Die mark is Dinsdag deur die stadsraad gesluit tot Vrydag (24 tot 27 Junie) nadat ’n werknemer van die stad, wat by die mark werksaam was, oorlede is en positief getoets het vir Covid-19.

Mnr. Selby Bokaba, hoof van kommunikasie van die stadsraad, sê die stadsraad sal nie afwyk van sy standaardprotokol en aksieplanne in die geval van ’n positiewe Covid-19-geval nie. “Ons hanteer alle stadsraadsbates dieselfde en ons gaan nie vir die mark ’n uitsondering maak nie.”

Die meeste munisipale varsproduktemarkte het ’n gebeurlikheidsplan wat hulle in staat stel om binne ure die nodige ontsmetting en sanitasie te doen en spoedig weer sake te hervat.

Bokaba sê die Tshwane-stadsraad kyk nie wat ander markte doen nie. “Ons ag menselewens belangriker as winste. Besighede en entrepreneurs gaan heel moontlik skade ly, maar dit is hoe dit nou is. Die Tshwane-metro is die metro met die laagste sterftesyfer in die land en dit is omdat ons streng maatreëls het en dit volg.”

Volgens berigte in die media en terugvoer van Instituut vir Markagente van Suid-Afrika (Imasa) spreek die geskiedenis op die Tshwane-mark egter nie van ’n streng bestuurstyl wat gemik is op die veiligheid en gesondheid van diegene wat die mark besoek nie. Dit spreek eerder van verwaarlosing. Die agentskappe doen die meeste onderhoudswerk.

Volgens Bokaba sal die Tshwane-stadsraad die situasie op die mark monitor en, indien moontlik, maatreëls aanpas. Daar is tans egter geen aanduiding hoe so ’n aanpassing sal lyk of wanneer dit toegepas sal word nie.