Die R5,6 miljoen wat verlede maand deur die Tshwane-munisipaliteit bewillig is, word op die onderhoud van die mark bestee en geringe verbeteringe is reeds sigbaar. Belangrike aspekte soos die herstel van die openbare toilette en die rypmaakkamers moet egter nog aandag geniet.

Volgens mnr. Julian van der Nat, voorsitter van die Instituut vir Markagente van Suid-Afrika (Imasa) en verkoper by Farmer’s Trust Markagentskap, is hulle optimisties oor die verbeteringe wat hulle reeds sien. “Die taakspan is nou op die been en kom besoek die mark om homself te verwittig van wat hier aangaan. Daarbenewens vergader die munisipaliteit weekliks met ons. Dit is gunstig en ons is gretig om te sien dat die kapitaalbates wat weens gebrekkige onderhoud in onbruik verval het, nou dringend aandag kry. Gelukkig is die toilette en die rypmaakkamers volgende op die lys. Die netheid van die mark is reeds beter en die plaagbestryding het ook doeltreffend aandag gekry oor die afgelope paar weke.”

Kommer oor kontinuïteit

Ongelukkig is daar nog nie veel vordering om die kontinuïteit in die bestuur van die mark te verseker nie. “Ons uiteindelike doel met die proses wat ons met die munisipaliteit aan die gang gesit het, is om die mark as ’n onafhanklike entiteit te vestig. Op daardie manier kan ons die inkomste uit die ad valorem-kommissie afsonderlik in ’n rekening bewaar, die stadsraad ’n maandelikse huur betaal en die res van die geld aanwend om die markinfrastruktuur in stand te hou. In hierdie opsig kan ons ook ’n onafhanklik bestuur aanstel, wat, ongeag die politieke party aan bewind in die stadsraad, sal seker maak dat die mark kan aanhou inkomste verdien sonder dat die munisipaliteit enige verantwoordelikheid of bykomende hulpbronne buiten die perseel daaraan hoef af te staan. Ons gaan nie rus voor ons nie dit reggekry het nie,” sê Van der Nat.

Sonder die versekering van kontinuïteit is die bekommernis dat die momentum vir die doeltreffende bestuur wat nou binne die munisipaliteit opgebou word, totaal sal verval wanneer daar weer ’n politieke ommeswaai in die stadsraad kom. “Dit sal beteken dat ons weer van voor af moet begin om aan individue in die munisipaliteit te verduidelik hoe die hele stelsel inmekaar steek en elke keer is dit die markinfrastruktuur en dus ons vermoë om sake te doen wat daaronder ly.”