As Suid-Afrika se mededingers, soos die vrugtebedrywe van Chili en Argentinië, ’n land vir marktoegang besoek, gaan hul president, minister van landbou en dikwels ook die betrokke premier saam, het mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging, op vanjaar se Farmer’s Weekly Agribusiness Africa-konferensie in Kempton Park gesê.

“Ons kan niemand kry om saam met ons te gaan nie. Dit is onmoontlik om die betrokke politici te kry om ons in die markte te help,” het Chadwick gesê.

Volgens hom het Suid-Afrika van die beste vrugtenavorsers ter wêreld, sy vrugteboere is veerkragtig en van wêreldgehalte, maar om uitvoer uit te brei, is politieke ondersteuning nodig.

Hy het voorbeelde genoem van marktoegangsprosesse wat sloer.

Die sitrusbedryf het in Oktober 2018 bevestiging gekry dat wyer toegang tot die Amerikaanse mark binnekort goedgekeur sou word, maar wag steeds en hoor dat dit “ ’n politieke kwessie” is. Vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf kan dié toegang potensieel inkomste van R1,028 miljard en 3 750 werkgeleenthede beteken, het Chadwick gesê.

Argentinië en Uruguay het intussen toegang vir suurlemoene en ander produkte tot Amerika gekry.

Suid-Afrika het reeds 11 jaar gelede met ’n proses begin om vir sy avokado’s toegang tot Amerika te kry. Terwyl dit sloer, kon Peru intussen avokado’s soontoe begin uitvoer en homself daar vestig.

Wat China betref, het Suid-Afrika in 2003 aansoek gedoen om appels en pere uit te voer. Die appelprotokol is in 2015 afgehandel, maar die peerprotokol kan nog minstens vier jaar duur.

Justin Chadwick,
Mnr. Justin Chadwick. Foto: Carien Kruger

Chadwick het gesê Suid-Afrika het ’n voorranglys waarvolgens aan marktoegang tot China vir verskillende vrugte gewerk word, met die aanname dat dit vir elke produk vyf jaar sal duur.

Hier volgens kan pere in 2020 toegang kry, wat Chadwick twyfel teen dan al gaan gebeur, avokado’s in 2025, mango’s in 2030, steenvrugte in 2035, persimmons in 2040, bloubessies in 2045 en kersies in 2050.

“Ons kan nie op dié manier voortgaan nie, ons moet ’n ander manier vind.”

Terwyl Suid-Afrika net met een produk op ’n keer met China kan werk, werk Australië met drie. Om dít te verander, vereis politieke ingryping, sê Chadwick. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.