne nie omdat die las ver van die grond is.

Die lasse is ook goed geheg — ’n mens kan moeilik die onderstok van die mak stok onderskei. ’n Splinterogie (chip bud) word gebruik. ’n Gewone plaaswerker kan 500-600 stokke per dag op dié manier ent, waar hy kwalik 100 stokke per dag met skuitjie-enting kan haal.

Só word die splinterogie ingesit. Al wat nodig is, is ’n skerp mes vir ’n gladde ogie en plastieklint om die invoegplek toe te

Vlok self ent 900 en meer stokke per dag. Splinterogies word nie sommer deur wind uitgewaai nie. Ryp ogies word teen 4 °C in ’n koelkamer gebêre, elke laag met klam sand bedek. Só bly hulle bruikbaar en word ruimte en materiaal bespaar.

Toe Vlok in 1972 op Helderberg begin boer het, het die plaas uit ou wingerde, graanlande en bloekombosse bestaan. Tonne hoendermis is saam met ander misstowwe ingewerk, en vandag is sowat 140 ha daar onder wingerd.

In die minder as tien jaar op hierdie plaas het hy verskeie entpraktyke op die proef gestel voordat hy by Maart-enting uitgekom het. Wingerdboere kom van sover as Vredendal om oor die entery kers op te steek.

Die mespunt wys na een van die twee ogies onder die draad wat in Maart geënt is. Hulle word hier in Augustus ryp en die hele groeiseisoen lê dan voor.