Me. Amanda Fisher, gehaltebestuurder by Tru-Cape, sê dié ondersoek sluit ’n verpakkingsoudit in waartydens Tru-Cape gekyk het hoeveel velle borrelplastiek in elke kartonhouer gebruik word, die mikron van die plastieksakkies waarin los vrugte verpak word, die grootte van die verpakking en alternatiewe tot die plastieksakkies vir los vrugte.

Fisher sê die manier hoe borrelplastiek gebruik word, is een van die dinge wat verander kan word om plastiekverbruik te beperk. “Die probleem is om die borrelplastiek te verwyder sonder om die moontlikheid te vergroot dat ons produk tydens die drie tot vier weke van verskeping na Brittanje beskadig kan word.”

Sy sê verskeie proeflopies is onderneem om te bepaal of dit moontlik is om vrugte met minder plastiek te verpak. “Die resultate van dié proeflopies dui aan dat dit wel moontlik is om minder borrelplastiek te gebruik sonder dat die vrugte beskadig word.”

Fisher sê Tru-Cape het gedurende die afgelope jaar een vel borrelplastiek in sy  kartonhouers gebruik nadat hy voorheen twee velle gebruik het. Tru-Cape het die gebruik van borrelplastiek vir sekere produkte heeltemal uitgeskakel. “Hierdie vermindering het ons in staat gestel om ons plastiekverbruik drasties te verminder. Ons gebruik nou 61,25% minder plastiek, oftewel 4 126,65 kg borrelplastiek pleks van 10 649,15 kg, sonder om die gehalte van ons vrugte in gevaar te stel.”

Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê dié uitstekende werk sal Fisher en Tesco se span in Suid-Afrika in staat stel om Tesco in Brittanje te ondersteun in sy pogings om teen 2025 minder verpakking te gebruik. “Hierdie spanpoging bewys die waarde van goeie verhoudinge tussen Tru-Cape en sy kliënte.”