Luidens ’n verklaring deur die universiteit is toetse gedoen met verskillende waterbronne wat vir die produksie van kweekhuistamaties gebruik is. Die studie is oor twee jaar op die noordelike Adelaide-vlakte tydens die gewildste groeityd uitgevoer.

Die drie waterbronne wat getoets is, was grond- en herwonne afvalwater, en ’n 50:50-mengsel van albei. Besproeiing van 60%, 70%, 80% en 100% van die potensiaal is getoets. Die resultate toon herwonne afvalwater is beter vir die gewasse as grondwater of ’n mengsel van 50% grondwater en 50% herwonne afvalwater.

Die navorsing het ook bewys dat kwekers wat beperkende besproeiingstrategieë gebruik, die beste presteer by 80% van die besproeiingsvermoë. Dit is die vlak waar die maksimum waterdoeltreffendheid verkry word, terwyl uitstekende gewasgroei en opbrengste steeds volgehou word.

Volgens mnr. Jeet Chand, die hoofnavorser, verskaf dié bevindinge belangrike insigte oor produktiwiteit, winsgewendheid en volhoubare landboubestuur vir boere. “Water is ’n uiters waardevolle kommoditeit in droë en dorre boerderystreke, en doeltreffende besproeiingstrategieë en alternatiewe waterhulpbronne is noodsaaklik vir landbouproduksie.”

Beperkende besproeiing is ’n strategie wat gereeld deur boere gebruik word om hul waterverbruik te minimaliseer, terwyl gewasproduksie terselfdertyd verbeter word. Dit is egter moeilik om die beste balans te vind vir gewasse wat in kweekhuise gekweek word. Dié praktyk word veral gevolg op plekke waar vars water duur of nie geredelik beskikbaar is nie.

Met beperkte besproeiing word ’n mate van waterstres toegelaat. Die plant word regdeur sy oestyd of tydens ’n sekere groeifase onder waterstres geplaas om waterproduktiwiteit te verbeter. Hoewel die opbrengs daardeur verlaag kan word, kan die regte toepassing die opbrengsvermindering teenwerk deur ’n toename in besproeiingswaterproduktiwiteit.

’n Verdere gunstige gevolg van die gebruik van herwonne afvalwater is dat dit bykomende voedingstowwe in die proses aan plante lewer. Dit kan boere se afhanklikheid van kunsmis verminder en só hul boerdery omgewingsvriendeliker maak, meen Chand.

Hy sê die bevindinge is goeie nuus vir die tamatiebedryf, asook vir mense wat tuis tamaties kweek.

Hoewel tamaties op sowel oop velde as in kweekhuistoestande verbou word, word toenemend klem gelê op tonnelboerdery om winsgewendheid te verseker, aangesien tamaties buite seisoen geplant kan word en dit die uitwerking van klimaatsverandering kan teenwerk.