Die Amerikaanse bedryf is dus grotendeels afhanklik van invoer, wat tans grotendeels uit Mexiko voorsien word. ’n Aantal Suid-Afrikaners het egter na die onlangse PMA Fresh Summit konvensie opgetrek om met belanghebbendes in die Amerikaanse avo-bedryf skouer te skuur. Die konvensie het van 18 tot 21 Oktober in Orlando in die Amerikaanse deelstaat Florida plaasgevind.

Me. Lindie Stroebel, hoofbestuurder van PMA Suider-Afrika, sê dat Suid-Afrika baie goed verteenwoordig was. Sy was trots dat die Minister van Landbou, uitvoerders, produsente, en diensverskaffers almal verteenwoordig was. Suid-Afrika voer tans net 4% van sy vars vrugte na Amerika uit.

Hierdie syfer kan in die toekoms groei aangesien die uitbreiding van sitrusuitvoer van ’n wyer streek as slegs die Wes-Kaap eersdaags moontlik is. Daar is ook potensiale marktoegang vir avokado-uitvoer na Amerika. ’n Paar Suid-Afrikaanse maatskappye het die koneferensie bygewoon spesifiek met die doel om verhoudinge in die avobedryf in Amerika uit te bou.

Een van hierdie produsente is ZZ2, wat onlangs in bloubessies, kersies, amandels en avo’s belê het. Mnr. Clive Garret, bemarkingsbestuurder by ZZ2, sê hul primêre fokus vir die bemarking van hierdie produkte is die uitvoermark. “Suksesvolle internasionale handel gaan oor verhoudinge en hier het ons die geleentheid gehad om daardie verhoudinge te bou en te versterk en selfs om nuwe geleenthede te ondersoek. Dit was beslis die moeite werd om te gaan, want hierdie verhoudinge en geleenthede het beïnvloed ons besluite in die besigheid op Suid-Afrikaanse bodem.”

Dit is nie net geleenthede wat daar te bou was op die PMA se konvensie nie. Clive meen die nuwe tegnologie wat daar ten toon gestel is, was iets om te aanskou. “Wat my die meeste beïndruk het, was die SafeTraces-tegnologie.”

SafeTraces is ’n gel met ’n smaaklose, reuklose eienskap waarin ’n unieke DNS-kode geplaas word. Hierdie gel word dan op vrugte geplaas wanner die vrugte gewas of gepoleer word. Hierdie DNS-kode bevat al die produsent en vrug se inligting. Die toestel om hierdie data te onttrek in die supermark of iewers anders in die waardeketting is betreklik goedkoop en maklik bekombaar.

Die integriteit van naspeurbaarheid sal dus aansienlik verhoog word, omdat die naspeurbaarheid-data nie meer op die verpakking is nie, maar op die vrug self en basies onmoontlik is om te verander. Vir nog inligting, besoek www.safetraces.com of kontak Sky Johnson per e-pos by sky@safetraces.com.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.