Só het mnr. Michael Fridjhon, voorsitter van dié gesaghebbende wynkompetisie, gesê tydens die 20ste toekenningsgeleentheid, wat virtueel vanuit Johannesburg uitgesaai is.

Die eer as suksesvolste produsent van die kompetisie het vanjaar vir Diemersdal-wynlandgoed van Durbanville te beurt geval. Dié kelder het ook ’n trofee vir sy Pinotage Reserve 2019 en goue medaljes vir Private Collection 2017 en The Journal Cabernet Sauvignon 2018 gewen.

Ander sterre was Thokozani van Wellington, wie se Cabernet Franc 2019 drie trofeë ingepalm het, onder meer vir die beste rooiwyn in die kompetisie. Die trofee vir die beste witwyn het aan De Grendel Op die Berg Chardonnay 2020 gegaan.

Bosman Optenhorst Chenin Blanc 2019 het ook aandag getrek deur twee trofeë in te palm vir die beste Chenin Blanc en die beste ouwingerd-wyn.

Fridjhon, wat in 2001 die kompetisie saam met wyle mnr. Harold Eedes van Wine Magazine begin het, sê vanjaar se kompetisie het hulle die geleentheid gegee om terug te kyk, maar ook na die toekoms van die wynbedryf. Destyds het hulle baanbrekerswerk gedoen om internasionale beoordelaars se hulp in te roep met die beoordelingsproses.

“Die skou het Suid-Afrikaanse wynmakers in staat gestel om uitnemendheid te meet teen hul verwagtinge van die internasionale mark. Ons doel was om Suid-Afrikaanse wyne meer blootstelling internasionaal te gee, en ek dink ons het dit reggekry. Wynmakers het gesien wat dit vir verkope beteken wanneer internasionale wynbeoordelaars en -glanspersoonlikhede erkenning gee aan hul wyne.”

Volgens hom het die oorsese beoordelaars gehelp om die boodskap oor Kaapse wyne na internasionale gehore te neem. Weens die koronaviruspandemie kon internasionale beoordelaars nie vanjaar in die paneel dien nie.

Meer as 19 000 wyne in 20 jaar

Die afgelope twee dekades het die paneel altesaam 19 404 wyne onder die loep geneem. Meer as die helfte van dié inskrywings het nooit ’n medalje gewen nie, wat aandui watter prestasie dit is om ’n OMTWS-medalje huis toe te neem. Net minder as 10% van die totale inskrywings is met silwer medaljes beloon deur die jare en altesaam 590 goue medaljes (3% van die inskrywings) is toegeken.

“Net 346 wyne kon trofeë vir die beste in hul klas wen.”

Mnr. Bandile Mngoma van Old Mutual, wat as borg sinoniem is met die kompetisie, sê hulle was vanjaar veral bemoedig deur die aantal inskrywings wat ontvang is. “Dit wys die wynbedryf is taai en veerkragtig.”

Mnr. Thys Louw, eienaar van Diemersdal, sê dis altyd wonderlik om ’n prys te wen, maar om as beste produsent aangewys te word is fantasties. “Ons sal dit vir die volgende 100 jaar in ons bemarkingsveldtogte gebruik!”

Fridjhon het oor Thokozani se prestasie gesê dat dit ’n boodskap oor transformasie en ongelooflike wynbereiding aan die bedryf stuur.