Hoewel daar na raming meer as 150 000 spazawinkels landwyd is en dit vir tot 40% van die verkope van sekere basiese verbruikersgoedere verantwoordelik is, is bitter min inligting oor neigings en verbruikersgedrag in hierdie sektor bekend. Primary Market Insights (PMI) het egter ’n stelsel ontwikkel wat spaza-data kan insamel, opberg en verwerk om inligting oor die sektor en bekom.

Die dryfkrag agter PMI is die maatskappye A2Pay en Executrac. Mnr. Bert Roux, uitvoerende hoof van A2Pay, het aanvanklik die skandeermasjiene en meegaande programstelsels (POS-stelsels) geskep wat soortgelyk is aan wat tans in supermarkte gebruik word, maar pasgemaak is vir die eise van spazawinkels. A2Pay het kragte gesmee met Executrac, ’n bemarkingstrategie-konsultasiemaatskappy, wat die intelligensie uit die data skep.

R30 000 per POS-stelsel

Die bou, onderhoud en die meegaande opleiding van so ’n POS-stelsel beloop ongeveer R30 000, wat dit buite bereik van die meeste spazawinkeleienaars plaas. Dit is ook te duur vir ander data-insamelaars wat die informele mark wou betree met soortgelyke produkte. Roux het egter die geleentheid gesien om die Jobs Fund te nader om die kapitaal vir die masjiene beskikbaar te maak.

“Ons ooreenkoms met die Jobs Fund is om een werk te skep per masjien wat geïnstalleer word, maar dit is nie die enigste waarde wat uit die projek getap word nie. Handelsmerk-eienaars wonder al jare lank wat in die spazawinkels gebeur,” sê mnr. Marne Dirks, uitvoerende hoof van PMI en Executrac.

Dirks het meer as 20 jaar ervaring as ’n bemarkingstrategie-konsultant in die informele sektor vir verbruikersgoedere-handelsmerke, onder meer Coca-Cola.

“Niemand weet hoe die gemiddelde inkopiemandjie lyk, hoeveel daar op ’n slag bestee word, watter handelsmerke verkies word, teen watter prys verskillende produkte verkoop word of wanneer hierdie produkte verkoop word nie.

Wins 20% verhoog

“Ons kan nou neigings begin sien en een van die verblydendste neigings is dat spazawinkels se omset en winsgewendheid binne 8 tot 16 weke ná die installering van die POS-stelsels met tot 20% verhoog. Slegs hierin is daar reeds werk- en welvaartskepping wat aan die Jobs Fund se voorwaardes voldoen.”

Die verhoging in produktiwiteit is te danke aan die ingeligte bestuursbesluite wat spaza-eienaars nou kan maak. Die stelsel verskaf omset, koste van verkope, wins en beskikbare voorraaddata aan die spaza-eienaar in ’n gebruikersvriendelike formaat.

Volgens me. Nomvula Mathe, eienaar van Mary’s Tuck Shop in Pimville in Soweto, het haar lewe verander toe sy bykans drie jaar gelede die POS-stelsel in Mary’s Tuck Shop geïnstalleer het. “Ek kan sien watter tyd van die maand verskillende produkte beter verkoop, watter produkreekse die beste saam met ander reekse presteer en op watter tydstip van die dag, week of maand watter produkte die beste verkoop. Ek kan dus proaktief beplan om verbruikerstevredenheid te verseker.”

Vars produkte ’n kwessie

Mathe verkoop ook kitskos wat sy op die perseel voorberei. Haar besigheid het oor die afgelope drie jaar dermate uitgebrei dat sy beoog om voor die einde van 2020 ’n bykomende perseel by haar spazawinkel by te bou om die winkel en kitskos-afdeling van mekaar te skei.

Tans verkoop sy nie vars produkte nie. “Ek sal daagliks na die mark moet gaan en ek het nie vervoer nie. Die verpakking sal ook ’n kwessie wees, want elke produk moet ’n strepieskode hê om geskandeer te word. As hierdie probleme opgelos kan word, sal ek dit verseker oorweeg om vrugte en groente te verkoop.”

Dirks skat dat ’n verdere 2 700 POS-stelsels in spazawinkels reg oor die land binne die volgende twee jaar geïnstalleer sal word. “Hierdie 4 000 POS-stelsels sal landswyd geïnstalleer word om statisties verteenwoordigend te wees van die totale databasis van spazawinkels.”

Besoek www.pminsights.co.za vir nog inligting.