Boere meen Prokon moet wag om te hoor wat sê die hof.

“Hierdie is net weer ’n ding wat op ons afgedwing word. Hoeveel goed word daar nie op die landbou afgedwing nie? Minimum loon en goed, ons het nie ’n sê nie.” Só het ’n boer uit die Brits-omgewing gesê tydens NUK se onlangse jaarvergadering op Mookgophong (Naboomspruit).

Soos talle boere in verskeie bedrywe is hy ongelukkig oor die inspeksiedienste vir gehaltebeheer by varsproduktemarkte deur gekontrakteerde agentskappe wat boere direk vir hul dienste faktureer. In die geval van uie is Prokon die betrokke agentskap.

Tariefstruktuur

Vyf agentskappe is in 2016 deur die departement van landbou aangestel om gehalte-inspeksies op landbouprodukte te doen – Leaf Services vir graan en oliesaad; Prokon vir varsprodukte; Nejahmogul Technologies and Agric Services vir melkprodukte; Agency for Food Safety vir diereprodukte en Impumelelo Agribusiness Solutions vir verwerkte produkte soos vrugtesappe en bevrore of ingemaakte groente en vrugte.

Prokon is uit die aartappelbedryf gebore waar dit moes toesien dat die land se aartappels aan minimum vereistes voldoen. Van die vyf, was dit die eerste agentskap wat in sy nuwe rol begin funksioneer het, maar sommer vroeg al was daar teenkanting uit verskeie oorde.

Die Pretoriase hooggeregshof het reeds die tariefstruktuur van Nejahmogul Technologies and Agri Services ter syde gestel. In dié saak het Woodlands Dairy en Melk SA onder meer die manier waarop Nejahmogul op sy eie prysstruktuur besluit het en dit in die Staatskoerant aangekondig het, betwis.

’n Soortgelyke aansoek van ZZ2, die tamatieprodusenteorganisasie, NUK en die varsprodukte-invoerdersvereniging NPC het volgens regt. S.A.M. Baqwa in sy toestemming tot appèl ’n redelike kans op sukses. Die Pretoriase hooggeregshof het dié instansies se aansoek vroeër van die hand gewys.

Boere betaal reeds

“Ons stryd is nie soseer teen Prokon nie, maar teen die departement (van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling) en die manier waarop daar sonder ons deelname op ’n inspeksiediens besluit is en nou op ons afgedwing word,” het mnr. C.T. van der Merwe, voorsitter van NUK, by die vergadering verduidelik.

Groente- en vrugteprodusente se teenstand spruit uit die feit dat hulle op die varsproduktemarkte ’n 5% markfooi betaal, en ? soortgelyke fooi by supermarkte se verspreidingsdepots verhaal word. Dié instansies kan as “onafhanklike owerhede en aggregasiepunte” die wetlike gehaltestandaarde handhaaf. “Inspeksiefooie kan nou volgens dié aanvegbare wet gehef word op die plaas, dan by die varsproduktemark en dan weer by die supermark se verspreidingsdepot. Die aard van die ‘waardetoevoegingsprosesse’ maak dit moontlik en dit is mos nie billik en rasioneel nie,” het mnr. Tommy van Zyl van ZZ2 gesê.

Hy meen die konsep van gehaltebeheer by varsproduktemarkte moet ook beoordeel word teen die agtergrond van vryemarkbeginsels waar prys bepaal word deur vraag en aanbod en gehalte van die aanbod. Dit verseker dat produkte van swak gehalte nie lewensvatbare pryse verkry nie. Kopers bepaal dit direk met hul keuse. By supermarkte geld eiesoortige gehaltebeheerprosesse.

Hy meen die hele konsep van gehaltebeheer by varsproduktemarkte is onnodig aangesien vryemarkbeginsels verseker dat produkte van swak gehalte nie lewensvatbare pryse verdien nie.

Fakture ondanks hofsaak

Uieprodusente is verder omgekrap omdat Prokon hulle gefaktureer het vir inspeksies, al is die hofaansoek nog hangende. Baie boere by die vergadering het benadruk hulle sal nie betaal totdat die appèl aangehoor en uitspraak gelewer is nie.

Daarom het hulle hul dagbestuur toestemming gegee om met Prokon in gesprek te tree oor die fakture en prokureursbriewe wat dié organisasie vir boere stuur wat nie hul inspeksierekeninge betaal nie.

Ander produsente-organisasies het reeds met Prokon in gesprek getree en betalingsooreenkomste aangegaan. Mnr. Charl van der Merwe, voorsitter van Korkom, die aartappel-en-uieprodusentevereniging vir die Koue Bokkeveld en Ceres, het aan lede van NUK vertel dat sy lede reeds verlede jaar hul eerste rekeninge gekry het.

Hy sê Korkom hou die hofsaak van NUK, ZZ2 en die tamatieprodusente met belangstelling dop. “Ons hoop daar kom iets daarvan, maar ek weet nie of ons dit gaan regkry dat hulle nie inspeksie gaan doen op die markte nie – dit gaan plaasvind, so wie daarvoor gaan betaal, dit moet ons uitklaar.”

Help boere

Intussen onderhandel Korkom met Prokon oor maniere waarop die inspeksies in boere se guns kan tel. Die organisasie stel byvoorbeeld voor dat boere wie se produkte aan alle gehaltestandaarde voldoen, vir ’n tydperk kwytgeskeld word van inspeksies en ’n tipe gehaltegraderingsmerk kry. Só ’n merk kan dan help om ’n boerdery se handelsmerk op die markvloer te versterk.

Van Zyl hou egter voet by stuk dat nie Prokon, of enige van die ander organisasies wat aangestel is, direk deur boere betaal moet word nie. “Dis soos om ’n polisieman aan te stel om die verkeer te reguleer. Wanneer hy jou dan aftrek om jou bestuurslisensie na te gaan, vra hy jou om daar en dan vir sy dienste te betaal,” sê hy. “Dit staan die departement van landbou vry om die gehaltestandaarde volgens wetgewing en toepaslike regulasies te reguleer. Dit moet wettig en rasioneel en billik gedoen word en die befondsing daarvan kan nie op die produsente se skouers gelaai word nie.”