Uieprodusente het in 2019 bykans R80 miljoen minder verdien as in 2018 weens ’n swak uieprys. In 2018 het produsente R1,66 miljard met 40,5 miljoen sakkies verdien en in 2019 het hulle slegs R1,48 miljard met 38,4 miljoen sakkies verdien.

Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan vrese wat kopers in 2018 gehad het dat daar nie genoeg uie op plaaslike markte sou wees nie. Dit het die prys opgejaag. Vanjaar se vooruitsigte is dat weer van 35 miljoen tot 40 miljoen 10 kg-sakkies gelewer sal word.

10 miljoen sakkies uit die Noord-Kaap

Volgens mnr. Kolver Mülke, voorsitter van die Noord-Kaapse Uieprodusentevereniging, sal dié streek nog ongeveer 2,5 miljoen sakkies in 2020 bemark. Dit sal die totale aantal sakkies wat die afgelope seisoen uit die Noord-Kaap gelewer is, op 10,2 miljoen te staan bring.

“Ons het danksy ’n matige winter ’n goeie seisoen agter die rug en het sedert Oktober reeds 7,7 miljoen 10 kg-sakkies bemark. Op 30 Oktober het ons die eerste keer ooit ryp ervaar en daarná vir twee dae ’n hittegolf. Dit het die gehalte van ons uie benadeel en dus sal ons vanjaar vroeër as normaal klaarmaak met die bemarking van ons uie.”

Mnr. CT van der Merwe, voorsitter van die noordelike uiekomitee, sê produsente in daardie streek beoog om vanjaar nagenoeg 1 850 ha uie aan te plant. “Dit sal ongeveer 10 miljoen 10 kg-sakkies uie oplewer. Dit is effens minder as in die verlede aangesien heelwat produsente weens probleme met witbolvrot (Sclerotium rolfsii) minder of glad nie gaan plant nie. Daar is egter genoeg water in Limpopo. Produksie daar behoort goed te wees, mits die weer gunstig is.” 

Nóg 15 miljoen sakkies uit die Wes-Kaap

Mnr. Charl van der Merwe, voorsitter van die produsente-organisasie vir aartappels en uie in die Ceres- en Koue Bokkeveld-streek (Korkom), sê dié streek het sedert die begin van die jaar reeds 1,5 miljoen 10 kg-sakkies geproduseer. In die streek is vanjaar 2 420 ha uie aangeplant en die fase 2-oesskatting toon dat ’n verdere 15 miljoen 10 kg-sakkies tot Augustus gelewer kan word.

“Produksie lyk goed en die gehalte van die uie wat reeds in ons streek geoes is, lyk belowend danksy gunstige produksietoestande.”

Volgens statistieke wat Van der Merwe op Korkom se jaarlikse inligtingsvergadering op 26 Februarie bekend gemaak het, ry die gemiddelde prys vir uie op varsproduktemarkte wipplank. 

“Die bedryf het in 2018 40,5 miljoen sakkies teen R41 per sakkie gelewer. In 2019 het die produksie geval tot 38,4 miljoen sakkies en die prys het tot R38,50 per sakkie gedaal. Ons verwag om vanjaar weer ’n goeie prys te verdien,” het Van der Merwe gesê.

Buiten hierdie drie streke, wat jaarliks nagenoeg 35 miljoen sakkies lewer, lewer ander streke soos die Sandveld, Vrystaat en Suid-Kaap ongeveer 10% van die totale uievolume in Suid-Afrika.