Verskeie belanghebbendes gee dringend aandag aan die situasie Só sê mnr. Tshifhiwa Madima, bestuurder van die Tshwane-mark, ná ’n reeks vergaderings die afgelope twee weke met verskeie belanghebbendes.

Die grootste bron van kommer was die onbetrokkenheid van die Tshwane-stadsraad. “Ons is voortdurend in kontak met die stadsraad deur die verskeie Covid-19-rampbestuurstrukture. Wanneer ons beskermende klere of ander hulp, soos mediese personeel of inligting nodig het, word dit aan ons verskaf.”.

Tydens ’n vergadering met die belanghebbendes op die mark op 13 Mei is op ’n aantal prosedures en maatreëls ooreengekom om te verseker die risiko vir besmetting met die virus word so laag as moontlik gehou. Aartappels Suid-Afrika (ASA), die Instituut vir Markagente (Imasa), die Raad vir Swart-markagente en die landbouprodukte-agenteraad (Apac) is op die vergadering verteenwoordig.

“Dr. André Jooste van ASA en mnr. Francois Knowles van Apac het volgehoue interaksie met al die ander markte en bring baie waardevolle kennis en ervaring na die Tshwane-mark met voorbeelde van maatreëls wat elders doeltreffend werk. Dit is dus waardevol om hulle in ons span te hê,” sê Madima.

Oplossings moet toegepas word

Jooste, uitvoerende hoof van ASA, meen dit is verblydend dat die belanghebbendes op die mark gemoedelik in gesprek kan tree en saam oplossings kan vind. “Die oplossings moet nou toegepas word en dit sal slegs suksesvol wees as al die belanghebbendes op die mark kan saamwerk na dieselfde doel.”

Volgens Madima is die oplossings gemik daarop om aan die amptelike inperkingsregulasies te voldoen. ’n Groot bron van kommer is die opeenhoping van mense by die toegangshekke.

Van Maandag 18 Mei af sal kopers toegelaat word om binne die markgebou ’n ry na die kassiere te vorm met 1,5 m tussen elkeen. Die markagente het ook ingestem om die aantal kopers op ’n slag in die verkoop-area te beperk volgens die aantal verkoopspersoneel wat op die vloer teenwoordig is. Die mark sal ook toesien dat die markterrein elke middag ná verkope skoongemaak word.