Volgens mnr. Roelf Pienaar, -uitvoerende hoof van Tru-Cape, sal dit die magdom papierwerk wat deur internasionale uitvoer--regulasies benodig word, baie vergemaklik. Dit sal ’n groot deel van die papierwerk in digitale formaat omskakel. Dié stap sal waarskynlik in ’n kostebesparing omgeskakel kan word wat tans broodnodig is in die bedryf. 

Buiten die logistieke probleem van hawens wat nie op volle vermoë funksioneer nie, en die Covid-19-pandemie wat die beskikbaarheid van vraghouers aan bande gelê het, het die sterker rand die afgelope paar maande ook die marges van uitvoervrugte benadeel.

“ ’n Swakker rand sal verkope aanhelp. Daar is heelwat onsekerheid of die rand verder sal verswak soos wat ons sedert middel Junie gesien het en of dit weer sal versterk tot onder R14 teenoor die dollar. Dit is ’n ongewenste situasie en ons verkies ’n stabiele rand, want hierdie wisselvalligheid bemoeilik beplanning.”

Volgens Pienaar vorder uitvoer baie goed. “Die huidige uitvoervolume is reeds 63% van verlede jaar se totale volume. Tru-Cape het in die besigste weke vanjaar meer as 600 000 kartonhouers na 105 lande uitgevoer. Dit is gelyk-staande aan 15 vraghouers van 30 ton per dag. Appels word ook van vier van Suid-Afrika se groot hawens, naamlik Kaapstad, Ngqura, Gqeberha en Durban, uitgevoer. Rekordhouding is uiters belangrik en enige hulpmiddel wat dit doeltreffender maak en dit vereenvoudig, is baie welkom.”